Luister na hierdie volgende stelling: "Die Here ontmoet jou op die vlak van jou
verwagting". Wat verwag jy van die Here? Hoeveel vertroue is ek en jy
bereid om regtig in die Here se hande te sit? En dan 'n belangrike vraag: Glo
jy regtig dat God vandag nog bonatuurlike wonderwerke doen? Dalk staan jy
vandag voor 'n groot besluit in jou lewe, of dalk is jy werkloos, of
moedeloos oor jou lewenssituasie, of dalk werk dinge net nie vir jou uit
nie. Dan maak ek weer die stelling: "Die Here ontmoet jou op die
vlak van jou verwagting".
2 Konings 4 : 1 - 7
1 'n Vrou van 'n profeet het haar nood by Elisa kom kla: "My man is
dood U weet self dat hy die Here gedien het. Nou het die skuldeiser gekom
om my twee seuns te vat en hulle sy slawe te maak."
2 Elisa het vir haar gesê: "Ek sal jou help. Sê vir my: wat het jy
in jou huis?"Sy het geantwoord: "Ek het niks in die huis nie
behalwe 'n erdekannetjie olie."
3 Hy het toe gesê: "Gaan leen nou by al jou bure leë kruike, en
sorg dat jy nie te min leen nie.
4 Dan gaan jy in jou huis in, maak die deur agter jou en jou seuns toe, en
gooi elkeen van hierdie kruike vol olie. Soos elkeen vol word, moet jy hom
wegpak."
5 Sy is van hom af weg. Sy het die deur agter haar en haar seuns
toegemaak. Soos hulle die kruike na haar toe aangedra het, het sy hulle
volgemaak.
6 Toe die kruike vol was, sê sy vir een van haar seuns: "Bring vir
my nog 'n kruik."Maar hy het gesê: "Daar is nie meer 'n kruik
oor nie."Toe het daar nie
7 meer olie uit die kannetjie gekom nie. Sy het by die man van God
aangekom en dit vir hom vertel. Hy het gesê: "Gaan verkoop die olie
en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oorbly."
Hierdie is 'n baie bekende gedeelte.
Dit is nie 'n verhaal of 'n
gelykenis nie, dit is 'n fisiese gebeurtenis. Ek glo dit is met 'n baie goeie doel
opgeteken sodat dit vandag, vir my en jou 'n boodskap kan inhou. Hoor dit en glo dit. Wat verwag jy van die
Here? Dink jy Hy is tot baie in staat? En dan, glo jy jy is tot alles in
staat deur Christus wat jou krag gee?
Ek gaan nie praat oor baie geld en materialisme
nie! En nog minder oor die gedagte dat ek en jy moet terugsit en in
oormaat ontvang. Ek praat oor ons God wat die beste uit ons kan haal, wat
Hy in ons ingesit het.
Die weduwee se kruik. Kom ons kyk wat ons vandag
hieruit kan leer.
Hierdie vrou was in nood. Fisiese nood. Soos ons
dikwels in nood is. Ja, finansieël, maar ook in ander situasies. Wat is
jou nood vandag? Eensaamheid, ervaar jy dalk verwerping, moedeloosheid,
sonder mense wat vir jou omgee? Glo jy dat die Here jou kruik weer tot
oorlopens kan volmaak? Wat het hierdie weduwee gedoen?
Sy het hulp gaan vra by Elisa. So eenvoudig soos
dit. Sy het nie toegelaat dat trots die oorhand kry nie. Ons gaan so
dikwels alleen deur ons situasie, maar vra nie hulp nie. En dan bid ons
tot God, sonder 'n verwagting. Om sonder verwagting te bid, is om passief
agteroor te sit en te voel dat Gods water maar oor Gods akker moet loop.
Hopeloos, hooploos, negatief, boedel oorgegee. Het jy al jou werk verloor?
Dis wanneer hierdie gevoel so maklik oor ons spoel. Dan begin ons om
onsself verwyt, ander die skuld te gee, en ja, somes verwyt ons selfs die
Here ook.
God ontmoet jou op die vlak van jou
verwagting! Glo jy dat die Here dalk vir jou soveel in gedagte het dat jy
nie genoeg kruike bymekaar kan kry nie? Gaan soek hulp, sodat die Here se
planne in werking kan kom!
