CHRISTENSKAP KAN GEVAARLIK WEES

Christenskap is nogal ’n voorreg. Dit spruit uit ’n verhouding met God en is onderworpe daaraan dat ons Jesus as Saligmaker aangeneem het. Die lewe van iemand wat Jesus as Saligmaker aangeneem het, is geensins gevrywaar van swaarkry nie en moeilike tye sal steeds kom. Dis egter vir die gemiddelde volgeling van Jesus sekerlik steeds lekker om ’n Christen te wees. Ons beleef geestelike groei, dinge gaan dieper en dieper, kennis neem toe, ons begin getuig, self te preek, mense te wen vir die Koninkryk, ons begin Skrif uitlê en profeteer, ons bid vir mense, gebruik ons gawes en glo ons kan die waarheid onderskei. Dis wonderlik, is dit nie? Inderdaad, maar weet jy, daar kom ’n tyd wanneer ons mooi moet besin waarmee ons besig is en hoekom ons daarmee besig is, want daar kom ’n tyd waar Christenskap vreeslik gevaarlik kan raak. Ek bely vandag dat ek al in die verlede met ’n skyn van hiper-geestelikheid mense weggestoot het, selfs weggestoot het van die Here af.

So wonderlik en salig as wat Christenskap kan wees, so gevaarlik kan dit word. Ek dink nie dis te moeilik om jouself Geestelik só te verhef, dat mense eerder na jóú kyk as na God en sy Woord nie. Ek glo ons beweeg dan op ’n terrein wat buite die wil van God is. Dan raak Christenskap gevaarlik.

Ek wil vandag bietjie kyk na ’n paar dinge wat na my mening Christenskap gevaarlik kan maak:

HOOGMOED
Jes. 2:11 “Die hoogmoediges sal tot ’n val kom, die selfversekerdes sal verneder word op dié dag sal nét die Here hoog wees.”

Ek dink ons almal het ’n skoot hiervan weg. Hoogmoed maak Christenskap gevaarlik. Was jy al in ’n geselskap waar mense van hulle Christenskap praat op ’n manier wat jou só intimideer dat jy skoon ongered voel? Mense kweek soms vir hulle ’n Geestelike taalgebruik aan wat jou laat voel jy sal nooit op daardie vlak kan kom nie. Daarmee saam kom daar soms uitsprake wat so verdoemend is, dat dit jou tien treë  terugsit in jou Christenskap. Was jy al in ’n donker put in jou lewe waar net niks reg uitwerk nie? Dan kom iemand en sê vir jou dat jy daar sit omdat jy te veel sonde en ongeregtigheid in jou lewe het. Dit mag dalk so wees, maar is daardie persoon wat dit sê dan volmaak? Dan moet ek ook in ’n put leef en krepeer van ellende. Dis ’n gevaarlike uitspraak en waarskynlik nie waar nie. Ek het baie meer agting vir mense wat in sagtheid en nederigheid getuig. Ek sukkel ook met hierdie hoogmoed ding; dis maklik om só te word en dan is Christenskap gevaarlik.

ONDRAAGLIKE LASTE
Matt. 23:1-7
Toe het Jesus die menigte en sy dissipels toegespreek en gesê: “Die skrifgeleerdes en die Fariseërs het die gesag om die wet van Moses te vertolk. Julle moet alles doen en onderhou wat hulle vir julle sê, maar hulle voorbeeld moet julle nie navolg nie, want hulle doen self nie wat hulle sê nie. Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie 'n vinger verroer om dit te dra nie. Alles wat hulle doen, doen hulle net om deur mense gesien te word. Hulle maak die gebedsband om hulle voorkop breed, en die tossels aan hulle klere groot. Hulle hou van die ereplekke by die feesmaaltye, en van die voorste plekke in die sinagoges en om op straat deur die mense begroet en as ‘rabbi’ aangespreek te word.

