SO SÊ DIE WOORD

Ons hoor of sê dikwels: “So sê die Woord”, of “So sê die Here”. Weet jy, hierdie is iets wat vir my nogal moeilik raak. Ons praat so graag in die Naam van die Here en ons haal so graag teksverse uit die Bybel aan en daar is verseker plek daarvoor, maar jong, ons moet versigtig wees. Die Bybel is die Woord van God, en as ons dit lees, praat God met ons. Dit is Sy manier van kommunikasie en Hy maak daardeur Sy wil aan ons bekend. Ons leer ook van die geskiedenis en alles oor Geestelike sake en hoe ons moet lewe – hiervoor is die Bybel 100% tot ons beskikking. En ja, ons móét dit ken en daaruit aanhaal om ander te bemoedig en aan te moedig en self riglyne en troos daaruit put. Solank ons dit verantwoordelik doen. Daar is soveel menings en opinies, soveel strominge, ideologieë, groeperinge, mense met soveel uiteenlopende verwysingsraamwerke wat almal dieselfde Bybel gebruik. Het jy al gehoor as party ouens so driftig ’n standpunt maak en hordes teksverse aanhaal en só slim klink dat jy net nie daarteen, of saam met dit kan praat nie Dan sê sy volgelinge: Sjoe, hierdie ou gooi nét skrif! Dit terwyl iemand anders kan wonder of die Bybel nou regtig dié ou se bron was. ’n Mens kán die Bybel verkeerd gebruik. Ek het ’n hekel aan ’n nuwe tendens wat al hoe meer sy kop uitsteek en ek noem dit die eensnaar-teologie. Iemand loop totaal op hol oor een enkele aspek van Christenskap en praat oor niks anders as sý nuutgevonde teologie nie; so ou tokkel tot vervelens toe op daardie een snaar en wil hê almal moet nou glo soos hy glo. Boeta en dan word die Bybel baie keer buite konteks ingespan, tekste word na willekeur saamgesnoer net om sy standpunt te ondersteun. Na my mening is dít waar dinge bietjie gevaarlik kan raak.

In ’n splinternuwe boek van Stefan Joubert, genaamd: “Ontsluit die Nuwe Testament”, word ook ernstig gewaarsku teen die wan-aanhalings van Bybeltekste. Mens hoor partykeer dat mense se die Bybel weerspreek homself, maar dit is beslis nie waar nie. Ons moet dit eerder sien as: “Die Woord se óók....”. Kyk bv. na die gedeelte in Matt. 4:5-7 waar die duiwel vir Jesus versoek en Hom op die hoogste punt van die tempel laat staan :

Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele oor jou opdrag gee “en: “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie. ” Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie. ”
Satan haal die skrif aan, maar Jesus sê: daar staan óók geskrywe.  

Kom ons kyk na ’n paar tekste wat ons partykeer dalk verkeerd gebruik of misbruik: 

1 Tess 5:21: “Toets alles en behou wat goed is...”
Met hierdie teks probeer ons doen net wat jy wil sonder om verantwoording daaroor te moet doen. Jongmense gebruik dit graag en wil glo dat hulle met enige iets kan eksperimenteer en dan maar net “behou wat goed is”. Klink asof die Here ons ’n “blank cheque” gee om enige iets te beproef en ons koppe te stamp sodat ons daarna as engeltjies kan eindig. As ons egter net die volgende vers saamlees, dan val daardie redenasie heeltemal plat: “... en bly weg van alles wat sleg is”! Die Here hou sekerlik nie daarvan as ons die Woord só gebruik om speletjies te speel nie. 

Matt. 26:41(b): “... die  gees is gewillig, maar die vlees is swak”. Ek is seker dat jy ook al dié teks gebruik het om te sê dat jy nog graag dit of dat wou doen, maar dat die “vlees” te swak was, jy het net nie genoeg krag of tyd gehad om dit te doen nie. Jy weet mos, ek wil só graag, maar ai, daai swak vlesie! Weet jy waar kom hierdie teks in die Bybel voor? Dit is net voordat Jesus gevange geneem sou word en die volgende dag gekruisig sou word. Hy het van die dissipels saam met Hom geneem om saam met Hom te bid toe Hy doodsbenoud was. Die opdrag was: “Bid saam met My”, maar hulle kon nie wakker bly nie en het Jesus in die steek gelaat. Dis waar Jesus sê: die vlees is swak.  

