KAMP 3 GETUIENISSE

Klik hier om foto's te kyk >>

Dit was voorwaar 'n wonderlike naweek!

Ek het 'n Bethal vriend saam genooi en ook hy kan nie uitgepraat raak oor die naweek nie. Soos daar oorvol borde van smaaklike voedsel vir die liggaam was, was daar 'n gedekte buffet tafel met heilsame voorgeregte, hoofgeregte en nageregte, voorberei uit die lewende resepte boek van GOD vir my siel, kraakvars voorgesit deur wêreldklas kokke, hierdie manne ken van kook vir JESUS! 

Ek kon egter nie wag om by die huis te kom en my wonderlike vrou en pragtige dogter in my arms te neem en hulle vas te druk nie.

My dankbaarheids beker loop beslis oor!

Groete
Kobus Broodryk

Hi 

Ek wil net vir julle baie dankie sê vir die kamp. Ek het na die kamp toe gegaan met 'n begeerte om verseker te wees dat die Heilige Gees elke dag met ons praat. Dit voel partymaal vir my asof die Gees nie met ons werk nie en ons nie altyd Sy leiding ervaar nie. Sondagoggend met die stiltetyd het die Here werklik vir my laat besef dat toe ek Hom eenkeer aangeneem het, Hy altyd in my is en vir my lei. Ek het nie nodig om te twyfel daaraan nie en soos Hy vir Petrus laat besef het, besef ek ook nou dat Hy altyd daar is en my as Herder oor my gesin aangestel het om hulle te lei, leer en te beskerm, want hulle is ook God se kudde. 

Ek sien uit na die volgende kamp want dan gaan my seun saam met my. 

Nico Venter

Ek dink die kamp was…. awesome 

Die terrein, kamp, program, geselskap en KOS was uitstekend….’n Groot rippel vir Rippel!!!

Sê vir Kobus die Rippels van die kamp kring wyd uit. Ek gaan definitief probeer om my skoonpa en swaers daar te kry volgende keer. 

Blessings vir julle almal by Rippel!! 

Groetnis in Jesus
Paul

Ek wil hiermee net baie dankie sê vir Rippel wat die mannekamp vir ons moontlik gemaak het.   

Ek wil vir die Here dankie sê vir die groot veranderinge wat Hy in die manne se lewe gebring het. Dit was 'n kamp duisend.  Die wonderlikste is om te sien hoe jou vriende hulle hart vir die Here gee, en dan besef mens net weer hoe groot God is.  Ek sal ander mans aanmoedig om die kamp by te woon, want dit is 'n naweek waar groot verwagtinge oortref kan word.  Los jou worries 'n bietjie by die huis en wees net in God se nabyheid in die natuur. 

Dit was 'n lekker groep gewees en dit is lekker om net weer jonk en sorgvry te kan lag, huil, en te kan 4 x 4.  Ek is net bly ek is nie een van die brawes van gees wat die dam se koue water trotseer het nie.   

Met die Blou bul geesdrif het daar ook niks geskort nie.  Dit is wonderlik om 'n bloubul wedstryd te kan kyk saam met 'n klomp Christene.  Die lekkerste daarvan was die braaivleis daarna. 

Kan nie wag vir die volgende kamp nie.  Dit is werklik die moeite werd om jou batterye hier te kom laai. 

Groetnis tot die volgende kamp. 

Tienie Hay

Elke Mannekamp het vir my iets anders gebied. Hierdie een het ek bygewoon hoofsaaklik vir Geestelike groei en dan die samesyn met manne. Die alleenheid vang my erg en ek het `n groot behoefte aan assosiasie en sosialiseering. Die Temas asook die inhoud van elkeen was absoluut fantasties en dit het diep in my ingedring en my hart is verander. 

Ek kon weer drie aspekte wat my "gebind" het met die Here uitklaar en voor Hom bely en het daai bande gebreek. Ek voel nou soveel vryer en ligter. My Gees is weer gevoed en het ek nader aan die Here gegroei. Die "stilte tye" het my laat ontdek dat ek op dié manier, meer effektief in my hart kan kyk (selfodersoek) en dan ontdek ek die "dinge" wat pla. 