Ek kan getuig daarvan. Ek het self
ook tweemaal my werk verloor, en
ek kan die Here nie genoeg dank nie. Jy sien, die Here het 'n plan, 'n
beter plan. Pak
vandag maar daardie kruike uit voor die Here.
Wat gebeur toe met die weduwee? Elisa vra
"wat is in jou huis?" Sy antwoord, "'n erdekannetjie
olie". En toe begin die pret, want toe vat die Here dit wat sy het,
en vermeerder dit oneindig. So, jy beweer dit gaan sleg met jou? Wat het
jy in die huis? Waarmee kan die Here werk om jou ellende te verlos?
Kom ons kyk bietjie wat staan daar by jou
rond. Dalk so 'n kannetjie met talente, so 'n paar vermoëntjies wat die
Here in jou ingebou het? (Al is jy 70 jaar oud!) Kyk bietjie daar onder
die maatemmer, knus weggebêre, want solank ek nie daarna kyk nie, hoef ek
nie veel te doen nie. Miskien so 'n kannetjie ondervinding, dit wat jy
weet wat ander nie weet nie, dit wat jy kan doen wat ander nie kan nie. O
koek, dalk is daar so 'n kannetjie drome. "Ek wou nog altyd ….." Klink dit
bekend? Jy wou al lankal, maar jy het nie ….. Toe begin die drome
nagmerries word in plaas van lugkastele, goed wat jy om en om in
jou kop laat draai totdat dit realiseer. Die gedagte is die teelaarde van
die daad. Dalk is daar so
'n kannetjie persoonlikheid. Daardie mooi wat die Here in jou ingebou het,
dit wat ander mense so nodig het, om hulle op te beur, en 'n vriend vir
iemand te wees. My vriend, waarmee kan die Here werk? Nee jong, pak jou
kanne
uit op die tafel, die Here wil dit laat oorloop!
En toe gebeur die wonderwerk! Toe sy die kruike
bring, toe loop die olie. Toe sy haar kant bring, het die Here iets om mee
te werk. Vers 7 - "Gaan verkoop die olie, en betaal jou skuld. Jy en
jou seuns kan dan leef van wat oorbly."
Weet jy wat is in jou opgesluit?
As jy asemhaal, lewe jy nog! Maar sit skouer aan die wiel, bring die
kruike. Vergeet van geld, die Here wil vir jou lewe gee, en vrede, en
verhoudinge, en 'n toekomsvisie.
Kom ons leer so 'n paar lesse:
1. Deel jou probleme met ander, daar is baie wat
kan, en wil help.
2. Gaan kyk wat jy het. Die Here het so baie in jou ingebou, jy is so
uniek, gaan skop die omgedopte emmer om, en pluk daardie talente uit.
3. Die Here wil werk met wat jy het. Stel dit beskikbaar.
4. Aanvaar dat verandering gaan plaasvind, en sien dit as 'n uitdaging.
Gaan lees "Who moved my cheese"; dit kan jou dalk help om te besef dat
verandering 'n nuwe geleentheid kan oopmaak. Die Here wil ons uit die "boring"
groef van gewoonte uithaal.
5. Hou op verwyt en alles en almal die skuld gee. Hierdie land is steeds die
land van melk en heuning. As jy hier nie oorleef nie, gaan jy nêrens
oorleef nie, as jy nie hier gelukkig is nie, gaan jy nêrens gelukkig wees
nie. Jou
houertjie met olie staan hier, in hierdie land, in hierdie stad met 'n doel.
6. Gaan uit, gaan leen daardie houers. Waarin op aarde moet die Here die
olie gooi as ons dit nie uitpak nie?
7. Gaan vat 'n kans, en vertrou op die Here. Jy sal nooit op aarde op die
water loop, as jy nie uit die boot klim nie. Ek wou op 'n tyd nie uitklim
nie, toe foeter die Here my uit. En boeta, toe loop ons water! Lekker
man!
8. Besef dat jou God groter is as jou omstandighede. En Hy het baie olie.
Maak daardie kruike gereed om te ontvang.
Die Here ontmoet jou op die vlak van jou
verwagting.
|