SEWE KRUISWOORDE

Aan die kruis praat Jesus sewe keer. Die sewe kruiswoorde word as volg bymekaargevoeg uit die vertellinge van die verskillende evangelies:

1)
     
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34)
2)
      “ Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43)
3)
      “Daar is u seun... Daar is jou moeder.” (Joh. 19:26-27)
4)
      “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46, Mark 15:34) (Die Boodskap: waarom het U my alleen gelaat)
5)
      “Ek is dors.” (Joh. 19:28)
6)
      “Dit is volbring!” (Joh. 19:30)
7)
      “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” (Luk. 23:46) (Die Boodskap: My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U”

 “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk. 23:34)

Die eerste kruiswoord gaan oor vergifnis.
Vergifnis is waaroor die kruis gaan. Dis waarvoor Jesus gekom het. Vergifnis begin by God.
Ons het vergifnis nodig, want ons het almal gesondig en is vêr van God af, daar is ’n kloof tussen ons en God a.g.v. ons sonde wat ons nie op ons eie kan oorsteek nie.
Jesus het die prys kom betaal met sy lewe, met sy liggaam en sy bloed, sodat ons vry kan wees, sodat ons verhouding met God herstel kan wees.

Kol 2:14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.

Die kruis is die brug van vergifnis waarmee ons die kloof tussen ons en God kan oorsteek. As Jesus aan die kruis sê: “Vader, vergeef hulle”, bid Hy nie net vir diegene wat Hom kruisig nie, Hy bid vir elkeen van ons, want dit is as’t ware ons sonde wat Hom kruisig. As jy die enigste persoon op aarde was, sou jy die een wees wat die spykers moes inkap.

“ Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” (Luk. 23:43)

Die tweede kruiswoord gaan oor geloofsekerheid.
Die misdadiger aan die kruis langs Jesus besef dat dit net deur Jesus is wat daar vir hom redding kan kom. Hy roep uit na Hom en Jesus gee hom die sekerheid dat hy die ewige lewe sal hê / in die hemel sal wees / gered is / by God sal wees.

Ons kan (en moet) ook hierdie sekerheid hê wanneer ons Jesus aanneem as Verlosser, wanneer ons na Hom uitroep en in Hom glo en Hom vertrou.  

Die beloftes in die Bybel is die basis vir die sekerheid wat ons kan hê:

Rom 10:11 Niemand wat in Hom glo sal teleurgestel word nie.

1 Joh. 5:13 Hierdie brief skrywe ek sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.

Joh. 6:47 Wie in My glo, het die ewige lewe

Joh. 3:16 Sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Hand 16:31 Glo in die Here Jesus,  en jy sal gered word.

“Daar is u seun... Daar is jou moeder.” (Joh. 19:26-27)

Die derde kruiswoord gaan oor troos en versorging.

Self in Sy grootste pyn, verwerping, vernedering is die nood en behoeftes van die mense om Hom vir Jesus belangrik.

So is ons persoonlike versorging ook vir Hom belangrik en weet ons dat Hy sorg vir ons daaglikse brood, vir ons veiligheid, vir ons inkomste, vir ons gesondheid, vir ons geestelike behoeftes, ens. Hy is ons Herder wat ons lei en na ons belange omsien. 

Hy gee ook Sy Gees aan ons as trooster en helper, sê die Woord (Joh. 14:26) 

“My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:46, Mark 15:34) (Boodskap: waarom het U my alleen gelaat)

 Aan die kruis beleef Jesus dat God vêr is, dat Hy Hom alleen gelaat het. Dit is die gevolg van sonde – dit bring skeiding tussen ons en God / dit isoleer ons van God:

Jes 59:2 Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie en nie na julle wil luister nie

Omdat AL ons sonde op Jesus was aan die kruis (omdat Hy sonde vir ons geword het / ’n vervloekte in ons plek), het Hy Godverlatenheid beleef. Jesus se Godverlatenheid is ook die prys wat Hy moes betaal sodat ons in God se teenwoordigheid kan leef, nou en in die ewigheid.

“Ek is dors.” (Joh. 19:28)

Die vyfde kruiswoord beklemtoon Jesus se intense lyding. Ons moet onthou dat hoewel Jesus ten volle God was, was Hy ook ten volle mens, en was die lyding wat hy deurgemaak het eg en werklik.

Dink aan die pyn wat Hy moes verduur het vandat Hy oorgegee is om gemartel en gekruisig te word.
Terdoodveroordeeldes is naak aan ’n paal vasgemaak waar hulle met houtstompe of met kort swepe waaraan balletjies met skerp stukke been vasgemaak is. Dit het gelei tot diep wonde, geweldige bloeding en intense pyn.
Daarna moes die veroordeelde die kruis dra tot by die plek van teregstelling. Al hierdie marteling kon meebring dat ribbes gebreek is, wat dalk ’n long kon stukkend steek en lei tot asemnood. Die gebrek aan kos en water tydens die verhoor en marteling kon by nou ook al ontwatering meegebring het. Saam met die kwaai bloedverlies het die liggaam gewoonlik in ’n skoktoestand ingegaan wat die bloeddruk laat daal het en die hartklop laat afneem het. By hierdie tyd sou ’n slagoffer al dikwels in ’n koma gegaan het. Die hoofoorsaak van die dood van ’n gekruisigde was gewoonlik asemnood, veral omdat hy sou sukkel om asem te haal omdat hy aan sy arms opgehang was. As jy jou  bene kon reguit maak, sou dit dalk help, maar die gekruisigde is só  vasgemaak dat sy bene gebuig was en hy dit nie reguit kon maak nie; dit sou in elk geval baie pynlik gewees het omdat daar spykers deur sy voete ook was.

Jes. 53:4 Tog het Hy ons lyding op Hom geneem (Boodskap: Hy het die pyn ervaar wat ons eintlik moes ervaar)

“Dit is volbring!” (Joh. 19:30)

Tetelestai. Die sesde kruiswoord is die oorwinnings woord.

Dit is die hoogtepunt van die kruisiging, want hiermee sê Jesus dat Hy dít waarvoor Hy gekom het, voltooi het, sy werk is afgehandel. Hy het betaal vir die sonde van die mensdom.

Tetelestai is ’n rekenkundige term wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van opgestapelde sonde wat ons teen God het, nou deur Jesus ten volle betaal is. Daar is geen skuld meer teen ons nie. The slate is clean!

 “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” (Luk. 23:46) (Boodskap: My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U”

Die finale woorde voordat Jesus sterf is woorde van oorgawe. Sy sterwe is egter nie die einde nie, want op die Sondagoggend volg die oorwinning wat Jesus oor die dood het. Hy gee ook daardie oorwinning vir ons.

Ons kan ook met sekerheid onsself oorgee aan die Vader (nou en wanneer ons sterf), want Jesus het daardie pad vir ons gereed gemaak. Hy het gegaan om vir ons ’n plek te voor te berei in die hemel en ons weet dat God ons daar sal ontvang wanneer ons sterf.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die webruimte (www.heuning.co.za)