'N DAG SE BROOD


Matt 6:7-13
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra. “So moet julle bid: “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose”.
 

Die Onse Vader gebed. In hierdie gedeelte leer Jesus Sy dissipels hoe om te bid. Die doel van hierdie gebed is nie om 'n vrye gesprek met God te vervang nie, maar wel 'n voorbeeld van `n gebed wat eintlik alles insluit wat nodig is om te bid. Ek glo dat Jesus alles baie goed deurdink het voordat Hy hierdie woorde met hulle gedeel het, en dat Hy presies geweet het wat Hy aan hulle wou oordra. 

Ons konsentreer egter vandag op vers 11: “Gee ons vandag ons daaglikse brood”.

Kom ons pas die woorde ’n  bietjie aan vir die doel van hierdie stukkie: Gee ons vandag (hierdie spesifieke dag) genoeg om ons te voed en versorg vir hierdie dag van vandag. Nie genoeg vir vandag, môre, hierdie maand en volgende maand nie. 

Ek bid 'n paar jaar gelede een oggend tydens stiltetyd vir meer bestellings, want die besigheid was te stil na my sin en ek was bekommerd. En toe spring hierdie einste teks in my kop in. Gee my vandag my daaglikse brood. Oftewel, gee vir my genoeg werk om inkomste te genereer vir een dag. Net daar verander my perspektief en skielik voel dit wonderlik as daar werk vir 'n paar dae in een dag inkom. Jy sien, dis lekker as die Here versorg deur werk/geld/brood/versorging te gee vir 'n paar weke vooruit. Dan spog ons mos graag dat die Here so goed is vir ons. 

Miskien het ons almal so 'n oorblyfseltjie van die “goeie ou dae”, toe werk volop was en salarisse elke jaar flink gestyg het. Dalk was ons vertroue daardie tyd meer in ons salarisse en werk sekuriteit, maar die Here wil hê ons moet Hom genoeg vertrou vir versorging vir een dag op 'n slag. 

Hoe lyk dit vandag in jou koskas? Het jy genoeg kos vir een dag, of dalk sommer vir ’n paar dae of selfs weke vooruit? Ek dink die meeste van ons kan “ja” antwoord op hierdie vrae; ek dink egter ook dat die meeste van ons sukkel met onnodige kommer oor die dag van môre. 

Eks 16:1-4
Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.” Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.

Eks 16: :13-18
Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit. Die volgende oggend was daar 'n wolk rondom die kamp, en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet. Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.” Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander 'n bietjie, en toe hulle dit met 'n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met 'n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.  

Dieselfde beginsel van een dag se brood is ter sprake in hierdie Skrifgedeeltes uit Eksodus. Die opdrag van die Here aan Moses was dat die volk net genoeg moes optel vir een dag, behalwe op die sesde dag wanneer hulle genoeg moes optel vir twee dae, want daar was niks uit die hemel op die Sabbatdag nie. Hiermee leer die Here ook vir ons om vandag genoeg te werk en bymekaar te maak vir een dag op ’n slag. Dis seker goed en reg om ook ietsie ekstra bymekaar te maak en weg te sit vir die oudag, maar die Here se boodskap in Matt. 6:11 is baie duidelik: as jy genoeg het vir vandag, dan het Hy sy belofte van versorging ten volle nagekom en behoort ons vir niks meer te vra nie.  

Maar kry ek en jy dit regtig reg? Hoekom sukkel ons dan so met tevredenheid as ons net-net genoeg het? Hoekom kan ons nie insien dat vandag se brood primêr dit is wat ons nodig het nie? Hoekom skuif ons die lat al hoe hoër en verder? Is dit dalk gebrek aan vertrou in die Here, of is dit dalk vrees? Of is dit dalk gulsigheid en gierigheid (“greed”)? Of is dit sommer net ’n rebelsheid of jaloesie omdat die Joneses langsaan meer het?  

