UITVERKIESING - Sarel Visser


>> laai die dokument af in Word-formaat

DIE LEER VAN DIE UITVERKIESING - DEEL 1
 

Daar is baie negatiewe persepsies en opvattings oor die leer van die uitverkiesing wat dit 'n onderwerp maak waaroor baie min geestelike leiers lering wil gee, bv: 

  • dat God goedsmoeds mense bestem vir die ewige verderf;

  • dat God in sy uitverkiesing of verwerping, absoluut willekeurig te werk gaan;

  • dat die mens in sy keuse vir of teen Jesus Christus niks meer as 'n marionet is, wat totaal deur God beheer word nie;

  • dat die mens tot die dag van sy dood nie regtig weet wat sy ewige lot sal wees nie;

  • dat die uitverkiesing 'n sombere lewensuitkyk kweek wat gelowiges van alle vreugde stroop;

  • dat die uitverkiesing 'n verborge misterie van God is, waarvan ons niks weet nie. 

1.      Wat beteken die uitverkiesing? 

Die Woord bied nie aan ons 'n uitgewerkte sisteem rondom die uitverkiesing nie.  Ons moet weet dat die uitverkiesing bokant ons verstaanshorison is.  Ons kan net vanuit die Woord leer wat God oor Sy raadsplan openbaar in Christus.  Ons mag nie meer as die Woord sê nie en moet altyd alles binne verband en konteks verklaar. 

a.  Vanaf Abraham verkies/kies God Israel as volk uit om Sy Wil of verlossingsplan te help realiseer.  Gen.12:1-3;  18:17-19;  Deutr.7:6-8;  Jes.41:8-10 

b.  God kies ook sekere mense vir ‘n spesifieke amp of funksie.  Num.17:5;  1 Sam.10:24;  16:11-13;  Jes.42:1vv;  Luk.9:35;  Joh.15:16;  Hand.9:15. 

c.  Sekere gedeeltes impliseer ‘n duidelike uitverkiesing deur God tov redding.  Die gedagte aan 'n ewige besluit rondom verlossing, veroorsaak gewoonlik spanning.  Rom.9-11;  Ef.1:3-6;  2 Tim.1:9-10. 

Die uitverkiesing kan, net soos die evangelie, net vanuit geloof werklik aanvaar word.  Deutr.29:29;  1 Kor.2:1-16.  Ons moet dit egter op gesag van God aanvaar. 

Kernaspekte waarna ons gaan kyk, is:  Wie is die God wat uitverkies? Wat is die rol van Jesus Christus in die uitverkiesing?  Wat is die effek van die sondeval op die vrye wil van die mens?  Kan ek regtig seker wees? Wat is die verband tussen die uitverkiesing en getuienis teenoor ongelowiges?  Wat is die positiewe doel van die uitverkiesing? 

2.      Wie is die God wat uitverkies? 

  • Die uitverkiesing beklemtoon die majesteit van die Almagtige God.  God se Soewereiniteit en volkome vryheid hoef nie teenoor mense verdedig te word nie.  Job 38:1-5, 40:3-5, 42:2-3;  Jes.55:8-9.  Die redding van mense is uitsluitlik die inisiatief van God alleen.  Die mens self kan geen wesenlike bydrae lewer nie.  1 Kor.1:27-31.

  • Die straf en toorn van God teenoor sonde is nie wreed of onregverdig nie maar vloei uit God se heiligheid en regverdigheid.  God haat wel die sonde maar het die sondaar lief.

  • Die mense wat verlore gaan is volledig aanspreeklik.  Hulle dra alleen die skuld vir die sonde. God waarsku die mens vooraf deur duidelike grense te stel - Gen.2:16-17.  Die mens sou die lewe wat in God is verloor deur ongehoorsaamheid.  Satan verlei die mens met SOOS GOD WEES.  Hy wil 'n staatsgreep bewerk.

  • God tree nie willekeurig of wispelturig op nie.  Num.23:19;  Hebr.13:8.  Ons verdien nie God se ingrype na die sondeval nie.  Verlossing bly onverdiende genade.  Sy diepste motief vir die uitverkiesing is Sy ontfermende liefde vir sondaars.  God het geen behae in die dood van sondaars nie.  Eseg.18:33;  2 Petr.3:9.  Hy bly vir altyd getrou aan Sy beloftes.  2 Kor.1:19-20;  2 Tim.2:11-13.  Daarom bewaar Hy selfs 'n oorblyfsel van Israel.

  • God se Soewereine vryheid vervang enige verdienstelikheid van die mens ten opsigte van redding en vind gestalte in Sy oneindige, onvoorwaardelike liefde in Christus. Juis deur Israel se verkiesing bevestig God dat Hy nie op grond van waarde of verdienste verlossing moontlik maak nie.  Hy wou juis deur Israel alle volke bereik.  Israel moes die lig vir die nasies wees.  Jes.60:3. 