En so doen ons vandag ook. Ons sit maklik laste op mekaar soos wat ons Geestelike groei toeneem. Almal se uitlewing van hulle verhouding met God is nie dieselfde nie. mense verskil bv. hemelsbreed oor sake soos die doop, terwyl almal wedergebore Christene is. Mense verskil oor die eindtye, oor die manier van aanbidding, oor geestelike musiek, ens., dan begin ons voorskrifte gee oor wat dan die mees korrekte manier sou wees en oordeel diegene wat dit nie soos ons insien nie. Het mense al so ’n las op jou gesit oor watter Bybelvertaling jy moet lees? Dan voel jy skuldig omdat jy nie Geestelik genoeg is nie. Nee, moenie dit toelaat nie. Lees wat jy wil. Kan die Here net deur een vertaling van die Bybel met jou praat? Moet jou doop ongeldig wees omdat iemand ánders so besluit het? Ondraaglike laste maak meer skade as iets anders. As jy onseker is oor iets en jy kry nie ’n antwoord in die Bybel nie, vra dan ten minste vir ’n klomp verskillende mense vir raad. Neem dan jou besluit biddend en hou daarby tot die Here jou anders oortuig. Ek het al soveel kere gesien hoe mense se geloof kwyn oor ander se onregverdige menings. Pasop, dis gevaarlik.

PROFESIE
As ek nie in profesie sou glo nie, moet ek my Bybel weggooi. Maar as ek al die profesieë moet glo wat mense al uitgespreek het, moet ek ook my Bybel weggooi. Lees gerus die hele Jer. 23 wat hieroor gaan, maar veral die volgende:

Jer. 23:21-22, 25-30
Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met 'n boodskap rondgehardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree. As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af.

Ek het gehoor wat sê die profete wat sonder opdrag in my Naam as profete optree. Hulle sê: “Ek het 'n droom gehad, ek het 'n droom gehad!” Hoe lank sal die profete wat sonder opdrag optree, die profete wat leuens uitdink om te verkondig, nog aanhou hiermee? Hulle dink hulle sal my volk my Naam laat vergeet met die drome wat hulle vir mekaar vertel, net soos hulle voorvaders my Naam deur die Baäl vergeet het. Die profeet wat 'n droom gehad het, mag vertel wat hy gedroom het, maar hy wat my woord ontvang het, moet my woord eerlik oordra. 'n Mens kan nie strooi met die beste koring vergelyk nie, sê die Here. My woord is soos vuur, sê die Here, soos 'n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word. Daarom, sê die Here, is Ek teen die profete wat herhaal wat ander sê en dan voorgee dat dit van My af kom.

Dis uiters gevaarlik om in die naam van die Here te praat. ’n Man en vrou het al met mekaar getrou omdat iemand (’n Christen) dit “gesien” het, net om in ’n ramp van ’n huwelik te beland. Mense het al besighede gekoop omdat ’n sg. profeet dit by die Here “gehoor” het , net om kaal en bankrot anderkant uit te stap. Mense het al hulle lewe-gewende medikasie gelos omdat die Here kwansuis so gesê het en by die dood omgedraai. Mense het al operasies gelos en doodgegaan omdat Christene gesê het die Here sal hulle genees. Natuurlik was daar ook al baie sulke profesieë wat waar en eg was en wat in wonderwerke geëindig het. Mensig, ons moet versigtig wees oor die uitsprake van mense en ons moet self baie versigtig wees om iets in die Naam van die Here te sê. “Die Here het vir my gesê ek moet vir jou sê ....”, kan baie gevaarlik wees. Sê liewer niks, as om die Here verkeerd aan te haal. As jý iets moet weet sal die Here self met jou praat. Hy praat deur gebed, jou eie gedagtes, soms tekens en natuurlik deur Sy Woord (moet net nie Woord verdraai om jou te pas nie! Dit is natuurlik net so gevaarlik). Wees versigtig om ’n “kortpad” te wil vat en na ’n profeet toe te hardloop as jy nie dadelik ’n antwoord by die Here kry nie. Kom ons leef ons Christenskap gemaklik en veilig uit. Wag as jy moet wag en doen as jy moet doen.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)