| 
  Is 
			jy 'n pa duisend? Weet jy, die norm waarteen ek en jy dié dinge kan 
			meet, is om onsself as aardse pa's, te meet teen ons hemelse Pa. 1 
			Joh 4 : 8 "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want 
			God is liefde".
 'n Pa duisend, is een wat sy kinders liefhet!! Job 1 : 1 - 5 In die land Us was daar 'n man met 
			die naam Job. Hy was vroom en opreg en het God gedien en die kwaad 
			vermy. 2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad 3 en was ook die 
			eienaar van sewe duisend stuks kleinvee, drie duisend kamele, vyf 
			honderd paar trekosse, vyf honderd donkies en baie slawe. Onder die 
			mense in die ooste was hy die belangrikste man. 4 Sy seuns het om 
			die beurt partytjies gehou in mekaar se huise. By sulke geleenthede 
			het hulle dan hulle drie susters genooi om saam met hulle fees te 
			vier. 5 Ná so 'n reeks partytjies het Job dan sy seuns en dogters 
			beveel om hulle vir die bring van offers te reinig, en vroeg die 
			môre het hy vir hulle almal 'n brandoffer gebring, want, het Job 
			gesê: miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes 
			gevloek. Job het dit elke keer gedoen. Job was 'n pa wat omgee. 'n Pa wat sy kinders so 
			liefgehad het, dat hy so dikwels as hy kon, vir sy kinders by God 
			ingetree het. Luk 15 : 20b - 24 Toe hy nog ver aankom, het sy 
			pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, 
			omhels hom en soen hom. 21 Toe sê die seun vir hom: "Pa, ek het teen 
			God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te 
			word nie." 22 Maar sy pa roep sy werksmense: "Maak gou! Bring klere, 
			die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy 
			vinger en trek vir hom skoene aan! 23 En bring die vetgemaakte kalf, 
			slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24 Hierdie seun van my was 
			dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry." 
			Toe het hulle begin feesvier. Nog 'n pa duisend. Een wat ongelooflik seergemaak is 
			deur sy kind, maar steeds die "ultimate" van genade betoon het en 
			vergifnis aangebied het. Nou ja, waar staan ek en jy in ons vaderskap? Hoe 
			maak ons seker dat ons ook 'n pa duisend is? Hoe lyk jou verhouding 
			met jou kinders, wat sien hulle as hulle jou sien? Dalk gaan daar nou 101 dinge deur jou kop. Dalk is 
			jy geskei en jou kinders bly nie meer by jou nie. Dalk is jou 
			kinders al self pa's. Dalk voel jy dat jy gefaal het as pa. My 
			vriend, dit is nie te laat om die drade op te tel nie. 'n Verhouding 
			word deur woorde gebreek, en deur woorde reggemaak. Ek wil 'n paar 
			punte uitlig wat ons dalk kan help om "'n Pa duisend" genoem te 
			word: 1. Voorbeeld: Daar is geen manier beter as om vir jou kind 'n 
			voorbeeld te wees nie. Dink net bietjie, hoeveel van jou pa se 
			karaktertrekke en maniere, metodes, is in jou? As daar negatiewe 
			dinge is, wil jy nie dalk die een wees om hierdie bose ketting te 
			breek nie? As jy slegte herinneringe het, verander die geskiedenis. 
			Ons sê maklik: "moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê". Dit 
			werk nie so nie. Alles wat jy doen, sal jou kind doen. Alles wat jy 
			is, sal hy wees. Kan jy regtig sê: "moenie rook of drink", as jy dit 
			self doen nie. As ek en jy ons vrouens hardhandig hanteer, raai wat 
			gaan met jou skoondogter gebeur! Het jou kind jou al sien bid? Dalk daar in jou 
			binnekamer, of jou stiltetyd plekkie. Jou voorbeeld vryf af. 2. Leer hom: Spr 29 : 17 "Gee jou seun 'n goeie opvoeding en 
			jy sal gerus wees oor hom, hy sal jou baie vreugde verskaf". Deut 6 : 6 - 7 "Hierdie gebooie wat ek jou vandag 
			gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou 
			kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op 
			pad is en as jy gaan slaap en as jy opstaan" Leer jou kinders die weë van die Here. Ek wil jou 
			vra, as jy jou kinders gedoop het toe hulle klein was (of ingeseën 
			het), dink jy ooit nog aan daardie belofte, kom jy enigsins daardie 
			belofte na? 3. Tugtig hom Spr 13 : 24 "Wie sy seun nie straf nie, het hom 
			nie lief nie. As hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig 
			is" As jy jou kinders tug, wys dit jy is betrokke. Op 
			die regte manier, nie doodslaan, vloek of uitskel nie. Ek praat van 
			reëls neerlê en daarby hou. 4. Bemoedig hom Kol 3 : 21 "Vaders, moenie gedurig by julle 
			kinders fout soek sodat hulle moedeloos word nie" Aanmoediging en bemoediging beteken nie om 
			ondraaglike eise (akademies, sport, ens.) aan jou kind te stel nie. 5. Wees lief vir jou kind se ma – respekteer haar in 
			alle opsigte Iemand het gesê: "Die beste wat jy vir jou kind kan 
			doen, is om vir sy ma lief te wees". Miskien is jy geskei - 
			respekteer dan ten minste jou kind se ma. Kom ons vat saam: · Het jy al vir jou kind gesê jy is lief vir hom? 
			Begin daarmee, sê dit elke dag. Stuur sommer nou 'n SMS, al is hy 
			dalk al uit die huis uit. · As daar dalk 'n breuk met jou kind is, wil jy dit nie vandag 
			regmaak nie? Moenie eendag langs sy graf staan en dan is dit te laat 
			nie.
 · Moenie vir jou kind te veel geld gee nie. Dikwels doen 'n pa dit 
			as 'n afkoopboete omdat hy nie betrokke is nie; ek sê vir jou: dit 
			is fataal.
 · Seën jou kinders. Lees Gen 49 : 22 waar Jakob vir Josef seën. 
			Gebruik hierdie woord, of jou eie en spreek ’n seën oor jou kind 
			uit.
 · Bid vir jou kind - ook voor hom. Bid die krag en redding van God 
			oor hom af.
 · Wees lief vir sy / haar ma.
 ... begin vandag! |