Vir my was die kamp so NODIG en ek het dit baie geniet. Die "ligter" program was, na my mening en waarneming, meer effektief want die manne wou graag gesels, kennis maak en natuurlik ontspan ook. Die pret het ook sy kwota opwinding opgelewer en dis so nodig dat daar ook pret is. 

My bede is dat die Kamp net van krag tot krag sal groei.  

Adrian Spies

Ek het baie uitgesien na die kamp en het 'n groot verwagting gehad. En soos hulle sê, gaan jy met 'n klein verwagting, gaan jy iets kleins kry,  maar ek het regtig ‘n groot verwagting gehad en ek het ‘n groot  seën gekry. 

Saterdag na die oggendsessies, het ons beplan om op ‘n 4x4 baan te gaan ry, toe was ek nog OK. Die plan was om daarna te gaan foefieslide, maar toe het ek begin sleg voel. Toe ons so 4 uur teruggekom het by die kamp het ek besluit om te gaan lê. Ek wou die aand se sessie uitsit, want ek het nie eers die eerste helfte van die rugby gesien nie, so sleg het ek gevoel. Toe die aandsessie begin, wou ek weer gaan lê maar dis of iemand my opgetel het en saal toe gedra het. My lyf was regtig seer. Daardie aand het ek gebreek, dit was net wonderlik in die teenwoordigheid van GOD. 

Kobus, ek wil net vir jou baie dankie sê vir die gebed, ek het dit nodig gehad. Franna, as dit nie vir die woord was wat jy gebring het nie, het dit nie met my gebeur nie. 

Daardie aand het ek soos 'n droom geslaap. Die Sondag-oggend toe ek opstaan ervaar ek dat ek nie eers ‘n bietjie seer het in my lyf nie. Al die eer aan die HERE!

D
ie HERE is goed en getrou. Wat jy in Sy Naam vra,  glo en jy sal dit ontvang.

Ons was so 11.30 klaar en ek het toe my laaste sigaret gerook voor ons ry.  By die huis gekom, het ek my vrou en kinders gegroet, lekker geëet en 'n middagslapie gehad. So 8-uur daardie aand kry ek toe weer lus vir 'n sigaret, ek het buite gaan staan en hom aangesteek. Toe ek by die vierde trek kom, voel dit of iemand my agter my kop klap en vra, WAT MAAK JY, ek skrik so groot, ek maak sommer die sigaret dood. Toe dink ek aan my belofte wat ek gemaak het. 

Franna het vir my gevra wat gaan ek verander in my lewe, want ek moet iets aflê,  iets prys gee, om my lewe reg te maak. Franna het vir my die swart rugbybal gegee, en boetas, julle sal nie glo nie, tot vandag, met hulp van die HERE het ek nog nie weer aan 'n sigaret gevat nie.  Ek voel weer mens. Ek en my vrou baklei nie meer nie en my dogtertjie is baie bly haar held en hero hou hom nie meer op met die dinge van die duisternis nie ... ons is almal kinders van GOD. 

My boodskap aan manne is, kom ons vat die leiding, kom ons wees die hoof van die huis. Lei jou vrou en kinders, bid saam en weerstaan die versoekings. 

Baie dankie aan Kobus, Willem, Franna en al die Rippel 90.5 span - julle is 'n puik span. Mag die Here jul grondgebied vergroot en jul seën, julle is ‘n blessing vir al die luisteraars.  

En laaste, maar nie die minste, sê ek dankie aan my Hemelse Vader vir die kans wat Hy my gee om my lewe weer te kan reg maak. En dat my lig weer kan skyn. 

Baie dankie. Liefde groete

André Bredenkamp 

My first Manne Kamp weekend was awesome. Excellent accommodation, food and ablutions (After MMC 09 this was like 5 star) 

The four rooinekke were warmly welcomed and made to feel at home. Nothing like Boere gasvryheid. (Even let us souties watch the rugby in British)

More importantly the weekend messages were meaningful and clear. The Lord was praised. I left the camp filled with the Holy Spirit. I am growing from strength to strength. 

Thank you to Jt Prinsloo, my sponsor. Willem and Kobus (Radio Ripple) for your word. See you again in October. 

Regards
David Dunwoodie