As daar staan: “gee”, dan beteken dit dat ons nie die versorging by God kan koop nie. Die “gee” kan wees: gee my die gesondheid en krag om te doen wat ek moet en wat ek kan. Aan die ander kant verwag Hy sekerlik dat ons die talente en vermoëns wat Hy ons gegee het sal inspan om dit te bekom wat nodig is. Dit alles (gesondheid, krag, gawes, talente) is ’n gawe uit God se hand en ons verdien dit nie.  

Indien die Here ons wel bederf met meer brood as wat nodig is vir één dag, mag Hy dalk verwag dat ons daardie ekstratjie sal deel met diegene wat tans nie die vermoë het om vir hulleself te sorg nie. Ons moet dan seker vir hulle ook net genoeg gee vir een dag.  

As daar staan “daaglikse brood” wonder ek wat dit dan behels? Is dit wat nodig is vir basiese behoeftes vir oorlewing? Is dit kos en klere? Of miskien ook ’n vakansie en bietjie luukshede? Wel, die Here seën vir die meeste van ons met ’n konfytjie vir die brood ook en dis wonderlik. 

Ek hoor oor die nuus van ’n bankier oorsee wat verlede jaar R221miljoen verdien het. “Verdien?” Het hy dalk gebid: “Here gee my vandag R605 000 vir hierdie dag?” Miskien gee hierdie syfer ’n prentjie van dit waarin die wêreld al verval het, want nou dink ek mos ook dit sal darem lekker wees as my daaglikse brood gelyk is aan R605 000! Ek sidder by die gedagte, want ek dink dit sal nie van God afgebid wees nie, maar van Mammon af. 

Gee my asb. brood vir vandag, genoeg vir vandag. Here, dit is my gebed vir hierdie dag. Vader, leer my dat u môre steeds hier sal wees om my vir môre te versorg en die dag en dae daarna. Vader, herinner my aan al die dae van my lewe tot nou toe waar U dag vir dag getrou was en elke dag genoeg voorsien het, al het ek baie dae gedink ek gaan dit nie maak nie. Here, herinner my aan die wonderwerke wat sóveel kere op my pad gekom het op tye toe ek dit die minste verwag het. Here, dankie vir die tye toe daar oorvloed was, genoeg vir mooi dinge, lekker vakansie en heerlike bederfies. Dankie dat U ook voorsien het toe daar skool- en universiteitsgelde betaal moes word en rekeninge wat soms buite my bereik gelyk het. En Here, daardie dae toe krisisse oor my pad gekom het, soos toe die motor gebreek het, het U ook uit ’n onverwagse oord ’n meevallertjie gestuur. Here, maar ek wil vergifnis vra dat ek so min dankie gesê het en so baie gedink het dis uit my eie toedoen en vermoëns dat ek goed kan leef. Vader, vergeef my dat ek my gesondheid sommerso as ’n gegewe aanvaar. Wys my ook waar ek ’n bietjie van my oorvloed kan gaan aanwend waar iemand in nood dalk bid: “gee my vandag my daaglikse brood”.
Here, maar hier sit ons nou vandag. U ken my omstandighede, U weet by wie dit bietjie swaar gaan en waar daar moedeloosheid is en selfs depressie oor armoede en ’n voortdurende gesukkel om te oorleef. Ek vra vir genoeg brood vir hulle vir vandag. Net dit.
Here, waar so baie mense, veral ouer mense, so sukkel om kop bo water te hou, vra ons vandag vir barmhartige Samaritane om ’n hand uit te steek.

Ek wil ook bid vir die res van ons vir tevredenheid met wat ons het, sodat gulsigheid ons nie verslind nie. Help ons om ons seëninge te tel en herinner ons om U elke dag te bedank vir oorvloed. Here, alles behoort aan U, maar U versprei en deel dit uit soos U goeddink. Dankie vir dit wat U vandag vir my gee. Amen.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)