BESIG


Hoe was jou naweek? Het jy so bietjie gerus? Waarmee was jy besig die afgelope tyd? Gaan jy vandag baie besig wees? En môre en die res van die week? Is volgende Saterdag klaar vas, of gaan jy dan ook besig wees? Is jy vanaand besig, reeds besig Desember? En wat van volgende jaar? Wat is die eerste ding wat jy sê as iemand vra hoe dit met jou gaan? Sjoe, ons hol rond, besig met dit, besig met dat! Nie tyd vir niks!? Vreeeeslike woord dié "besig"-woord.

Kom ons kyk gou bietjie terug na die afgelope jaar. Dié jaar toe ons so besig was. Wat kan ons daarvoor wys? Is alles op datum? Ai tog! Is ons nie maar soms so bietjie pateties nie! Weet jy wat gebeur met hierdie oordrewe besig wees? Ons verwoes onsself. Ons begin hartsiektes ontwikkel, en kry beroertes, as gevolg van stress! Ons liggame gaan agteruit, ons kry vreeslike plooie, ons gebruik al hoe meer medikasie, hardloop van bakboord na stuurboord, hol rond vir werk, jaag agter die kinders aan, werk, werk, werk, skeep ons vriende en familie af, rus niks meer nie. En uiteindelik, word ons woordeskat net drie woorde - "Ek is besig".

Dis die een kant van die saak. Daar is nog 'n kant. Ek dink soms dat dit vir  mense 'n statussimbool is om die hele tyd so besig te wees. Ek het 'n vriend gehad wat se ma altyd moeg was. Moeg gewerk, moeg ge-alles! Maar ek kon nooit sien waarvan nie! Sê iemand nou die dag ook vir my hulle is so verskriklik besig;  ai, ek het die man jammer gekry, totdat hy probeer verduidelik het waarmee hy kwansuis so besig is. Ek het amper gelag. Jy sien, party mense is regtig besig, en ander sê regtig hulle is besig, hulle het niks tyd nie, hulle is besiger as enige iemand anders. Soms is dit juis húlle wat heeldag rondsit en niks doen nie.

Besig wees. Was dit God se plan? Kom ons kyk wat het Hy gedoen.

Gen 2 : 1 - 3 "Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2 Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3 Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het."

Jy sien, God het in die skepping voorsiening gemaak vir 'n ritme wat maak dat die mens beskerm word teen homself. Hierdie oordrewe gejaag is nie deel van Sy plan nie. Maar ons, ons word so taak gedrewe, dat alles anders daarvoor moet plek maak. Ons word horlosie- en sirene-mense, hardlopers, skarrelaars, haastige afsluk-mense, maak-gou-mense, ons-is-laat-mense. Kitskos, kitsoplossings, kits stiltetyd (al gehoor van die een minuut stiltetyd boekies?) Mens kry blykbaar nou selfs 'n boek: die 10 dae MBA-graad. Ons rekenaars moet nog vinniger, shortcuts op die selfoon. Weet jy wat die wêreld vir jou vertel? Koop hierdie en hierdie, dan het jy meer tyd vir jou geliefdes! Twak man!

Hierdie besig-wees maak ons: * senuweewrakke * hartlyers * gespanne en vol stres * maagsere * pil-poppers

En hoe reageer ons? Ons: * kook van frustrasie * ontplof oor niks * verwoes verhoudinge - en ons gesinslewe * begin in vrees leef oor môre * verwoes ons slaappatrone.

En dan, uiteindelik,  skuif ons vir God eenkant.

Het jy al dié storie gehoor? Per e-pos. Satan hou 'n konferensie met sy demone. "Ons kan nie keer dat Christene kerk toe gaan nie. Of Bybel lees en die waarhede verstaan nie. Ons kan nie eers keer dat Christene 'n verhouding met God het nie. En as hulle eers hulle verhouding met Jesus baie sterk en vas het, is ons verlore. Die demone vra toe, maar wat kan ons dan doen? Toe kom Satan met 'n meesterplan! "Hou hulle besig - met beuselagtighede en gaan ontwikkel dinge wat hulle aandag aftrek. Laat hulle koop, koop, koop, en dan leen, leen, leen. Sodat hulle verskriklik hard moet werk, werk en werk. Vang hulle so vas in hierdie patrone dat hulle vrouens moet werk, werk en werk. Maak hulle so gulsig vir aardse goeters dat hulle selfs hulle gesinne sal inruil daarvoor! Oortuig hulle om laaaang ure weg te wees van die huis af tot selfs 13 ure per dag, (en hulle word net vir 8 betaal). Kweek soveel vrees in hulle oor hulle finansies, en verdof hulle gewete oor hulle geliefdes. Dit sal wonderlike dinge vir ons bose koninkryk te weeg bring - egskeiding, gebroke gesinne, dwelms by die kinders, stress, selfmoord onder tieners omdat pa en ma weg is! Maak hulle e-pos posbusse vol met goed, ja, selfs geestelike boodskappe - dit vat nog meer tyd. Neem ook tyd van hulle stiltetyd weg - en neem die plek daarvan. Hulle sal ook nie meer kan getuig nie! Die forward-knoppie sal die enigste poging van getuienis wees. Want daar word 'n skuldgevoel aan gekoppel as hulle nie aanstuur nie! Hou hulle te besig om in God se natuur te kom, te besig vir intimiteit tussen man en vrou - gee hulle sommer hoofpyn. Laat Kersvader die plek van Jesus in 'n krip inneem. Laat sport op Sondae hulle van die huis van die Here wegneem. Leer hulle 'n verwronge sin van liefde. Oortuig vir Meneer dat hy nie gevra het om verlief te raak op poppie by die werk nie. Laat stiltetyd 'n stille dood sterf!

Wat 'n plan van Satan! Dink jy hy is suksesvol?

Natuurlik moet ons werk, en ja , baie baie vrouens moet net eenvoudig werk. Maar, ek glo die meeste hoef nie. Wat sal jou kind kies?

Wat sal ek en jy nog prysgee ter wille van 'n gejaag na aardse dinge? Ons huwelike, kinders, vriendskappe, selfwaarde - ONS SALIGHEID?

Al wat ek sê is, daar moet 'n balans wees! 'n Goeie vriend van my het my 'n amazing woord geleer. Drie letters. NEE!!

Dink bietjie oor hierdie vraag: het jy dalk selfs te veel Geestelike aktiwiteite?

Dalk moet jy 'n bietjie beter tyd beplanning doen,  miskien effens afskaal met sekere aktiwiteite. Oorweeg 'n kleiner, goedkoper motor of huis, goedkoper skool;  dalk moet jy  nie agter hierdie groot nuwe pos aan hardloop nie. Die een met die baie geld, genoeg vir 'n groot mediese skema, vir die groot maagseer - die een met 'n ingeboude begrafnis plan...

Wees versigtig, dit is dalk nie die moeite werd nie. Maak jou somme en kyk wat jy moet opoffer, wat jy gaan verloor. Bedaar ’n slag, word rustig.

..... lees nog meer oor "Besig" hier >>
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)