DIE GROOTHEID VAN GOD


Die grootheid van God. Hoe groot is God werklik? Waartoe is Hy in staat? Hoe kan ons ooit meet en waarteen sal ons Hom kan meet? Ons kan welvaart en rykdom meet en sê iemand is 10 biljoen rand sterk. Maar hoe sal ons God se grootheid kan uitdruk? Seker onmoontlik! Maar, ek wil dit vandag probeer meet teen Sy skepping. Dis seker logies dat Skepper moet groter (magtiger) wees as Sy skepping. Waar begin ons? Ek gaan probeer om eers te begin by die mikroskopiese en dan uitzoem tot die makroskopiese. Gaan saam met my op hierdie ongelooflike reis deur God se heelal.

Kom ons verbeel ons ons kyk deur 'n enorme groot kragtige teleskoop van buite die heelal af. Dit wil sê, hierdie teleskoop kan die totale heelal in sy kragtige lense sien, maar die teleskoop is tans ingezoem tot op mikroskopiese vlak. Hy kan dus uitzoem om die hele heelal te sien, maar is tans ingezoem. Ons bevind ons nou in 'n toestand van totale leegheid, en niksheid. Waar ons nou is, is relatief tot materie, groot leë afstand. Ons is binne-in 'n atoom. Ons sien in die vêrte 'n spikkel - dit is die atoomkern, ook genoem die nukleus. Dit bevat die protone en die neutrone van die atoom. Nou begin ons uitzoem, en sien skielik iets wat om hierdie atoom wentel, dis die elektrone. So beweeg ons uit die atoom uit. Dan sien ons in die lens hoe miljoene der miljoene van hierdie atome dig teen mekaar gepak is. Nadat ons BAIE ver uitgezoem het, sien ons dat alles dig en solied lyk. En herken hierdie krateragtige landskap as 'n stukkie vel op jou lyf. Klein stukkie. 'n Uiters indrukwekkende stukkie van God se skepping. Zoem nog verder uit en sien uiteindelik 'n hele mens. Wow - die kroon van God se skepping!! Na Sy beeld. Zoem nog verder en verder uit en sien Pretoria van bo af. Mense lyk klein, motors beweeg soos klein spikkeltjies rond. Nog verder weg sien ons niks meer hiervan nie, en sien uiteindelik 'n groen en bruin landskap. Nóg verder, en die hele aardbol is in sig, blou, groen, bruin, skep 'n ongelooflike mooi prentjie. Dis ons woonplek. My en jou liggame, en atome is tans baie baie klein!!

Soos ons nog terug beweeg, raak ons bewus van absolute donkerte, maar skielik kom 'n rooi vuurbal in sig. 150 miljoen km van die aarde af. Ons hoof energiebron. Steeds totale niksheid en leegheid. Laat ons dink aan die atoomkern. Eventueel is ons so ver uitgezoem dat ons ons sogenaamde sterrestelsel in die lens sien. 'n Klompie planete wat in perfekte orde om die son wentel. Hierdie planete (party klein, party enorm) het mane, wat weer om hulle wentel. Die wentelbaan van die vêrste planeet van die son, is baie baie groot.

Nadat ons baie baie ver uitgezoem het, begin ons ander sterre in ons lens sien. Die naaste een is 4,3 ligjare van die aarde af (nou nie eers hoegenaamd 'n spikkel nie) Soos ons verder uitzoem, sien ons naderhand miljoene en miljoene sterre. Ons is in die hartjie van ons melkweg. Ons tuiste, in ons eie galaksie. Tot nou toe sien ons ook miljoene planete, maar waarskynlik almal leeg en leweloos (weet nie). Alles deur God geskep. Die prentjie voor ons in die lens gee ons steeds die gedagte van leegheid en niksheid, met enorme afstande (miljoene ligjare) tussen die sterre. Koud, donker en leeg. Ons zoem só ver terug, dat ons die hele melkweg in die lens sien. 'n Ongelooflike groot spiraal wiel. Lig neem 100 000 jare om van een punt tot die ander te beweeg. Dit lyk soos twee pierings wat op mekaar lê. 'n Wiel. Duisende miljoene sterre in ons galaksie. Ons woon daarbinne. Nie in die middel nie - twee-derdes vanaf die naaf. Alles deur God geskep. Ons zoem nog verder uit en die melkweg lyk soos 'n stoffie in niksheid. En dan kom nog van hierdie stoffies in sig. Nog galaksies, elk met duisende miljoene sterre in volmaakte orde vasgevang. Ons tel so 30 van hulle. Wetenskaplikes noem dit die 'local group'.

