AS DIE SKOEN JOU PAS

As die skoen jou pas, trek hom aan, sê die bekende spreekwoord. Ás hy jou pas!

Julie 1977 beland Willempie in die army en na ’n mediese ondersoek, haarsny, rondhardloop, luister na vloek en skree, beland ons na so twee dae by die stoor vir ons nuwe “designer outfits”. Sjoe en daardie sersant agter daai toonbank is kwaad gebore. Jy wil nog sê: “Meneer, ’n no 30 skinny asb.”, toe het hy jou klaar uitgekyk en opge-size en pak hy reeds ’n hoop goed voor jou neer. Klere vir 2 jaar. Huh? Hoe weet hy hoe groot moet daardie boots wees? Twee pare, splinternuut, kliphard, uit die boks uit. Jy word dubbelpas tent toe gejaag en klim met verwagting in daai spik-splinternuwe ontwerpersuitrusting in en soek ’n spieël om jouself te beskou. In ’n tent? Oeps, geen spieël. Inplaas daarvan om soos Don Juan te lyk, lyk jy soos Sad Sack met skoene wat hééltemal te klein is. Terug stoor toe! “Meneer ... ag ek bedoel, Sersant, hierdie stewels....” Toe gebruik hy army-taal om te sê jy moet weggaan! So begin die verhouding met twee paar stewels wat op die einde 2 jaar en 8 kampe saamgeloop het en gehardloop het. Na ’n paar weke in basies het hulle gepas en nét aan my eie twee pote. Perfek gepas! Saam het ons basies gedoen, PT gedoen, gedril, gehol en baie vêr geloop. Op die grens moes ek een nag hardloop vir my lewe na ’n loopgraaf toe; toe die rooi-oog missiele kom, het ek eers my stewels aangetrek.

Ek en jy loop ons lewenspaaie deur, met skoene wat vir ons en ons alleen gemaak is. ’n Skoen, jóú skoen, pas aan jóú voet. As die skoen jou pas, trek hom aan.

Eks 3:5 (Toe die Here aan Moses verskyn in die brandende bos)
Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.”

God verwag van Moses ’n gebaar van respek. So asof die Here vir Moses wil stroop van dit wat vir hom belangrik is . Daai skoene wat amper soos ’n gemaksone is, moes hy uittrek. Moses, jy het tot hier geloop, maar hier gaan jy nou eers vir ’n rukkie vertoef. Die mense in daardie tyd het geken van loop. Die ding wat jou deesdae hoofsaaklik op die pad hou, is jou motor se bande; in Moses se tyd was dit jou skoene en hulle het seker hulle skoene vinnig deurgeloop. Behalwe waar die Here hulle op die pad gelei en versorg het:

Deut. 29:5
Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie.  

Hoe loop ek en jy deur die lewe? Waar loop ons? Waarheen neem ons skoene ons, of liewer, waarheen neem ons ons skoene? Kan ek en jy ’n ander mense se lewenspad kritiseer en veroordeel as ons nie self daardie pad geloop het nie?

Om die Visrivier te stap is nie vir sissies nie; dit is 86km oor 5 dae van pure vasbyt. Jy kan saampraat as jy al daar was. So ook die Comrades – het jou tekkies nog nie daardie pad gedoen nie, kan jy nie eintlik saampraat met dié wat elke tree van die pad afgelê het nie. Ons het dikwels baie te sê oor mense, maar as ons nie in hulle skoene was nie, moet ons liefs stilbly. Het jy al ’n ander ou se lewenspad begeer? Dalk sien jy iemand se welvaart sê: Ja, jou ryk ou blikskottel! Maar, weet jy watter skoene moes hy dalk deurloop om uit te kom waar hy nou is? Dan dink ons partykeer so ’n ou skuld ons iets. Is jou skoene nommerpas vir jou, of begeer jy iemand anders s’n? 

Jesus het geloop om te kom waar Hy wil wees. Vêr geloop. Hy het Jerusalem en omstreke platgeloop met net een doel en dit is dat mense hulle moet bekeer. Paulus het vêr geloop, baie vêr, sodat mense hulle moet bekeer. Weet jy, ek het al gehoor dat daar groeperinge is wat Paulus se leerstellings verwerp, maar as hulle nie sy skoene saam met hom deurgeloop het nie, is hulle gepraat net ’n geblaf in die wind. Die nuwerwetse sogenaamde vrydenkers wat Jesus verwerp, het seker nog nie een tree geloop waar dit saakmaak nie. Hulle gepraat is ook ’n geblaf in die wind. As jy nog nie Golgota toe gestap het met jou eie voete en jou eie kruis op jou rug nie, weet jy nie wat dit beteken om ’n Verlosser te wees nie. Daar is mense wat kilometers vêr “loop” terwyl hulle op die rusbank sit met hulle voete op ’n tafeltjie en Christene kritiseer wat werklik die pad loop, terwyl hulle self nog nie een geestelike tree gegee nie. Daar is mense wat al hordes kere deur die Bybel gestap het, jare saam met God geloop het, wat kritiek kry van mense met ’n stortvloed van eie opinies. Ek hoor hoe mense tot bekering kom, glo hulle is vervul met die Heilige Gees en dan ander wil aanvat wat al dosyne pare geestelike skoene deurgeloop het. Dis net ’n geblaf in die wind. 

Is jy tevrede met die pad wat jy moet loop? Het jy die regte skoene aan vir jou pad? Mens stap verseker nie die Visrivier deur met balletskoentjies aan nie. Ons lewenspaaie is nie dieselfde nie, ons het nie dieselfde doel in die lewe nie en daarom moet ons nie iemand anders se skoene en lewenspad begeer nie. Die Here sal ons nie paaie laat loop sonder om vir ons die gepaste skoene te gee nie. Jy weet, ons loop soms paaie wat ons nie moet loop nie en ons draf ons skoene deur agter die verkeerde dinge aan en dit is teen die Here se wil. Gelukkig kan die Here ook daardie paaie gebruik om ons skoene te vorm om nommerpas vir jóú voet te sit. As jy soms ’n klippie in die skoen voel, moenie dink dis altyd straf nie, soms is dit deel van vorming. ’n Blaas wat oor en oor stukkend geskuur word, word naderhand ’n eelt wat baie loop kan vat.  

Dra jou eie skoene en wees bereid om lank en vêr saam met die Here te stap, want dit bring wysheid en kennis.

Jer. 2:25
Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie!
’n  Baie ernstige waarskuwing; dis mors van goeie skoene en pad. Loop die reguit pad, jou skoene sal 40 jaar hou as dit die Here se pad is.  

Ef. 6:14-15
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.

Dit kos tekkie slaan om by mense uit te kom met die goeie nuus van die evangelie. 

Rom 10:15
En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

As die skoen jou pas, trek hom aan. Hierdie skoene van bereidheid sál jou beslis pas en dit sal wonderlike voetstappe laat weerklink. Dit sal nie verslyt nie, al loop jy dat jou voete vol blase is.  Ek dink dit is die pad wat Jesus gestap het, asook Paulus en al die dissipels. Dis hoekom ek en jy vandag die Here ken. Die goeie boodskap van vrede het deur die hele wêreld geloop ... te voet!

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)