LAKSMAN

Tweeduisend jaar gelede word die doodstraf opgelê en voltrek op Jesus Christus. Kruisiging was ‘n wrede dood en die mens se liggaam is deur oneindige pyniging in die proses. Die soldate was die laksmanne wat die spykers deur Sy gewrigte en voete moes kap. Ek wonder nogal hoe dit vir hulle was.

Wil jy graag hê die doodstraf moet terugkom? Jy weet mos, iemand word wreedaardig vermoor, ‘n jong dogter word sinneloos verkrag en vermoor, ‘n bejaarde egpaar word vermoor vir ‘n paar selfone en ‘n bietjie kontant. Dit kon immers jou ouers gewees het, of jou kind. Ek dink ‘n onderwerp soos hierdie wek onmiddellik ongelooflike negatiewe emosies by ons almal op omdat ons in ‘n land bly waar wetteloosheid seëvier en waar die regstelsel ons net nie meer effektief beskerm nie. Voorts glo ek dat die toestand in ons land tans uitroep na ‘n effektiewe strafstelsel om dinge net weer onder beheer te bring, maar die meeste van ons glo dat die regering dit gestop het omdat ons voel hulle sou self daaronder moes deurloop. Die punt is, dit gaan sleg met ons strafstelsel en iets moet daadwerklik gedoen word, en vinnig ook.

Meer as 4200 mense het tussen 1910 en 1989 aan die galg gesterf, waarvan die helfte tussen 1978 en 1988 gesterf het, toe apartheid op sy felste was. Die gevalle wat die meeste opspraak verwek het was Daisy de Melker en Maria Lee, twee berugte gifmoordenaars. Daisy de Melker is die oggend van 30 Desember 1932 tereggestel.

Daar is baie te sê oor die doodstraf en daar sal altyd twee pole wees, sommige daarvoor en sommige daarteen. Ek weet self nie aldag waar ek staan nie. So paar jaar gelede was daar ‘n gewapende roof by ons huis en dit vang mens nogal onkant. Saam met kinders was ons 20 mense in ons huis en twee rampokkers kom op ‘n redelik moeilike manier in ons huis in, skiet ‘n skoot met ‘n pistool, neem ‘n klomp goed, dryf die kinders tot absolute histerie en vlug absoluut lafhartig uit die huis uit met hulle buit. Gelukkig het niemand seergekry nie, en ek en vroulief het agterna gevoel dat ons nie regtig getraumatiseer was nie, omdat ons self bykans niks verloor het nie.

Tot ‘n paar dae later, toe ‘n vreemde gevoel oor my kom van: As ek jou in die hande kan kry, sal ek jou wreedaardig om die lewe bring en jou liggaam iewers langs die pad gaan los. En ek sal daarmee wegkom want die regstelsels is te lamsakkig om my te vang. Om een of ander vreemde rede het ek heel gemaklik met die gedagte gevoel, ‘n klomp mooi maniere bedink om dit op ‘n manier te doen wat die booswig heel gemaklik sal laat voel dat ek sommer privatiseer wanneer ek hom die “doodstraf” gee.

Ook maar lekker stupid! Sou ek lekker slaap agterna? Sou ek nooit bekommerd wees dat dit my gaan inhaal nie? Sou ek kon oudword met die gedagte dat ek iemand se lewe geneem het wat slegs ‘n kamera, ring en horlosie van my geneem het? Of sou dit my dalk noop om sommer ‘n selfaangestelde laksman  te word en dan sommer as voorsorgmaatreël ‘n paar ouens regsien, aangesien ek nou die metodes mooi onder die knie gekry het? En voorts sou ek dan die redder van society word! Die messias wat seker maak dat ander nie leed aangedoen word nie.

En hier kom my vriend Jan met een enkele vraag en hy skud my tot in my fondament, nadat ek  my planne aan hom bekend maak (ek het geglo hy sal nie split op my nie). Toe ek vir hom sê hoe ek voel, vra hy ongeërg vir my:  “Wat het dit aan jou manly hood gedoen?”Jy sien, Jan het besef dat ek so voel omdat ek magteloos gevoel het as beskermer en versorger van my gesin. Nou ja, ek het toe maar my virtuele galgkamer gaan afbreek, die toue gaan oprol en aangegaan met my lewe. Die oordeel en die straf kom my nie toe nie!

