SEGEN VADER SEGEN SOP ...

Hoe gereeld bid jy die volgende: “Seën hierdie voedsel aan ons liggame Vader, en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Amen.” ‘n Baie gewilde gebed en dikwels gebruik deur duisende mense, elke dag. Wat sou ons dit noem? ‘n Rympie? ‘n Aframmel van woorde? Die regte ding om te doen? ‘n Gepaste manier om etenstyd te begin? Of is dit iets wat diep uit die hart kom? Wel, miskien is dit net ‘n gewoonte, dan is dit ten minste ‘n goeie gewoonte. Soms voeg ons dan nog so ietsie by, veral as dit in ‘n spesifieke geselskap is. “… en seën die hande wat dit voorberei het”. Dit word graag bygevoeg waar die gas aan die tafel van die gasvrou bid. Ja wel, dit het sekerlik ‘n stukkie ekstra waarde, of hoe? Moet wees. 

Ons sien ‘n ruk gelede ‘n film met die naam “Tornado – and the Kalahari Horse whisperer” en daar speel ‘n toneel af waar ‘n kuiergas by die mense aan huis eet. Die man van die huis het ‘n baie eenvoudige gebed gebid voor ete en afgesluit met: “Here, seën asseblief my vrou wat hierdie ete vir ons voorberei het.” Dit het nogal ‘n impak op my gemaak, want dis ‘n persoonlike gebed vir sy vrou. 

Nietemin, ek sit toe een oggend met ‘n paar beskuite en ‘n koppie koffie by my en ek sê toe vir die Here dankie daarvoor. En net daar besef ek hoe kragtig hierdie “rympie”- gebed voor ete is, INDIEN ons dit regtig bedoel. “Seën hierdie voedsel aan ons liggame Vader, en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Amen.” My gedagtes begin toe loop vanaf die tweede gedeelte. “… en seën die hande wat dit voorberei het”. 

Vat my gedagtes toe die pad in trurat en ek sit en dink, hoe het hierdie beskuit op my bordjie beland? Here, dankie vir Annerine wat dit in haar winkel aangehou het. Dankie dat U vir haar die fondse beskikbaar gestel het om dit by ‘n verskaffer aan te koop. 

Maar dit moes op een of ander manier daar aangekom het. Dalk met ‘n drywer wat namens die verskaffer die aflewerings doen. Here, wees asseblief daagliks met hierdie persoon op die pad waar dit soms so gevaarlik kan wees. Behoed en bewaar hom asseblief en help hom om ook te kan oorleef met ‘n klein salaris. 

Die verskaffer wat die beskuit bak het natuurlik haar eie uitdagings. Om so ‘n besigheid aan die gang te hou is nie maklik nie en oorlewing is soms maar moeilik met so ‘n bedryf. Daar moet altyd geld wees (kontantvloei) om die bestanddele aan te koop. Miskien is dit ‘n klein tuisonderneming waar mamma maar na-ure bak om die pot aan die kook te help hou. En ek wonder: Is dit dalk ‘n enkelma wat finansieël sukkel en in die aande haar geldjie aanvul? Is die lewe se uitdagings soms vir haar ook te veel? Here, wees asseblief met hierdie dame, dalk is sy nou besig om hierdie takie met ‘n stokflou lyf uit te voer, nadat sy die hele dag gewerk het. Here, daar waar haar kindertjies nou in die bed lê en snoesig slaap, weet hulle nie dat mamma nou besig is om alles in haar vermoë te doen om die pot aan die kook te hou nie. Here, help haar asseblief dat haar gesondheid en kragte hou, sodat sy die beste vir haar kinders kan doen. En Here, laat haar verskaffers haar asseblief op tyd betaal wat haar toekom. 

