KOPSKUIF

Het jy al gehoor van ’n kopskuif?  ’n Mind-shift. ’n Kopskuif verwys na nuut dink, anders dink, miskien iets aanvaar en aangaan met jou lewe, of dalk juis om ’n nuwe rigting in te slaan, of om nuwe gewoontes aan te kweek of om slegte gewoontes te laat staan.

Daar is ’n paar dinge wat my denkpatrone totaal verander het. So bv. het ’n boekie met die naam van “Half Time” van Bob Buford, my totaal nuut laat dink oor ouer word, en die oorgang van jonk na middeljarig na bejaard.  “Rich Dad, Poor Dad”, ’n ander boekie, het my gewys dat my kinders nie “boksie”-kinders hoef te wees nie.

Kopskuiwe wat ek al moes maak sluit o.a. in:
·         Ouer word is normaal en onvermydelik; nou sien ek ook uit na “eendag as ek oud is”. Mense gaan dood van siektes, alhoewel ons soms lank bid vir genesing en aan die Here se beloftes vashou. Die lewe gaan egter aan daarna – dis ’n realiteit.
·         Ek moes my kinders leer om nuut te dink oor Suid-Afrika, want ons gaan hier móét bly. Ons moet almal die beste van die saak maak. Dinge verander en ons het nie beheer daaroor nie. Het jy al die boekie “ Who moved my cheese” gelees? Dit sê eenvoudig: verandering kom en jy moet “adapt or die”.

Ek sien ’n TV-insetsel oor ’n dame, Sandra Pienaar. Op 43 is sy die oudste branderroei kampioen in die wêreld. Sy is baie aktief in sport en blink uit, al kompeteer sy teen die jongste en fiksste meisies. Sy het op ’n keer gesê: “What motivates me? Ordinary people doing extraordinary things”. Weet jy hoekom vertel ek jou haar storie? Haar kolon is  verwyder na ’n siekte, sy was baie swak en kon glad nie opstaan in die oggend nie, tot op ’n dag dat sy gesê het: Ek kan nie ’n “victim”  bly nie. Ten spyte daarvan dat sy tot twaalf keer per dag toilet toe moet gaan, het sy die hoogste sport bereik. Sy het gesê: “Ek aanvaar dat dit is hoe dit is en ek sal aanhou totdat ek gewoond is daaraan en daarmee kan saamlewe”. Na twee maande was dit vir haar “normaal”. Toe word sy wêreld kampioen.

Fil. 3:13
Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

Sien jy hierdie kopskuif waarvan die Bybel hier praat? History is history. Let bygones be bygones. Ons moet baie dinge aanvaar in die lewe. Die teksvers sê eintlik dat daar ’n lewe voor vandag is / was. En daar is ’n lewe na vandag. Vandag is bitter kort, maar ek kan vandag besluite maak wat my lewe môre sal verander. Besluite wat uitgestel word raak maklik verlore en word dalk nooit geneem nie. Iemand het gesê: “Yesterday is history, tomorrow is a mystery, but today is a blessing” Daar kan niks aan gister verander word nie, net aan môre – met vandag se besluite.

Kom ons kyk bietjie na ’n paar dinge wat geskiedenis is, dinge wat waarskynlik nooit weer dieselfde sal wees nie:
·         Die ekonomie sal nie weer word soos wat dit 30 jaar gelede was nie. Dis onwaarskynlik.
·         Die regering gaan nie verander nie.
·         Hendrik Verwoerd, John Voster, Malan en PW is lankal dood. Hulle kom nie terug nie.
·         Niks is “regverdig” nie, ook nie die regstelsel nie.
·         Kerk het verander.
·         Jy word ouer!
·         Daar bestaan nie iets soos gratis medies nie.
·         Jy gaan nié die lotto wen nie. Jy het in elk geval net ’n 1 uit 14 miljoen kans.
·         Jou gesondheid is dalk nie meer wat dit was nie en sal dalk nooit weer wees nie.

Hierdie goed is alles die realiteit van ons lewens.

Pred. 9:11
Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.

Dis nogal ’n vreemde stelling. Waar pas ek dan in? Lyk my wat jy met môre gaan maak hang van jou denke af en nie net van jou vermoëns nie. Dink vir ’n slag nuut en dwing jouself om anders te dink en te voel.

Eks 16:1-3
Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

Op pad na die land van melk en heuning haak die Israeliete vas by mismoedigheid en negatiwiteit en dit keer hulle om vorentoe te beweeg. Einde ten laaste neem dit hulle 40 jaar i.p.v. ’n paar maande om Kanaän te bereik. Oppas vir negatiewe invloede, doemprofete, ’n gebrek aan geloof en ’n getob oor onnodige gemors.

Wat hou vandag in?
·         In hemelsnaam: LEEF! Een dag het 24 uur vir dink en doen. Gebruik dit.
·         Gister se vreugde is weg, môre s’n kom nog.
·         ’n Gewoonte neem ’n paar weke om te vestig. Begin dus so gou moontlik met goeie gewoontes.
·         Wees dankbaar vir wat jy het, maar ook vir wat jy nié het nie, dit kon dalk vir jou rampspoed gebring het. Sê nou net jy het vandag net dit gehad waarvoor jy gister dankie gesê het?
·         Smee vriendskappe – vandag nog!
·         Maak vrede waar jy moet – vandag nog!
·         Moenie wag tot môre voor jy iets mooi in die lewe soek nie, dalk wag jy vir altyd.
·         Werk aan jou verhouding met God – vandag nog!

Maak ’n verskil met jou glimlag. Pred. 8:15: Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe wat God hom in hierdie wêreld gee.
 

Hoe lyk môre?
·         Onbekend. Dit breek dalk nooit aan nie. Dis ’n onbekende misterie.
·         Dit kan goed wees, of sleg.
·         Dis kan ’n geleentheid wees, of ’n vermorsing.
·         Môre is die uitvloeisel van vandag se besluite.
·         Dalk is dit net nóg ’n dag, maar dalk is dit beter as wat jy ooit kon dink.

Jy leef net so 29200 dae; dis 4160 weke, 960 maande, 80 jaar. Hoe lank wil jy wag voor jy iets beter van jou lewe maak?

Maak vandag jou kopskuif:
·         Dank die Here vir jou lewe / lewensmaat / kinders
·         Sê dankie vir al die goeie dae – ook die slegtes. Die Here bly in beheer.
·         Dink wat jy geleer het en bou daarop voort.
·         Aanvaar die verlede met al sy goeters, maar besluit om dit agter te laat.
·         Strek jou uit na wat voorlê en besluit om dit te geniet.

Hier is ’n paar kopskuif-verse:

Rom 12:2
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

2 Kor. 4:16
Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

Ef. 4:23
Julle gees en gedagtes moet nuut word

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)