Daar kom toe mettertyd by my ‘n vraag op: Sê nou maar die doodstraf kom terug, sou ek graag die laksman wou wees? Die persoon wat bo in die galgkamer staan, die tou om die skuldige se kop sit, die sloop oor die kop trek, en dan die daad voltrek. NEE! Duisend maal NEE!

Eks 21:14-17
“Wie aan sy pa of ma slaan, moet doodgemaak word. “Wie 'n ander ontvoer om hom te verkoop of om hom in sy besit te hou, moet doodgemaak word. “Wie sy pa of ma vloek, moet doodgemaak word”..

Wel meneer die laksman, hierdie was wet! As jou kind jou sou vloek, sou jy met ‘n grynslag langs die galg staan en kyk hoe die wet uitgevoer word? Of dit self uitvoer? Totsiens Jannie, jy wou mos nie gras sny nie! En daai lelike woorde wat jy by die skool geleer het en hier kom rondslinger het! Eish!

Matt 5:38-48
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘'n Oog vir 'n oog en 'n tand vir 'n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê , en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie? “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

En …

Joh 8:3-73           
Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?” Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi.”

Jitte, hierdie stukkie is vir my moeilik, want waar kom reg en geregtigheid dan in? As ek hierdie lees kan enigiemand mos maar spreekwoordelik met moord wegkom. Of selfs tronkstraf vryspring. Eintlik sommer alles vryspring. Jy sien, alles klink reg, totdat ons self die doodstraf moet voltrek. Dit sal nogal nice wees as iemand anders dit doen, of hoe? Ek lees van ‘n man wat vir jare ‘n laksman was in Amerika. Die doodstraf was vir hom normaal, hy het maar net elke dag gewoon werk toe gegaan, deur die “motions” gegaan, alles op die wetlike manier gedoen, gesorg dat reg en geregtigheid geskied, sy werk na die beste van sy vermoë gedoen en as hy ‘n dag afgehad het en gou ingery het werk toe het hy soms selfs gou sy vrou saamgeneem. Sy het in die motor gewag, hy het gou die ding gedoen en huis toe gegaan. As die kinders saans vra: “Pappa. Hoe was jou dag?”, sou hy sê: ”Business as usual”, en dalk by homself gedink: “Goeie dag gewees, alles suksesvol afgehandel”. Later jare het hy ineengestort en dit het sy lewe verwoes.

Tweeduisend jaar gelede was daar ook laksmanne, hulle was soldate en hulle het net hulle werk gedoen. Daar was ‘n Man na hulle toe gebring wat onskuldig bevind was, hy het eintlik so ‘n mooi lewe gelei en Hy het wonderlike dinge gedoen. Dit was maklik om die saak af te handel daardie dag. Hy het niks teëgestribbel nie, hy was so mak soos ‘n lam, want Hy was die Lam van God. Vir hulle was dit “business as usual”, hulle het dit gereeld gedoen. Daar was geen emosie daarby nie en dit was immers hulle opdrag , vir hulle was dit reg want Hy het die owerhede bedreig. Dit was eintlik ‘n eer om die volk te verlos en Hy is toe sommer saam met twee boewe reggesien. Wie was hierdie laksmanne? Hoe het hulle gevoel? Was die dood vir hulle sommer net normaal? Het bloed hulle nog laat gril? Het hulle koud en afsydig geword en net nie meer gepla gewees nie? Emosieloos? As dit nou 2000 jaar gelede was, sou ek of jy dalk een van die laksmanne wees?

Hierdie vraag moet ek en jy vir onsself afvra as ons sien dat iemand verlore gaan en ons niks daaraan doen nie, want dan voltrek ons die doodstraf vir daardie persoon. Koud, emosieloos, afsydig, onbetrokke. So iets van, jy wou mos. Vriend, die doodstraf is uitgevoer op die Een persoon wat maak dat Geestelike doodstraf nie meer nodig is nie. As ons nie iets daaraan probeer doen nie, is ons steeds laksmanne! Koud, afsydig, onbetrokke, on-emosioneel.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)