My gedagtes het verder geloop na die Supermark waar die bestanddele verkoop word. Hoe dikwels sien jy nie hoe die dames by die kassiere tot laat werk nie en dan, wanneer dit stikdonker is, moet hulle in die wind en weer by die huis kom. Huis? ‘n Sink kaia. Is dit ‘n huis? Die kinders wag al lankal vir ma om te kom kos maak en hulle dalk te help met skoolwerk. Taxi ry (luukse vervoer?) is die enigste manier om daar te kom, en nogal baie duur. Sy sal BAIE laat by die huis kom. Here, U sien hierdie mense se omstandighede. Hulle kry bitterlik swaar in daardie blik-huis, daar is gewoonlik nie lopende water nie en ‘n warm bad is onmoontlik. Vader, leer vir my geduld wanneer ek by daardie kassier staan, wanneer sy dalk al bietjie stadiger werk en soms ‘n fout maak met die kleingeld. Here, U het gesien dat sy dalk al 4 uur moes opstaan om deur die donker paadjies tussen die huisies moes deurstap om my te kom bedien met ‘n glimlag. Here seën haar met vreugde, en genoeg lewensmiddele om te kan versorg. En Here, daardie ou klein lyfies van haar kinders wat al baie vroeg iewers gelos moet word, soms in bitter koue, moet haar as ma en versorger se hart soms breek, veral as hulle nog boonop siek is. Here, ek weet nie wat ek regtig bedoel as ek vra vir seën nie, want dit klink so leeg, hier waar ek bid in die luukse van my warm bed, maar Here, seën hulle asseblief. En help haar om krag te hê om reg deur die dag te glimlag vir ons ryk mense. 

Toe ek by hierdie punt kom het ek begin dink dat ek hierdie kits-tafelgebed van my so absoluut leeg klink. Waarvoor bid ek? Of liewer, waarvoor bid ek nié? Hoe gemaklik is dit nie om na die naaste winkel toe te ry nie. Alles is daar, in oorvloed en ek kan na hartelus koop as ek die geld daarvoor het. Die fabrieke wat ons voedsel verwerk, was nog nooit, ooit, een enkele keer in my tafel gebed nie. Dis dan outomaties, ek stap net in die winkel in ek koop. Here, daar is soveel mense wat swoeg en sweet in hierdie fabrieke, en hierdie werkers word soms onder geweldige druk gesit om teikens te haal. Here, U weet hoe min hierdie hande-arbeiders verdien, en hoe sleg die werksomstandighede soms is. Here, gee asseblief vir hierdie mense net IETS om na uit te sien, want in daardie yskoue, of vuurwarm fabrieke, kan dit nie lekker wees nie. Here, hulle doen daai werk nie om hulle borde met daardie selfde lekkernye en uitsoek kos te vul nie, hulle werk vir min geld en kan nie eers hulle eie handewerk geniet nie. Hulle moet soms tevrede wees met net ‘n bietjie pap en melk wat hulle met ‘n karige salaris kan koop. Here, seën hulle asseblief ook. Wat beteken seën Here? 

Ai, het jy al agter ‘n groot trok beland? Een wat sukkel om die bult op te kom omdat hy hopeloos te swaar gelaai is. Op pad terug van jou luukse vakansie by die Suidkus is dit die laaste ding wat jy wil hê. Daar in jou Mercedes. Daardie dit en datse drywer wil nie in die geel baan in ry sodat ek kan verby kom nie (al is dit teen die padreëls). En dan maak hulle teenwoordigheid in die toilette by die stilhouplekke langs die pad ons lewe nog meer ondraaglik. As hierdie vervlakste trokke net kan ophou om my lewe te versuur. Here, hierdie ouens het ‘n aaklige werk. Hulle werk soms ondraaglike lang ure en werk ook vir uiters min vergoeding. Here, hulle sien nie eers hulle kinders grootword nie, hulle is soms so lank tye van die huis af. Vader, wees asseblief ook met hulle op die pad, veral as die eienaars nie die voertuie in stand hou nie en dit dikwels ook vir hulle lewensgevaarlik is om dit te bestuur. Here , help hulle asseblief ook om wakker te bly in die nag sodat hulle nie ‘n gevaar vir ander, of vir hulleself sal wees nie. Here, seën hulle ook met U teenwoordigheid in daardie trok”. 

