BEWYSE – 20 Mei 2009 


Ons leef in ‘n wêreld waar die mens alewig soekend is. Soms is daar dinge wat ons ontwyk, wat ons net nooit raaksien nie. Soms kyk ons dinge mis, omdat ons net nie wíl sien nie. Soms sien ons dinge raak, maar ons misken dit. Soms soek ons bewyse... 

Joh 20:19-28 Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: "Vrede vir julle!" Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien. "Vrede vir julle!" sê Hy weer vir hulle. "Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook." Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: "Ontvang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie." Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: "Ons het die Here gesien!" Maar hy sê vir hulle: "As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie."  Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by hulle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: "Vrede vir julle!" Daarna sê Hy vir Tomas: "Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig." En Tomas sê vir Hom: "My Here en my God!" 

Tomas het gesien, ervaar, Jesus gehoor, saam met Hom geloop … alles! Maar toe twyfel hy nog steeds. In hierdie traumatiese tyd moes dit seker bitter moeilik wees om regtig staande te bly. En toe hy Jesus voor hom sien staan, vra hy bewyse. En Jesus gee dit vir hom: bring jou vinger, kyk na My hande. TOE glo hy. Net so kyk ons daagliks sulke wonderlike dinge rondom ons mis, omdat ons alles as so vanselfsprekend aanvaar. So kom die ongelowige en hy sê dat niks wat ons as Christene doen vir hom sin maak nie. Die ateïs sê hy kan nie glo in iets wat hy nie kan sien nie. Hy soek bewyse, en hoe meer bewyse jy voorhou, hoe meer word dit geïgnoreer. Maar … as jy WIL sien, dan sal jy! Kan jy my nou sien? Weet jy hoe ek lyk? Behalwe as jy my persoonlik ken, sal jy sê “nee”. Glo jy ek bestaan? Wel, as jy soos ‘n ateïs dink, sal jy sê nee, want ek sien hom nie, daarom bestaan hy nie. Jy sien, die Here het vir ons twee belangrike dinge gegee: sintuie en gesonde verstand. Die feit dat jy my kan hoor praat oor die radio, bewys vir jou dat ek bestaan, of hoe? Dit kan nie anders nie! Met jou verstand kan jy dit uitredeneer. 

Die wêreld is vol bewyse: ‘n sagte geritsel van ‘n boom bewys dat daar ‘n windjie waai, al sien ons nie die wind nie. In Gen 3:8 hoor ons hoe God in die aandwind in die tuin wandel. Soms is die wind net ‘n sagte geritsel, soms is dit stormwinde wat dakke afwaai. Die Here verskaf die bewyse dat die wind bestaan. Aan die ander kant kan ons die son sien, sowel as die bewyse dat dit bestaan. As ons kan sien waar ons loop, sonder kunsmatige lig, weet ons dat die son skyn. In die skeppingsverhaal lees ons dat God die groot hemelligte skep om lig te verskaf bedags en snags. ‘n Lekker warm broei in die sonnetjie bewys dat die son se strale gearriveer het. Die Here gee so baie bewyse; partykeer het ons net so bietjie kennis en redenasievermoë nodig om dit te snap. Die Here gee vir die mens soveel insig en verstand dat hy by wonderbaarlike ontdekkings kan uitkom, en bv natuurwette kan verstaan en dit toepas en gebruik om sy lewe te verbeter. So het Einstein se formule E=mc2 veroorsaak dat ons kernenergie kan opwek wat elektrisiteit kan voorsien. Wonderlik! 

Opgrawings bewys die geskiedenis. Dit bewys dat die mense geleef het waarvan die Bybel praat. Ongelukkig is die negatiewe ook waar. Leuens bewys ‘n vals persoon. Die Bybel sê so. Gierigheid bewys die moontlike gevaar van geld. Bose planne bewys ‘n onregverdige mens. Oorlog is die bewys van magmalheid. ‘n Aanhoudende gekla bewys ondankbaarheid. Geknakte kinders bewys gebroke huise. Geweld in die huis bewys die geweldadige effek van egskeiding. Dwelms en selfmoord bewys soms afwesige ouers. Kindermolestering bewys ‘n siek siel. Die positiewe kant: ‘n bloesende vrou bewys ‘n man wat haar liefhet. Vrolike gelag bewys vrede en vreugde in ‘n huis. Kinders wat dankie sê bewys ‘n goeie opvoeding. Vrede in jou hart bewys vergenoegdheid. ‘n Lekker drukkie bewys iemand wat omgee. So ook ‘n onverwagse oproep. ‘n Kind wat vooruitgaan in die lewe is die bewys van stabiliteit in die ouerhuis. ‘n Liefdesbriefie in die kosblik bewys dat iemand aan jou dink. Gebrek aan oordadige bekommernis bewys dat ‘n persoon werklik kan vertrou. Iemand wat gereeld getuig van God, bewys opregte geloof. Sing, lag, dans, bewys dat God iemand se hart geïnfiltreer het. 

Die Skepping bewys ‘n Skepper. Kompleksiteit bewys ‘n briljante ontwerper. Die Bybel bewys die skrywers, en die ongelooflike akkuraatheid daarvan bewys die werking van die Heilige Gees. ‘n Graf bewys ‘n dooie liggaam, maar ‘n leë graf bewys ‘n opgestane Here. Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing bewys die vrug van die Gees. Genesing bewys nie ‘n dokter nie, maar ‘n Geneser (wat die dokter as instrument gebruik). Om méér te hê as wat jy verdien, bewys God se seën. Om weer op te staan nadat jy geval het, bewys dat God dáár is vir jou. Om vandag te kan ingaan terwyl jy nie weet hoe jy dit gaan maak nie, bewys vertroue en hoop in dié Een wat jy nie kan sien nie. Om terug te kyk en soms net één ry spore te sien, bewys dat God nog altyd getrou was. Om te ervaar hoe diepgewortelde pyn met tyd genees, bewys dat daar ‘n “gentle Healer” aan die werk is in jou lewe. Onbeskryflike genade bewys dat daar ‘n kruis was. Ongekende liefde bewys 1 Kor 13 korrek: nou bly geloof, hoop en liefde – die grootste hiervan is die liefde. ‘n Klop aan jou hart, bewys dat Jesus met jou ‘n feesmaal wil hê. ‘n Seun bewys 'n vader – so bewys die Seun, Jesus Christus, die bestaan van God die Vader. Sy hemelvaart bewys ‘n plek waar ek en jy vir ewig saam met die Koning van die konings kan heers. 

Soek jy nog bewyse? Is hierdie nie genoeg nie? Is dit nie wonderlik hoe God Hom aan ons openbaar nie? 

As jy nou ‘n sagte stem in jou gemoed hoor, bewys dit dat God met jóú ‘n saak het.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)