Ek
staan langs die bed van ‘n persoon wat besluit het dat die lewe nie
meer die moeite werd is nie, wat besluit het dat die dag van more al
sy skoonheid en belofte verloor het. Iemand wat gevoel het dat more
geen sonskyn meer in hom het nie, en dat die lewe ‘n kombers getrek
het oor alles wat die moeite werd is om voor te veg. Die Drakensberg
het net te hoog geword, die pad té vol van die “potholes” van die
lewe. Dit is só hartseer om te sien. Sóveel potensiaal, sóveel
kundigheid, iemand wat sóveel liefde kon gee, iemand wat boonop ‘n
pad met die Here gestap het. Dié persoon het dit oorleef – Goddank!
Maar wat van môre? Môre wat nou nog meer as ooit , pikswart geword
het. Só leef ons vandag in ‘n tyd waar die lewe gedefinieer word in
terme van die voorspoed wat ek dag tot dag beleef. Die afgelope tyd
staan baie mense só langs iemand se bed, en gesinne bly met die
hoekoms agter. Vir een mens is more die wonderlikste avontuur wat
voorlê, vir die ander een is more pikswart.
Ps 102:1-12
Gebed van 'n hulpelose wanneer dit met hom sleg gaan en hy sy klagte
uitstort voor die Here. Here, luister tog na my gebed, hoor tog my
geroep om hulp! Moet U tog nie van my afsydig hou nou dat ek in
die nood is nie. Luister tog na my wanneer ek U aanroep, verhoor tog
gou my gebed, want vir my verdwyn die dae soos rook. My liggaam
brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras, ek het
alle eetlus verloor. Ek het net vel en been geword van al die pyn.
Ek voel so verlate soos 'n pelikaan in 'n woestyn, soos 'n uil
tussen murasies. As ek wakker word, voel ek soos 'n eensame voël op
'n huis se dak. Die dae deur verneder my vyande my. Dié wat my so
verkleineer, gebruik my naam as 'n vloekwoord. As is my daaglikse
brood; wat ek drink, is met my trane gemeng, want u toorn en u
gramskap het my getref, U het my verwerp en weggegooi. Soos 'n
skaduwee wat lank word, is my lewe naby sy einde, ek is soos
verdroogde gras.
“This is the end of my life” – so begin die brief.
Party briewe probeer verduidelik, party vra vergifnis, nog ander
verwyt. Geen brief bring vertroosting nie.
Soms wil die son net nie deur nie. Maar weet jy, dit
hoef nie so te wees nie. Slegte omstandighede kan tog nie alles wat
ons lewe noem, oordonder nie?
In Ps 18 skryf Dawid ook van sy swaarkry, en hy bekla
sy lot by die Here omdat sy vyande vir hom te veel word. Net soos
depressie, moeilikheid, swaarkry, armoede, werkloosheid, slegte
huwelik, en tonne ander goed, vandag ons vyande is.
Ps 18:17-20
Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit
geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk
was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle
my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan
bewaar. Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my
liefhet.
Hy het my gered omdat Hy my lief het. Maar nie
dadelik nie, nie sonder bitter swaarkry nie, nie sonder ‘n oorlog
nie, nie sonder wonde nie. Maar ... God het vir Dawid gered. Soos
wat Hy vir my en jou sál red, as ons Hom aanroep. My vriend, kan jy
sien dat God nie vir Dawid (vir wie Hy baie lief was) teen alle
swaarkry beskerm het nie? Sien jy dat God nie vir Dawid verlaat het
nie? Besef jy dat Dawid vol geestelike letsels gesit het, maar
steeds het Hy aan God vasgehou. Hy het steeds bly hoop, bly vertrou,
bly glo, dat God hom uit sy doodsbestaan sou verlos.
Ps 18:29-32
U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is
om my. Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen
stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here
sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik,
wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is 'n rots?
By God is verlossing, en uitkoms. Hy bly die ewige
Rots. As more so gitswart lyk, is die geringste liggie genoeg om al
die donker te oorheers. Donker staan nie ‘n kat se kans teen die lig
van ‘n klein ou kersie nie. En God is die lig. Vers 29: “U, Here,
laat my lamp helder skyn, my God gee lig as dit donker is om my”.
Partykeer, gebruik die Here vir jou en my om die lig te gaan wees
waar Sy kinders in die donker vasgeval sit. Ek staan langs hierdie
persoon se bed, en ‘n geweldige skuldgevoel kom oor my. Moes ek nie
meer gebel het nie, en meer gaan oë wys het nie? Meer gebid het,
meer sáám gebid het nie? Meer omgee gewys het nie? En die antwoord
kom duidelik: “Ja” – ek moes meer dáár gewees het; hoeveel vat ‘n
oproep? Ons het mekaar nodig, weet jy? En omdat Jesus nie self hier
is in ‘n menslike gestalte nie, moet ek en jy daardie rol vir mekaar
aanneem. Dalk net ‘n oor wees, so bietjie belangstelling wys, sodat
iemand dalk die liefde en krag van die Here kan ervaar.
Ps 18:33-34
God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete
soos dié van 'n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan.
Dieselfde woorde as Habakuk 3. God omgord my met krag.
Dit hang net af hoeveel ons kan vasbyt. Jy sien, na “nag”, breek
“dag” altyd aan. Na die woestyn, is daar altyd ‘n oase, ‘n Kanaän.
Die vraag is net – kan jy nog vasbyt? En diegene wat in die middel
van die oorlog is, kan jy vra vir hulp? Kan jy jou swaarkry erken,
en betyds iets doen?
As die nag so donker is, en die dag niks beter as die
nag lyk nie, is God steeds daar. Hy is altyd daar. Moenie net vir
God vertel hoe groot jou probleem is nie, vertel bietjie vir jou
probleem hoe groot God is. Onthou, die genade van God kom juis tot
volle krag as ons nie meer krag het nie.
Dieselfde Dawid wat in desperaatheid tot God uitroep
dat sy einde naby is, skryf Ps 146:1-5:
Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek
lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. Moenie op
magtiges vertrou nie, nie op 'n mens nie; hy kan jou nie red nie. Sy
asem verlaat hom, hy word weer grond en sy planne is daarmee heen.
Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God.
Is dit nie so dat ons self net té veel planne probeer maak nie? Of
te veel op onsself probeer vertrou nie? Of te veel op mense
staatmaak nie? As God vir ons “nee” sê in ‘n krisis-situasie, is
die omdat Hy altyd ‘n beter situasie in gedagte het.
Kan jy vasbyt? Kan jy nog ‘n bietjie wag? Kan jy
ophou spartel, sodat God jou kan oplig uit jou doodstryd? Is jy
bereid om soveel op die Here te vertrou dat dit alles wat jy sien en
ervaar kan oorheers? Soos oom Angus gesê het: “Don’t walk by what
you see, walk in faith” As jy net ‘n bietjie in geloof kan glo, sal
jy weet dat God die deurbraak kan gee.
‘n Paar punte om te onthou:
-
God is groter as
enige probleme
-
Géén probleem is
te groot om op te los nie
-
Daar is mense wat
vir jou lief is
-
Môre sal die son
weer skyn, daar sal weer lig deurbreek
Vertrou jy op mense? Of op jouself? Of op die Here?
Gee vir die Here ‘n kans. Gee tyd. Vertrou. Glo. Sien ‘n nuwe dag
aanbreek. Daar is oorwinning!
|