Maar dan, soos ons verder en verder uitzoem, sien ons duiselwekkende hoeveelhede van hierdie galaksies. Die meeste lyk soos spiraal wiele met arms wat netjies om die naaf gedraai word. As ons klaar uitgezoem het, is daar duisende miljoene van hierdie galaksies, elk met duisende miljoene sterre.

Alles!! Deur God geskep. Ons het nou heeltemal uitgezoem. Van die aarde is daar in die grootte van hierdie enorme uitspansel, niks niks te sien nie. Jy kan nie 'n klein genoeg spikkel plot om dit aan te dui nie.

Die Woord van God sê Hy het vir elkeen van hierdie sterre 'n naam gegee.

Miskien sien ons nou wat God kan sien!! En ons vra onsself af, 'Wat is die mens dat U aan hom dink?'

Stem jy saam dat God nog miljoene keer groter is as hierdie enorme skepping? Weet jy hoe het Hy dit geskep? Deur te sê ……… Uit Sy mond kom alles! Waar pas die mens in hierdie prentjie? Wat is die mens dat U aan hom dink? In hierdie enorme enorme skepping staan tyd ast’ware stil. Geen dag of nag, jare, weke, niks!

Maar 2000 jaar gelede gebeur iets groter as hierdie hele indrukwekkende skepping.

Jesus, self God (Joh 1 : 1) "In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God." Kom skep 'n fisiese liggaam, van atome om vir 33 jaar in te woon. Kan jy sien dat daar nie 'n aardse pa nodig was nie? Glo jy nou dat 'n maagdelike geboorte moontlik was? Jesus (self God) kry 'n menslike gestalte op 'n uiters geringe, klein stof kolletjie van 'n planeetjie. Hy verlaat Sy hemelse woning, zoem ast’ware terug tot op atoom vlak en word mens.

My vriend, as jy enigsins glo dat Jesus wel geleef het, moet jy besef wat die impak van Sy lewe op aarde is. Hy kom vanuit die hoogste hemele, stel Homself voor in die gestalte van 'n slaaf, was mense se voete, bid vir hulle, verneder Homself, selfs tot in 'n graf. Vir jou, en my!

Die Skepper, word 'n Skepsel van Homself. Joh 1 : 2 "Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom, ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie".

Hy sterf aan 'n kruis, maar bly steeds baie groter as Sy skepping. Selfs die dood kon Hom nie gevange hou nie.

Joh 1 : 4 "In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense."

Net sy liggaam sterf. En dan, op een goeie dag, verlaat Hy die aarde. Miskien sien Hy voor Sy oë ook hierdie ongelooflike reis soos ons deur ons teleskoop, soos wat Hy opvaar na Sy plek langs God die Vader.

Maar ….. my vriend, JUIG, want toe stuur Hy die Heilige Gees om in jou en my te woon. Halleluja! Ons is nie alleen op ons nietige stoffie nie. God is hier! In jou en my!! En ons kan saam met Hom regeer as ons die ewige lewe kry. DEUR NET TE GLO!

Glo jy dat Jesus die Seun van God is, self God, gesterf het vir jou en my? Opgestaan het? Opgevaar het? DAN IS JY GERED!

Dan sal ek en jy ook DIT sien wat God sien, soos toe ons teleskoop uitegezoem was!!

God is groot. Groter as die skepping, groter as die bose, groter as ALLES wat sleg is op aarde, en groter as jou en my sondes.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)