3.      Wat is die rol van Jesus Christus in die uitverkiesing? 

  • Die uitverkiesing en verlossing in Jesus Christus hang ten nouste saam.  Ef.1:4-6;  2 Tim.1:9-10;  1 Petr.1:19-20.  Jesus Christus maak deur Sy kruisdood en opstanding die uitverkiesing moontlik en waar.  Dit word reeds voor die skepping deur God besluit.  Joh.3:16-19;  2 Kor.5:19; Tit.2:11-14.  Die skepping self gebeur ook deur Jesus Christus.  Kol.1:15-20.

  • Vanuit Jesus Christus weet ons dat die uitverkiesing net God se genade is.  Jesus vergestalt God se ontfermende liefde in Sy persoon.  1 Joh.4:10.  Daarom is Christus die enigste weg tot versoening met God.  Joh.14:6.

  • Ons kan slegs deel kry aan die verkiesing tot redding deur geloof in Jesus Christus.  Christus is die enigste Middelaar tussen God en mens.  Hand.4:12;  Rom.5:6, 8, 21;  Ef.1:9-11;  1 Tim.2:5.  Geloof snoer almal saam in 'n nuwe gemeenskap in Christus.  Christus is die Hoof van hierdie gemeenskap (liggaam).  Ef.1:22-23;  Kol.1:18.

  • Die uitverkiesing maak ons nie dooie marionette in God se hand nie, hoewel God alles vooruit beplan het en weet.  Ps.139:16.  Christus voer God se ewige ontwerp uit in tyd en ruimte.  Die uitverkiesing in Christus bied aan elke ware gelowige meer sekerheid van verlossing as ons eie wispelturige keuses. 

DIE LEER VAN DIE UITVERKIESING - DEEL 2 

4.      Die effek van die sondeval op die vrye wil van die mens. 

a.  As God Almagtig is, waarom het Hy nie die sondeval verhoed nie?

  • God skep die mens met 'n vrye keuse of wil om werklik te kan kies om God lief te hê al dan nie.

  • God waarsku die mens vooruit oor ongehoorsaamheid.  Gen.2:16-17

  • Die mens alleen dra die skuld vir verlorenheid.

b.  Die 'vrye wil'van die mens. 

Die meeste godsdienste gee aan die mens 'n belangrike en beslissende aandeel in sy eie verlossing.  "Jy kry in hierdie lewe niks verniet nie."  Prestasie, "performance" en godsdienstige aktiwiteite speel ook tans 'n belangrike rol in die kerk.  Die mens se pogings tot selfredding is egter soos die mite van Sisuphos in die Griekse mitologie.  Hy moes telkens 'n groot rots na die top van 'n berg rol, sonder sukses. 

Die vrye wil van die mens speel 'n deurslaggewende rol in die verstaan van die mens se aandeel in sy redding.  Daar is basies twee beskouings oor die vrye wil van die mens na die sondeval:  dié wat handhaaf dat die mens ‘n vrye wil het om te kan kies vir die goeie (vir God) en dié wat leer dat die mens onder geen omstandighede self kan kies nie omdat die wil van die mens totaal verdorwe is.  Rom.3:11 

Pelagius, die Remonstrante en die Arminiane was voorstanders dat daar genoeg vryheid in die wil van die mens oorgebly het om te kan kies vir die goeie.  Hulle interpreteer dan die uitverkiesing as blote voorkennis van God oor wie reg en verkeerd sou kies. 

Die voorstanders dat die mens totaal gebind is in sy wil deur die sondeval, is hoofsaaklik toeloë uit die Gereformeerde kring soos Augustinus, Luther, Calvyn en andere.  Hulle leer op grond van die Woord dat die totale redding van die mens God se werking is, omdat die mens se verstand en wil heeltemal verdorwe is na die sondeval.  Rom.5:12; Ef.2:3. 

Die uitverkiesing is dus die oorsaak van geloof en gehoorsaamheid in mense.  Vryspraak kom dus deur geloof, uit genade.  Ons word NET UIT GENADE gered.  Rom.4:1-5;  Gal.2:19-21.  Die uitverkiesing beteken dat God vooruit guns deel met iemand.  God alleen is verantwoordelik vir die redding van mense.  Joh.6:37,44;  Rom.9:13,16;  Ef.2:8;  2 Tim.1:9.  Die Heilige Gees is intens betrokke by die vesting van geloof in ons.  Daarom kan ons geloof vasstaan in die persoon van God Drie-Enig.  God self hou ons geloof instand.  Joh.6:37-39;  Fil.1:6. 

