CHRISTUS EN SY KERK

 

Christus en Sy kerk... soos 'n bruidegom en haar bruid. So vergelyk Paulus in Efesiërs 5 hierdie verhouding tussen ons en Jesus.

Ef 5 : 21 - 32
21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.
24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,
27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,
29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen
30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
31 Daar staan in die Skrif: Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.
32 Hierin lê daar 'n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.

Gewoonlik gebruik ons hierdie beeld (soos dit hier bedoel is) in die konteks van 'n huwelik tussen 'n man en vrou. Maar vanoggend wil ek dit omdraai en ons verhouding met God vergelyk met 'n huwelik. Iets waarmee ons almal kan assosieer, jy is of was in 'n huwelik, of op pad daarheen, of jy is waarskynlik uit 'n huwelik gebore. Ek vergelyk ons verhouding met Jesus met die verskillende fases van 'n liefdesverhouding en dan uiteindelik 'n huwelik. En net soos in 'n huwelik is daar hierdie kosbare oomblikke in ons verhouding met Jesus wat lei tot bekering. Hoe het jy vir Jesus ontmoet? Kan jy onthou? Daardie eerste dag wat jy met Hom gepraat het? Of Hy met jou? Kan jy onthou daardie tyd toe Hy vir jou ogies gemaak het? Ja daardie tyd toe Jesus met jou begin kommunikeer het? Toe jy so ietsie per ongeluk in die Bybel raakgelees het, of jy onseker was of dit toe wel Sy stem was wat jy gehoor het. Dalk so 'n fladderinkie in jou maag toe jy begin oorweeg het of jy jou flikkers ook so bietjie moet gooi. Hoe het jy gevoel toe jy Hom die eerste keer sien aankom?

Ek dink ons het almal maar so ietsie van 'n verhaal rondom die begin van ons verhouding met Christus. Vir party mense begin hierdie pad laaank terug. Dis soos wanneer twee mense van skooldae af gekys was. Ken mekaar baie lank en dan eendag haak hulle af. So is dit met die meeste mense. Ons ken Jesus van kleintyd af en sommer vroeg-vroeg het ons Hom leer ken in Sondagskool en in die kerk. En dan jare later word die ring eers werklik aan die vinger gesteek. So was dit met my.

Dan is daar mense wat vir Jesus ontmoet het op 'n "blind date". So onverwags. Dalk is jy een. Dalk op 'n mannekamp of 'n per ongeluk kerkdiens. Ag, iemand het dalk op 'n heel onverwagse oomblik vir Jesus aan jou voorgestel, en onmiddellik was die vonk daar. Jy weet mos, so 'n onverwagse telefoon oproep - dis nou 'n skietgebed - of dalk het jy bietjie gaan uitvind deur inligting te gaan uitsnuffel - dis nou so 'n versie hier en daar uit die Bybel gelees, of 'n Psalm - of dalk 'n Gospel liedjie geluister. O, hoe wonderlik was daardie verlief-wees fase nie. Onthou jy daardie bokspring wat jou hart kon maak toe jy jou ou of meisie in jou gedagtes laat maal het? So was dit ook toe jy vir Jesus begin ontdek het. Hoe lekker was dit nie om die Bybel te begin ernstig lees nie. Of daar in die beginjare toe jy so lank kon stiltetyd hou nie. Lekker, was dit nie? Koester jy ook soms daardie gedagtes nog?

Ons verhouding met Christus. Nou ja, so het die tyd toe gekom dat Jesus vir jou die ja-woord gevra het. Openb 3 : 20 "Ek staan by die deur en ek klop ……" Onthou jy? Toe sê jy "ja". Ek wil myself onherroeplik verbind tot hierdie verhouding. Waar is hierdie knoop toe deurgehaak? Dalk in 'n kerkdiens, of dalk was dit in jou binnekamer. Toe begin 'n nuwe fase. Stadig maar seker het verliefdheid toe plek gemaak vir ware liefde.

1 Joh 4 : 8b sê, "God is liefde." Toe word ware, egte, wonderlike liefde deel van hierdie verhouding. Want jy sien, soos in 'n goeie gesonde huwelik, werk dit net as daar ware kommunikasie is. Toe is dit nie meer nodig om net soms te gaan kuier nie - ek moes Johannesburg toe ry om te gaan vry - dis nou met my vrou. Want toe jy vir Jesus die dag "ja" sê, toe word julle een. Daar staan geskrywe "'n Man sal sy ouers verlaat en sy vrou aankleef". En so sê Jesus ook as jy kies, kom Hy eerste. Dan is daar nie plek vir ander partye (dis nou godsdienste, ens) nie. Dan is dit net Hy. Een ding weet jy tog goed - 'n gesonde huwelik vra dat albei partye 100% getrou sal bly. En Hy bly mos getrou. Hy in ons, en ons in Hom. Dan, met tyd, kom kameraadskap. Daardie vaste band wat by die dag meer en meer gesmee word. En soos die tyd loop, begin Bruidegom en bruid soos mekaar dink - en lyk. 'n Kosbare tyd waar hulle vir mekaar intree, en beskerm. Soos in 'n goeie huwelik, kan jy maar weet dat Christus net die beste vir Sy geliefde wil hê. En dan kom die silwerbruilof, en die goue bruilof. Ja, en weet jy wat? Egskeiding is buite die kwessie!! Nie 'n opsie nie. Jesus sê, "niks sal jou uit My hand ruk nie."

Hoe kosbaar is hierdie verhouding met Christus nie. As daardie tyd kom dat niks jou van Sy liefde kan skei nie. Waar Hy jou alles is. Wanneer jy nie anders kan as om oor Hom te spog nie, en kan vertel wat Hy alles vir jou doen. En ja, dan kom daar dalk swaar tye in jou lewe, dan weet jy jou bruidegom staan by jou. Soos 'n goeie man sy vrou sal ondersteun en dra, so doen Christus met Sy bruid - die kerk - ek en jy. Dra jy jou trouring met trots? Kan ander sien dat jy onvoorwaardelik aan Hom verbind is? Lewe jy so dat daar nie plek is vir ander goete nie? Is jy dalk nog in die ogies maak fase, of nog in die verlowings fase? Twyfel jy nog of jy hoegenaamd in hierdie huweliksbootjie moet inklim? Jy ken die ooreenkoms "Till death do us part". Die voordeel van hierdie verhouding is, dit hou nooit op nie! Nooit, nooit, nooit. Die heerlikheid van hierdie verhouding is absoluut vir ewig. Ons het al hier op aarde so stukkie van die lekker, maar dit hou vir altyd aan!!

Wil jy weet hoe jou trouring gaan lyk? Openb 2 : 17 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek 'n spierwit klippie gee, met 'n nuwe naam daarop gegraveer."

En jou bruilofskleed? Openb 3 : 4b "Hulle sal altyd in wit klere by My wees."

En jou trougeskenk? Openb 2 : 28 "Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek die môrester gee."

En waar gaan julle bly? Openb 3 : 21 "Elkeen wat die oorwinning behaal sal Ek saam met My op my troon laat sit"  In die paleis van die Allerhoogste!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)