
Jy het 'n pa-storie,
ek het 'n pa-storie en elke mens op aarde het 'n pa-storie. Kortom, die
storie van jou pa, en die storie van jou pa en jy. Jou pa se nalatenskap
in jou lewe, sy invloed, sy gene en sy gewoontes. Almal van ons het een of
ander pa-storie, party goed en party sleg. Party mense vertel graag hulle
pa-storie, en sommige skram weg daarvan, dalk omdat dit net te onaangenaam
en miskien pynlik is.
My pa-storie is
nogal nie sleg nie. Ten spyte van armoedige grootword jare, het hy goed
vir ons gesorg. Hy het sy eerste motor gekoop toe ek (as jongste) skooltoe
is. Maar, hy het 'n trots in sy lewe gehad wat gemaak het dat ons met baie
groot waardigheid grootgeword het. Hoewel hy net 'n treindrywer was, was
hy die beste treindrywer op die planeet!
My pa se pa-storie
was egter nie goed nie, hoewel hy altyd respek vir sy pa gehad het. Hoe my
oupa se pa-storie was, sal ek nie weet nie. Maar nou het my kinders ook 'n
pa-storie. Ek weet nie regtig wat hulle dink van hulle pa-storie nie, en
hulle dink miskien nie eers in hierdie konteks daaroor nie. My kinders sal
ook eendag 'n pa-storie hê, en so ook hulle kinders.
Ons pa-stories
vertel baie van ons lewens. Dit vertel hoe ons grootgeword het, maar ook
hoe ons gevorm is, en wie ons in ons lewens sal word. Min mense het 'n
volmaakte pa-storie, maar almal word deur hulle pa-stories beïnvloed.
Dink nou net vir 'n
oomblik hoe dit sou wees as elke mens op aarde 'n goeie pa-storie sou hê.
Besef jy hoeveel minder misdaad daar sou wees, hoe wonderlik dit in
gesinne sou gaan, hoeveel “perfekte” huisgesinne daar sou wees, hoe
verantwoordelik die bevolking sou wees en hoe goed mense sou presteer in
hulle lewens? Nee, ek beweer nie dat alle probleme as gevolg van slegte
pa-stories is nie, maar ek glo in my hart dat die wêreld 'n baie beter
plek sou wees.
Joh 5:18-26
Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy
het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem
en Hom so met God gelyk gestel. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê:
“Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen
maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die
Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen;
en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal
staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun
ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die
oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die
Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook
nie die Vader wat Hom gestuur het nie. “Dit verseker Ek julle: Wie luister
na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy
word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe
oorgegaan. Ek verseker julle: Daar kom 'n tyd, en dit is nou, wanneer die
dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor
gee, sal lewe. Soos die Vader die lewe in Homself het, het Hy die lewe ook
aan die Seun gegee om dit in Homself te hê.
“Hy doen maar net
wat Hy die Vader sien doen”. Hier lees ons van Jesus, wie se pa-storie 'n
volmaakte een is. Niemand sou sekerlik vir 'n beter een kon vra nie. Maar
nou sit ek en jy met onvolmaakte pa-stories, en ons laat ook onvolmaaktes
agter.
Ek sien onlangs die
fliek “Courageous”, en dit maak 'n ongelooflike indruk op my. Die fliek
kom uit dieselfde stal as Flywheel, Facing the Giants en Fireproof, almal
gemaak deur 'n Christelike kerk in Amerika. Baie goeie kykstof.
Courageous gaan oor
vyf manne wat gekonfronteer word met vaderskap, en die eise wat dit stel.
'n Tragedie in die een persoon se gesin laat hom egter nuwe keuses maak,
nadat sy “afwesigheid” in sy gesin hom los met baie slegte skuldgevoelens.
Dalk sou hy gevoel het dat hy werk aan 'n baie slegte pa-storie. Hy neem
egter nuwe besluite en stel die saak betyds reg, deur sy nuwe besluite uit
te voer. En sy kind kry 'n goeie pa-storie, eensklaps!
Baie huise het nie
'n pa nie, miskien as gevolg van egskeiding, of dalk omdat 'n pa net nooit
in die prentjie was nie. In daardie geval werk die ma aan die pa- en
ma-storie, en meesal doen sulke ma’s 'n uitstekende werk! Ek eer enkel
ma's wat dit regkry. Moeders wat al die moontlike rolle vervul en steeds
bou aan kinders wat eendag self 'n goeie pa-storie gaan skep.
Daar is egter 'n
ander kant. 'n Situasie wat erger is as geen pa nie, is een waar die
pa-storie sleg is MET 'n pa in die huis. Hetsy as gevolg van totale
afwesigheid, of waar die pa die gesin verwoes. Drank is dikwels 'n groot
faktor daarin. Min mense met 'n drankprobleem besef hoe hulle hul
kleinkinders se pa-stories verwoestend beïnvloed. Die sondes van die
vaders...
My en jou opdrag van
God, is om die beste pa-storie te skep vir ons kinders, en die Bybel gee
al die riglyne wat ons nodig het. Dit strek baie wyd, van “spaar nie die
roede nie”, tot “moenie julle kinders moedeloos maak nie”. Boonop kan ons
te enige tyd in Jesus se voetspore stap, wat ook 'n wonderlike pa-storie
verseker. Die model wat die Bybel voorhou, is een waar daar harmonie in
die huis is, en waar ma en pa vir mekaar lief is en omgee.
