‘N ONBEKENDE GOD – 7 September 2011


“Aan 'n onbekende god” - Paulus kom in Athene af op 'n altaar met hierdie woorde daarop geskrywe. 'n Altaar opgedra aan 'n onbekende god. 

Hand 17:16-25
Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 'n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy 'n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het. Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig?             

Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.” Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.   

Paulus, ex-Fariseër, skrifgeleerde, tentmaker, vervolger van Christene en nou self 'n volgeling van Jesus Christus, natuurlik na sy insident op pad na Damaskus waar hy die Here ontmoet het. Die nuwe Paulus (eers Saulus), het egter nou net een missie, en dit is om die wêreld van Jesus te vertel.
Soos ek hier sit, voel dit half of ek myself in die wêreld van 2000 jaar terug bevind wanneer ek hierdie stukkie lees. Want dit wat daar in Athene afgespeel het, speel homself elke dag af. Mense soek na 'n onbekende God. 

Wat gebeur in ons wêreld vandag?  Ons het die Bybel in elke medium denkbaar, ons het Christelike radio, televisie, duisende kerke, evangeliste, sendelinge, dominees en pastore. Maar om ons is 'n wêreld wat smagtend is na God. Hoe op aarde is dit moontlik? Dis asof mense reg rondom ons altare oprig met die woorde “Aan 'n onbekende God” 

Die mens gryp na enige denkbare strooihalm in hierdie soeke, en sal die vreemdste dinge denkbaar glo om by een of ander “God”  uit te kom. Dan aanbid hulle maar die eerste die beste ding wat op hulle pad kom. Kyk om jou, lees die koerante, kyk op webblaaie, lees boeke en luister gesprekke en jy sal geskok wees waarin mense sal glo, solank hulle net nie in die Here hoef te glo nie. Want Hy is 'n “onbekende God” vir baie. Mense sal selfs die Here se naam links en regs gebruik, ydellik, solank Jesus nie in die prentjie hoef te pas nie. Jy het seker ook al gesien en gehoor hoe openlik mense 'n bespotting van die Here maak? 

Daar kom Paulus in Athene aan en hy sien hierdie altaar waarop staan “Aan 'n onbekende god”. Dan sê hy hierdie woorde aan hulle:- “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle”. So asof hy sê: “As julle Hom God wil noem, dan is daar net Een wat lewe”. 

Hand 17:24
God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie.  

Hy is die Here van hemel en aarde. God, die enigste God, die Een wat hemel en aarde gemaak het. Klink nogal groot, of hoe? Maar hoe noem jy Hom? Noem jy Hom ook sommer so afbrekend “Die oubaas daarbo”? Dis Godslastering, weet jy? Of so dink ek.

Paulus is egter nogal ernstig oor hierdie “saak” wat hy verkondig, en net soos vandag, kan die mense nie genoeg redeneer en stry nie. En mense kan nie genoeg kry van “nuwe” openbarings en storietjies nie, en ook nie genoeg van sommige mense se “getuienis” nie, solank dit net werklik ekstreem klink. Die basiese van die Evangelie van Christus raak vir mense vervelig en afgesaag. 

Hand 17:21 “Die Atheners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders spandeer as om iets nuuts te se en te hoor nie”. Klink nogal bekend, of hoe?

Mense maak dogma van dinge wat werklik min Geestelike waarde het en maak dan cd's en dvd's daarvan en maak vir hulle 'n gevolg bymekaar om hierdie nuwe “openbaring” aan te hang. Lyk my die mens glo sy kennis en wysheid neem toe as hy aanhoudend iets nuuts “ontdek”, veral uit die Bybel uit. Ek hoor onlangs van 'n persoon wat so ernstig die nuwe Bybelvertalings in twyfel trek, dat hy nou amper glad nie meer wil Bybel lees nie, want sê nou maar dis verkeerd vertaal... 