Joh. 16:23(b): “Dit verseker ek julle: Wat julle die Vader ook al in My Naam sal bid sal Hy vir julle gee”. Hierdie is nou ’n heerlike voorspoed-versie wat sommige eensnaar-teoloë kwistig gebruik. Het jy al gebid om die lotto to wen? Weet jy wat vra? Jy sê: “Here, gaan samel  asb. R1 miljoen by die armstes van die armes in, wat hulle brood geld gebruik agter hierdie leuen aan, ontneem hulle kinders ’n bietjie kos en dan kom stort U hulle lewensmiddele voor my neer”. Die Here sal sekerlik nie só ’n gebed beantwoord nie, al vra jy dit in Jesus se Naam. As jy daardie hele stuk in Joh. 16 gaan lees, kom jy agter dat dit niks met materialisme te doen het nie. Jesus praat daarvan dat Hy weggaan en sy dissipels bedroef gaan agterlaat, maar dat die Vader weer vir hulle blydskap sal gee en dat dít is wat hulle in Jesus se Naam moet vra, nie ’n nuwe BMW'tjie nie.

Jak 5:14-15: “As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak”. En as ons dit nou alles gedoen het en die sieke word nie gesond nie? Ek dink ons moet onthou dat die Bybel in Deut. 32:39 ook sê: Besef dit tog: Ek, Ek is die Here! Naas My is daar geen ander God nie. Ek maak dood en Ek gee lewe. Ek maak siek en Ek maak gesond. Soms genees die Here en soms nie, maar ons mag en moet wel by Hom pleit vir genesing.

So is daar heelwat tekste wat uit verband aangehaal word en dan net teleurstelling bring. Word al jou probleme blitsig opgelos omdat jy die gepaste teks “raak gespot” het? Nee. Is almal se godsdiens en ideologieë waar omdat daar êrens ’n teks is wat iets daaroor sê? Nee verseker nie.

Mense hou daarvan om kwistig tekste aan te haal want dit gee ’n mate van outoriteit aan wat die persoon sê, dit laat mens kundig en diep-geestelik klink, dit beïndruk mense dalk, maar onthou dat dit tog altyd getoets moet word aan die hele Woord. Oppas om uit geestelik hoogmoed of  vir eie belang tekste verkeerdelik aan te haal en buite konteks te gebruik. 

Die verkeerde interpretasies van Skrif het al dikwels gelei tot ernstige skade aan mense se geloofslewe. Wanneer iemand skrif aanhaal, gaan lees dit maar altyd binne konteks en probeer om uit te vind wat die ware bedoeling daarmee is, meet dit teen ander tekste en kyk of daar nie iets anders ook daarmee bedoel kan word nie. Vra vir die Here om dit vir jou te verklaar. Lees kommentare daaroor en vra ander mense se menings daaroor. Toets of jy nie iets in ’n teks inlees net omdat dit oor jou eie belang gaan, of jou spesifieke opinie steun nie. Moenie die Here aanhaal vir iets wat Hy nooit gesê het nie, dis ’n aantasting van Sy karakter. Moet asb. nie speletjies speel met die Woord van God nie.

Wat ons wel kan en moet doen, is:

1)      Om mekaar te bemoedig uit die Woord

2)      Om mekaar te seën met opbouende verse uit die Bybel

3)      Om mekaar te herinner aan God se beloftes in die Bybel

4)      Om die Bybel as ons swaard te gebruik

5)      Léés die Bybel, lees alles, nie net hier en daar wat ons pas en wat lekker klink nie.

6)      Gebruik die Bybel, moet dit nie misbruik.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)