Annette se briewe


Willie Potgieter is getref deur Gillian-Berre sindroom, wat hom binne 'n paar ure heeltemal verlam het. Sy hele gesinslewe is oornag ernstig beproef, hy kon nie meer werk nie, en is nou in 'n rolstoel.

Hier volg twee stukkies wat Willie se vrou geskryf het na sy siekte:-

Gister…
 

Nou dra ons maar elkeen ons eie seer. Jy in jou klein hoekie en ek in myn. Ek wil nie daaroor praat nie, terwyl ek weet dat jy wil.  

Waaroor gaan ons praat? Oor gister? Gister is verby en dit breek my hart as ek onthou. Oor môre? Wanneer gaan dit môre word?  

Ek probeer om nie te diep te dink oor hoe jy moet voel nie. Hoe dit moet wees om so totaal afhanklik te wees en verneder te word nie… om heeltyd skuldig te voel en dankbaar te wees nie… 

Jy sę ek is ‘n engel. Maar wat ek vandag doen is gebore uit wat jy gister gedoen het.

Onthou jy hoe jy my nooit laat wag het nie omdat jy weet dat ek bang is? Hoe jy ‘n nuwe pad twee keer saam met my gery het sodat ek die volgende dag nie sou verdwaal nie? Hoe jy my familie se vakansies gereël het om seker te maak ons kom bymekaar uit?  

Onthou jy hoe ons ‘n halwe oggend lank in die bad gelę en kuier het? Hoe jy vir my aande lank romantiese musiek by kerslig gespeel het? Hoe jy verrassings beplan het vir ons huweliksherdenkings? 

Ek weet nie wat ek voel nie my man. En elke dag is ‘n nuwe stryd. ‘n Stryd tussen hemel en hel. ‘n Stryd oorwin danksy hemel en hel.  

Gaan ons stadig dood?  

Maar deur my are vloei herinneringe aan gister…en dit is gister wat jou, binne in my, lewendig hou.

Omdat jy my gister op hande gedra het sal ek vandag jou hande wees. Omdat jy gister deur dik en dun by my gestaan het sal ek vandag jou voete wees. Omdat jy my gister beskerm en versorg het sal ek vandag ons verhouding beskerm en vir jou liggaam sorg.   

En as jy dan wil dankie sę, sę dit vir gister.

(Annette Potgieter)

So, wat is liefde dan? 

Ek vra jou my man, wat is liefde dan?  

Was dit liefde toe jy voor in die kerk staan met jou gespierde arms terwyl ek met my wit rok die gang af loop? Was dit liefde toe jy my kamer toe gedra het nadat ek op die sitkamerbank aan die slaap geraak het? Was dit liefde toe ons ons 6de huweliksherdenking met ‘n maanligpiekniek op ‘n Weense rivier in ‘n roeibootjie gevier het? Was die agt jaar wat ons gesmag het na ‘n baba en jy my trane afgedroog het as ek weer nie swanger was nie liefde? 

So wat voel ek dan nou? Wat is die deurmekaar gevoel wat ek wil analiseer, identifiseer of kanseleer, wanneer ek na jou grootmanlyf met die vermoë van ‘n baba kyk, terwyl jy lomp probeer om jou verlamde arms om my middel te vou. Terwyl jy gebreek in die vier-wiel-ding sit. Terwyl ek karbonkels uit jou neus krap of jou skoonmaak soos ‘n kind. Wat is die huil wat heeltyd agter my oë wegkruip as ek trane op jou mooi lang donker wimpers sien… jy wat nooit kon huil nie.   

Hoekom lyk jy seergemaak as my tong agter my kop aan hoereer, en die “ja, my kind” uit is voor ek kan keer?  

Weet jy dan nie dat die grootste liefde wat ek ooit gevoel het, die “ek-verdrink” liefde, het ek slegs gevoel het met die geboorte van ons eersteling nie? Ek het gedink ek gaan sterf van liefde.  

Dink jy omdat ek nou sukkel om jou vrou te wees het ek jou nie meer lief nie? Wat is liefde dan my man? Die onbeplande “ja my seun” beteken: ek het jou onvoorwaardelik lief. Al hou jy my elke nag wakker soos ‘n koliekbaba, ek het jou lief. Al kan jy my nie sonder hulp vashou nie, ek het jou lief. Al is ek gedaan van die gespartel om jou aangetrek te kry, ek het jou lief.  

Vergeet van die hoekoms en die toekoms. Vergeet van wat was en wat is en wat word.  

As ek jou nie nou lief het nie, het ek jou dan ooit liefgehad? 

Ek het jou lief my man.   

(Annette Potgieter) 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die webruimte (www.heuning.co.za)