Voedsel sekerheid. Al gehoor van die woord? Die vermoë vir ‘n land om kos te verskaf aan sy inwoners. En ja, dis die werk van daardie “ryk” boer. Boerdery is mos lekker, jy sit heeldag op die stoep en bulder orders uit. Nee vriend, boerdery is deesdae hoegenaamd nie meer die winsgewende bedryf van weleer nie. Mense boer vir die liefde vir die grond, verseker nie meer vir astronomiese winste nie. En die elemente bepaal soms die oes, en verliese is jou eie. Here, wees asseblief met hierdie handjie vol dapper mense wat vir die hele land moet kos gee. Here, vergewe my dat ek nie vir hulle gebid het toe hulle skielik 50% meer moes betaal vir arbeid nie, of dat hulle peperduur toerusting sal hou nie. Vader, U weet hoe afhanklik hulle van die seisoene en die weer is. Here, seën ons boere met goeie oeste en die regte klimaatsomstandighede, sodat hulle kan oorleef, maar ook sodat ons kan oorleef. Here, U weet hoeveel plaasmoorde plaasvind. Beskerm asseblief hierdie mense se lewens. Here, help hulle ook wanneer onrus gestook word deur roekelose mense wat net vir eie gewin die arbeiders in opstand laat kom. Here, ek bid ook vir die plaaswerkers wat ook onder moeilike omstandighede moet werk vir min geld, sodat ek kan smul aan my bord kos. Here, vergewe my dat ek nog nooit vir ‘n boer gebid het voor ek eet nie. 

So besef ek dat my afgerammelde woorde soveel meer kan inhou as net ‘n rympie. Moet ek nie dalk voor elke ete net vir een van hierdie mense in hierdie ketting by die naam bid nie? Moet ek nie dalk elke dag van die week iemand uitsonder in  my tafelgebede nie? Een dag vir die winkeltjie waar ek my beskuit koop, een dag vir die mense in die supermark, die drywers op die paaie, die mense in fabrieke, die boere, die mense wat bemesting vervaardig, ens. 

“… en maak my opreg dankbaar daarvoor”. Dankbaar? Ek het dan gewerk vir hierdie kos, ek het vroeg opgestaan en heeldag gewerk, nooit gestaak nie, my eie gesin afgeskeep en soms laat by die huis gekom. Ja, ek is dankbaar, maar is hierdie werkers teenoor my as verbruiker dankbaar? Sonder dat ek koop het hulle geen mark nie. Kom ons bid: 

Here, dankie dat elke asemteug wat ek inneem om my werk te doen, verniet is. Dankie Here dat U vir my goeie gesondheid gee om te kan werk, en dankie Here dat ek die voorreg van ‘n goed-betaalde werk kan hê. Here, dankie dat dit vir my die vermoë gee om luuks te bly en in styl te ry en dankie dat ons die vermoë het om ons kinders voor die skool se hek af te laai. Here, ek verdien dit nie om die kaia-lewe vry te gespring het nie, dis genade. Here, dankie dat ek die geleentheid gehad het om te studeer en ‘n goeie lewe te verseker, en ek dit ook vir my kinders kan gee, sodat hulle ook die goeie lewe sal lei. Vader, ek weet daar is miljoene in ons land wat nie kan bekostig om te eet  wat ek nou eet nie, maar wel ook smag na so ‘n lewe. Ja Here, hierdie lewe en hierdie land waaroor ek elke dag kla. Here, ek het nog nooit een dag in my lewe honger gaan slaap nie. Verdien ek dit ? Ek glo nie Here. Maar maak my opreg dankbaar daarvoor, want self kry ek dit nie reg nie. En Here, moet asseblief nie hierdie luukse lewe van my wegvat nie. 

“Seën hierdie voedsel aan my liggaam…”

Here, help my om die energie wat ek deur hierdie voedsel inneem, ook tot voordeel van ander sal aanwend. Here, laat ek nie my kragte en seën selfsugtig vir myself hou nie. Here, laat ek ook ‘n seën vir my gesin wees. Vader, ek vra vergifnis dat ek so selde dankie sê vir die feit dat U my liggaam so wonderbaarlik geskep het om heerlike kos voor te berei, dit werklik kan geniet, die wonderlike smake kan proe en kan leef. Here, dankie ook dat dit so ‘n voorreg is om dit saam met ander dit te kan geniet.  

Mag jou dankie gebed ook vir jou meer beteken as ‘n flink rympie, en as net ‘n paar woorde wat uit die weg geruim moet word sodat ons die bord kan nader trek. 

JOHANNES 6:11
Daarna het Jesus die brood geneem, God daarvoor gedank en dit uitgedeel aan die mense wat daar gesit het, en net so ook soveel van die vis as wat hulle wou hê.

HANDELINGE 27:35
Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet.

1 KORINTIËRS 11:24
…en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam; dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
 

“Seën hierdie voedsel aan ons liggame Vader, en maak ons opreg dankbaar daarvoor. Amen.”
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)