Die realiteit is
egter iets anders. Baie pa's werk eerder aan 'n goeie baas-storie, want
dit is die persoon wat ten alle tye gelukkig gehou moet word. Ander werk
weer aan 'n goeie Mammon-storie, want “geld wat stom is....” - so glo
baie. Party ouens werk kliphard aan 'n lekker poppie-by-die-werk storie,
want gesinswaardes maak plek vir wellus. Nog manne werk graag aan 'n goeie
golf-storie, want ons kort die oefening, jy weet mos...
En so werk baie mens
aan verskillende stories. Ongelukkig kom ons te laat agter dat ons net
geslaag het in 'n goeie flop-storie.
Die grootste opdrag
is egter om te werk aan 'n goeie Christus-storie, en om ons kinders te lei
in hulle eie goeie Christus-storie. 'n Goeie Christus-storie beteken dat
ons sorg dat ons geloofsekerheid het, die Here met ons hele hart dien en
dit ook by ons kinders inprent. Dit beteken ook dat ons Geestelike
verantwoordelikheid vir ons kinders vat, soos in Jos 24:15 “Wat my en my
familie betref, ons sal die Here dien”. Het jy al daardie besluit geneem?
Kan jy hoor dat daardie teks sê:- “Ons sal...” Dit is 'n keuse en 'n
belydenis, wat geneem word, uitgespreek word en toegepas word. En dit my
vriend, skep die beste pa-storie wat ooit geskep an word, want jou kinders
het 'n baie goeie kans om self eendag daardie besluit te neem in hulle
gesinne.
Dis nooit te laat om
'n goeie pa-storie te begin nie, maar hou gouer, hoe beter die storie. En
'n enkel-ma kan 'n wonderlike versorger-storie skep, en nalaat vir haar
kinders.
'n Goeie pa-storie
gaan nie net oor wat ons doen nie, maar ook oor wat ons nie doen nie.
Sommige pa's is so afwesig, dat 'n kind selfs smag na 'n pak slae of 'n
geskreeu, want negatiewe kommunikasie is dan beter as geen kommunikasie.
Maar dis nie ideaal nie, en ook nie nodig nie. Dis buitendien nie lekker
nie! 'n Huis waar vrede en vreugde heers, is reeds 'n goeie pa-storie.
Daar is baie dinge
wat 'n goeie pa-storie verseker:-
l
Tyd. Daar is niks wat meer
geborgenheid verseker as tyd wat aan 'n kind afgestaan word nie.
l
Liefde tussen ouers. Elke
kind wil graag in sy pa-storie skryf dat sy ma en pa vir mekaar lief is.
l
Balans tussen werk en huis.
Almal moet werk, maar die meeste mense moet bietjie minder werk.
l
Betrokkenheid by die gesin
maak dat die gesin mekaar ken. Het jy al gehoor dat iemand se:- Ek het
nooit kon glo dat my kind DIT sou doen nie. Ek weet nie waartoe die bure
se kind in staat is nie, want ek bly nie saam met hom nie. Maar ek bly
saam met my eie kind in die huis.
l
Kinders wat deur die ouers
geleer word, maak meer en meer soos die ouers. Goeie dinge wat ge-”teach”
word, vryf af op die volgende geslag, en sorg vir nog 'n goeie pa-storie.
l
As God jou vader is, in
alle opsigte, het jy ook 'n goeie Geestelike pa-storie, outomaties. 'n Man
wat goed met God konnekteer, se kinders konnekteer baie beter met hom as
persoon. Rolmodel.
l
'n Ouer wat sy kind leer,
dag vir dag, waar jy op die pad is of waar jy by die huis is, se gesag
word baie maklik aanvaar. (Deut 6:6-7: “Hierdie gebooie wat ek jou
vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou
kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad
is, as jy gaan slaap en as jy opstaan”)
l
Party mense se
kinders oorheers die huishouding so, dat die pa net werk aan 'n kind-storie,
waar die kind sy pa se gesagsrol oorneem. So 'n kind sal ook nooit 'n
goeie pa-storie hê nie.
Waar begin ek met 'n
goeie pa-storie, as myne sleg is? Dit begin met 'n besluit, wat
bekendgemaak word soos in Josua. “Wat my en my gesin betref, ons sal die
Here dien”.
In die fliek
“Courageous” daag die een man sy vriende uit om saam met hom 'n
onderneming te onderteken waar hulle hulleself verbind om opnuut 'n
besluit te maak om verantwoordelikheid vir hulle gesinne te neem. Hulle
het 'n groot geleentheid daarvan gemaak om hierdie dokument voor hulle
families te onderteken en 'n eed geneem om getrou te bly aan daardie
onderneming.
Hulle was daarna
dikwels aan versoekinge blootgestel, maar daardie onderneming het gemaak
dat hulle gewerk het aan 'n goeie pa-storie.
Klik
HIER om die dokument te sien, en besluit self of jy nie dalk hierdie
onderneming wil teken nie.
Dit is nie net op pa's van toepassing nie, maar op die hele
gesin.
Mag die Here vir my
en jou help, lei en vorm om te werk aan goeie pa- en ma-stories. Dit sal
'n goeie nageslag verseker.
|