Iemand sê eendag 'n baie waar ding oor al die nuwe “openbarings” wat die rondte doen. Hy sê:- Dis 'n myl wyd maar net 'n duim diep. 

Al hierdie dinge is ook maar tekenend van “'n Soeke na 'n onbekende God”. Die feit dat die mens aanhoudend na God soek, is deel van hoe Hy ons gemaak het.

Hand 17:27 “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind”. Amper soos  reuse, ingeboude radarskerms, of reuse soekligte soos dié wat die weermag gebruik, is die mens soekend na God. Elkeen van ons, jou familie, die mense by die werk, jou bure, ouers, jou kinders, almal. 

Dink jy dis 'n absurde stelling? Nee! Dit moet waar wees, want dis 'n ongelooflike gebeurtenis as iemand dramaties tot bekering kom.  Mense word in hierdie eeu groot met die Bybel, kerk-toe gaan, Sondagskool, Christelike skole, inligting op die internet, leraars en selfs gebed, maar hulle ken nie die Here nie. En dan, eendag... uit die bloute uit gebeur dit net dat hulle tot ware bekering kom. Dikwels deur selfs net die Bybel te lees. Mense getuig dan dikwels dat hulle nooit vroeër ‘n ontmoeting met die Here gehad het nie, ten spyte van al die kennis en inligting om hulle. Daardie jarelange “Godsdiens beoefening” en vormgodsdiens was dalk juis al die tyd net ‘n altaar vir 'n onbekende God. 

Daar is baie mense wat goedgelowige mense vir eie gewin met stories en teorie van die Here af wegtrek. Ek het dit radikaal teen mense wat die Evangelie “verkoop” vir eie finansiële gewin. Kyk hoeveel bekende geestelike sprekers en persoonlikhede se webblaaie begroet jou met 'n skakel wat se:- “Donasies”. Daar is miskien plek daarvoor, maar wie kontroleer die aanwending van daardie fondse?   

Wil jy ook graag vir die Here werk? Mense sê dikwels hulle wil graag voltyds in die Here se diens wees. Wil jy ook? Regtig? Nou doen dit dan, gaan werk toe en wees voltyds in die Here se diens, gaan kuier by jou vriende en familie en wees voltyds in die Here se diens. Jy kry reeds 'n salaris by jou werk  en word dus reeds geborg sodat jy aan die lewe kan bly, en dit gaan baie min van jou tyd neem. Gaan vertel vir mense van die “Onbekende God”, want Hy het hulle gemaak om na Hom te soek. 

Paulus kom in Athene en verkondig vir die mense die geheim van hierdie onbekende God, maar nie met teorieë oor ses-dagskepping vs ou heelal, of hoe die mense moet doop, of hoe die eindtye gaan plaasvind, of watter Bybelvertalings, of presies hoe die Sabbat gevier moet word nie. Ja, hierdie dinge het verseker 'n plek, maar nie bokant dit wat Paulus verkondig het nie. 

Hand 17:30-31
“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”       

Die hele Evangelie in een sin: Bekeer julle, want Hy gaan regverdig oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het, wat uit die dood opgestaan het.

Hierdie boodskap oorheers alles anders, en is die belangrikste van alles. Dit bedek alles. In vers 32 sien ons hoe hulle vir Paulus uitlag oor die opstanding. Klink dit nie bekend vandag nie? Hoeveel mense trek nie die opstanding in twyfel nie. Indien jy dit nie kan glo nie, kan jy maar jou Bybel vernietig. Indien ek dit in twyfel moes trek, het die Here vir my 'n onbekende God geword.

Hier is my en jou opdrag: Rom 10:15 “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring”.

Daar is 'n wêreld daarbuite wat meer wil hoor van hierdie onbekende God. Gaan werk voltyds vir die Here, daar by jou werk, jou familie, en vertel vir mense van hierdie onbekende God. Vertel net wat jy glo, dis al. 

“Hoe wonderlik klink die vooetstappe van dié wat die goeie boodkskap bring”.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)