MONOPOLY

As jy nog nooit in jou lewe Monopoly gespeel het nie, woon jy seker op ’n ander planeet. Dis ’n lekker speletjie as die geluk aan jou kant is, maar aaklig as die dobbelsteentjies verkeerd val. Ek het nog altyd gevoel daardie speletjie het iets teen my. Dinge werk net nooit reg uit vir my nie. Almal begin met ewe veel geld, maar spoedig sit iemand met alles en ek met niks. Nou so is die lewe ook. Die Bybel praat baie van geld en wel uit verskillende hoeke. Die Bybel waarsku ons teen gierigheid (die wortel van alle kwaad) en die Here gaan so vêr om te sê dat rykes moeiliker in die hemel gaan kom. Maar ... die Bybel sê nie geld is inherent sleg nie, of dat rykes sleg is nie.

Ek sien so in my geestesoog dat almal in die wêreld om hierdie groot tafel sit en daar is x-hoeveelheid geld op die tafel wat die wêreldekonomie verteenwoordig. Elke mens op aarde probeer om so groot as moontlik porsie van daardie geld voor homself op te hoop. Sommige werk baie hard, party is uiters vindingryk, sommige vind geld minder noodsaaklik en doen net genoeg om te oorleef. Ander gee boedel oor, werk niks en kyk in ander se oë om ’n aalmoesie nader te stoot. Party verneuk die ander links en regs en kom selfs weg daarmee. Party mense gee van sy eie hopie vir ander, sodat dié daarmee woeker en hopelik vir hom meer teruggee. Party wag tot jy wegkyk dan gaps hy van joune en nog ander glo jy móét van joune vir hulle gee. So sit ons dan nou almal om hierdie tafel met die wêreld se geld op en probeer kry wat jy kan. As jy gelukkig is en jou hoop word al hoe groter, moet jy weer meer oorskuif na die Ontvanger se hopie toe. As mens vir almal om die tafel kyk, sal jy besef dat daar twee tipes mense is: vir party mense hardloop geld net eenvoudig weg, hulle kry dit nooit gevang nie. Vir ander lyk dit weer of geld na hulle toe hardloop, vinniger as wat die kredietkaart leeg gekoop kan word. Dit kom net! Daar is nog ’n waarheid oor geld wat ek al raakgesien het: niemand het ooit genoeg daarvan nie.

Die Bybel gee vir ons goeie riglyne oor geld. Kyk bv. Spreuke 20:13: As jy nie wil arm word nie, moenie lief wees vir slaap nie; staan vroeg op, en jy sal oorgenoeg hê om te eet.

In Jesus se tyd op aarde en eintlik van eeue voor Jesus én daarna, was die meeste mense brandarm. Hierdie teks sê as jy baie hard werk, sal jy genoeg hê om te eet en dis dit. Ek en jy sien dit egter gewoonlik anders: ons dink ons werk moet rykdom, weelde en oorvloed bring. Nee, volgens hierdie teks is dié een wat iets het om te eet, alreeds ryk. Dit maak my en jou dus nogal heel welgesteld, of hoe? Baie werk is gelyk aan genoeg kos.  Hierdie is vir ons partykeer so ’n “gerieflike” teks, want dit maak ons los van die nood van ander en ek kan dus nou wegkom met “wat myne is, is myne, want ek werk hard daarvoor”. Die Bybel gee egter ook vir ons ’n ander kant in Spreuke 14:31: Wie 'n arm mens verdruk, beledig sy Maker; wie hom oor 'n arm mens ontferm, eer God.

Met die lees hiervan lyk dinge nou bietjie anders, want nou lyk dit of God aan die kant van die arme is; Hy gee báie om vir die armes, weduwees, wese, verdruktes, vreemdelinge, dié met agterstande, dié wat met minder vermoëns bedeeld is, gestremdes wat net nie kán nie. Ek besef dan dat hierdie hoop goed wat ek so lustig bymekaarmaak, nie aan my behoort nie.

Geld verander nogal ’n mens se houding teenoor ander met minder. Mens kry so bietjie van ’n meewarigheid, snobisme, so ’n gevoel dat geld alles kan koop. Weet jy, jy kry mense wat skatryk leef op ander se rekening. Met skemas, stelsels, piramides, ens. word mense se geld opgeraap met valse beloftes van opbrengste. Meer nog, daar is mense wat by ander geld leen en dit dan op hulleself blaas, totdat albei bankrot is. Luister bietjie na hierdie teks: Spr. 28:11 'n Ryk man kan dink hy het die wysheid in pag, maar 'n arm mens met insig sien deur hom.

Gedink ’n arm man kan nie insig hê nie? Dink weer! Ek glo daar is arm mense wat na rykes kyk en sê: ek gaan nie dat geld aan mý doen wat dit aan jou gedoen het nie. Liewer min hê en rustig slaap... So staan dit ook in Spreuke. Weet jy, hoe meer ek so oor hierdie goed dink, hoe meer wonder ek hoekom ek dan so hol agter meer en meer aan...

Pred. 5:9 Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Het jý genoeg?

Spr. 19:17 Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.

Terug na ons globale geld tafel toe. Die Here vra as’t ware vir jou en my om van ons oorvloed te vat, dit weg te gee, daarvan afstand te doen en dit te vergeet. En ... dan kom hierdie wonderlike tweede deel wat sê dat die Here jou daarvoor sal vergoed. Jy ken die beginsel van wat jy saai sal jy maai? Wel, daardie beginsel werk. Ek nog nooit gesien dat iemand met ’n oop hand bankrot geraak het van gee nie.

Kom ons kyk net vir ’n oomblik anders oor die redes vir welvaart:

Mense met ’n goeie ondersteuningsisteem, mense wat ouers gehad het wat hulle van kleins af geleer het, mense wat uit stabiele ouerhuise kom, wat geleenthede gehad het, het eenvoudig net ’n beter kans in die lewe, ons kan dit nie ontken nie. Geletterdheid, geleenthede om te studeer, aanmoediging, goeie “parenting”, is dinge wat ’n verskil maak en almal het nie die voorreg daarvan nie. Daarom dink ek die Here wil vir my en jou sê: vat so bietjie van jou hopie oorvloed en maak iewers ’n verskil. En moenie probeer om ’n sinnelose druppeltjie vir druppeltjie verskil aan duisend mense te maak nie, maak liewer ’n groot verskil aan een of twee. Bid vir die Here om vir jou die wysheid te gee om dit op die regte dinge en die regte plek te doen. Geld is nie altyd die regte manier om ’n verskil te maak nie, daar is ook ander maniere en soms moet jy ook van jouself gee en nie net van jou goed nie.

Ek dink dis moeilik om ’n balans te kry, maar ek dink die Here vra vir ons om met deernis na ander te kyk. Dis per slot van rekening ’n feit dat party se hopies hoog kan staan omdat ander se hopies laag is. Ek wonder: does the rich create the poor, or does the poor create the rich?

Spr. 30:7-9 Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)