Die uitverkiesing trek egter nie 'n streep deur ons verantwoordelikheid nie.  God red ons en roep ons tot 'n nuwe lewe van gehoorsaamheid.  Fil.2:12-13;  Tit.1:12-14.  Ons moet bly dien in die wêreld met ons hele lewe.  Ef.1:4;  2 Tim.1:9;  1 Petr.2:9. 

5.      Kan ek dan regtig seker wees? 

  • Ons as mense probeer alles in ons vermoë doen om onsekerheid uit te skakel.  Ons twyfel dikwels of ons geloof in Jesus Christus genoeg is.

  • Ons sekerheid is volledig verbind aan Jesus Christus se versoening, nie aan gevoel of godsdienstige aktiwiteite nie.  Alles wat God wou oordra deur die uitverkiesing is openbaar aan ons deur Jesus.  Hand.16:31;  Rom.10:13;  Fil.4:1-3.

  • Ons bevestig ons eie sekerheid deur anders te lewe.  Ons doen goeie dade en dra vrug uit dankbaarheid.  Die Gees vestig die nuwe lewe in ons.  2 Kor.5:17;  Gal.5:22, 25;  1 Joh.3:18-19.

  • Ons het die verantwoordelikheid om onsself voortdurend te toets of ons in die geloof lewe.  2 Kor.13:5.  Ons moet God ook bly vertrou dat Hy die geloof in ons instand sal hou.  Fil.1:6;  Hebr.12:2.

Ons kan dus altyd seker wees van ons verlossing in Jesus Christus. 

6.      Die uitverkiesing en ons getuienis aan die wêreld / ongelowiges. 

Die laaste opdrag van Jesus bly altyd om die evangelie aan die hele wêreld te verkondig.  VB Mat.28:19-20;  Mrk.16:15-16.

Christus se Versoening deur die kruis en die opstanding is voldoende vir alle mense.  Joh.3:16;  2 Petr.3:9;  1 Joh.2:2.  Net dié wat glo word egter gered, nie alle mense nie.

Ons verstaan dit beter deur te besef dat ongeloof die mens se keuse of skuld is.  God werk nie ongeloof in mense nie.  Jak.1:13.  God is ook nie die oorsaak van sonde nie.  1 Joh.1:5-7.  Uitverkiesing veroorsaak dus nie ongeloof nie, ongeloof word gewerk deur ongehoorsaamheid.  1 Sam.15:22;  Mat.23:37;  Hebr.4:2.  Die eindoordeel gebeur dus op grond van wat ons elkeen met die evangelie doen.  Mat.25:34-40. 

Die uitverkiesing van Isak bo Ismael en van Jakob bo Esau gaan nie oor persoonlike heil nie, maar oor wie draers van God se openbaring sal wees.  Persoonlik dien Ismael en Esau God nie, daarom verwerp God hulle.  Mal.1:2-5.  Israel word verwerp vlgs Rom.9:14-32 omdat hulle nie geregtigheid najaag uit geloof nie.  Israel fokus net op werke om hulle saak met God reg te stel.  God kies nie willekeurig nie, maar in en deur Jesus.  As jy die weg deur Christus verlaat, kan jy nie bly reken op God se barmhartigheid nie.  God wil altyd Sy belofte vervul aan dié wat glo.  Rom.4:16.  Jesus is die JA op alGod se beloftes.  2 Kor.1:20.  Ons het God dus lief omdat Hy ons eerste liefgehad het.  1 Joh.4:19. 

Die uitnodiging in Mat.11:28 bly van krag.  Ons moet bly getuig want die evangelie het 'n roepingskarakter.  Mat.7:7-8;  Rom.10:9-13.  As jy antwoord in geloof, is jou naam in die boek van die lewe.  Joh.10:28-30.  Dié roepingskarakter stel elkeen wat hoor voor 'n keuse, die beslissingskarakter van die evangelie.  Joh.3:18; Open.20:11-15. 

7.      Die positiewe uitkoms van die uitverkiesing. 

  • Daar is redding en uitkoms vir alle mense moontlik.  God roep sondaars uit die duisternis na Sy lig toe.  1 Petr.2:9.  Dit gebeur uit genade, nie op grond van ons eie inisiatief nie.

  • Ons redding staan onherroeplik vas in die versoening van Jesus Christus en deur die persoon van die Heilige Gees in ons.  Jesus en die Gees is ons waarborg.  Ef.1:13-14.  Ons godsdiens behoort dus nie krampagtige pogings te wees om ons eie redding te verseker nie.  God bou Sy gemeente self.  Mat.16:18.

  • Ons het die opdrag om invloed in die wêreld uit te oefen deur geloof.  Dit vra ons hele menswees, om volledig anders te lewe tot eer van God.  Fil.2:12;  1 Petr.1:16.
     

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die webruimte (www.heuning.co.za)