In die begin het God die hemel en
die aarde gemaak … As ek jou sou vra: "Wat is die Here se grootste
bate?", wat sal jy sê? Hy het alles gemaak, Hy besit alles - dit
moet wees, want as Skepper van alles kan niemand niks van Hom wegvat nie.
Dis nogal snaaks dat Satan dit al probeer het: Toe neem die
duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die
wêreld met hulle prag en sê vir Hom: "Dit alles sal ek vir U gee as
U neerval en my aanbid" (Matt 4:8-9). Die Satan bied vir Jesus
iets aan wat in elk geval aan Hom behoort. Wat, sou jy sê, is God se
grootste bate? JY is! Jy is Sy grootste bate, Sy beste besitting, meer
werd as enige ster, planeet, galaksie, bronne van minerale of
edelgesteentes. Jy is die beste iets wat aan Hom behoort.
Hoe skaf 'n mens 'n bate aan?
Sekerlik oorweeg jy die waarde, jy kyk of dit 'n goeie belegging is, jy
vergelyk dit met ander items, en dan begin jy met die beplanningsproses
om hierdie item aan te skaf. En so het God iewers, lank lank gelede begin
beplan aan jóú!
Ps 139:13-18
13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U
gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker:
15 geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit
kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot.
16 U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u
boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.
17 Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
18 As ek hulle sou wou opnoem - hulle is meer as wat daar sand is, en as
ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê.
Duisende jare gelede, lank voor jy
gebore is, het God met hierdie proses begin. Deeglik uitgedink, deeglik
beplan, ek glo ook dat Hy baie uitgesien het na jou koms, vol afwagting en
verwagting. En toe … word jy afgelewer (nee! Nie deur die ooievaar nie!)
Van jou geboorte af is jy God se grootste bate. Glo jy dit? Voel jy so oor
jouself?
Wat maak 'n mens met iets wat jy
baie waardevol ag?
1) Ek dink jy beskerm dit met jou lewe. En dit het Jesus ook vir JOU as Sy
grootste bate kom doen. Hy het jou letterlik kom beskerm met Sy lewe -
soveel dat Hy Sy lewe verloor het, sodat jy joune kan behou.
2) Ek dink jy pas dit soos goud op. So hou die Here Sy beskermende hand
oor jou. Hy hou jou elke oomblik dop om seker te maak dat jy okay is. Hy
sit elke sekuriteitsmaatreël denkbaar in plek, sodat jy (Sy bate) niks
sal oorkom nie.
Jes 43:1-4
1 Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm
het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam
geroep, jy is Myne.
2 As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou
nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3 want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee
Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.
4 Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek
mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.
3) As jy 'n groot bate aanskaf merk jy dit, om seker te maak dat niemand
anders kan dink dis syne nie. My pa het 'n vibreerpen gehad waarmee jy kan
graveer, en hy het alles gemerk met sy naam daarop. So merk die Here jou
ook. Maar om seker te maak, merk Hy JOU naam in Sy handpalm:
Jes 49:16 Ek het jou naam in my handpalms gegraveer ... Waaraan
dink jy sal die Here dink elke keer as Hy na Sy handpalm kyk? Wat sal Hy
sien? Jou naam, natuurlik. Sy liefde vir jou is só groot dat dit is asof
Hy nét jou naam sien. Glo jy dit?
4) As mens 'n groot bate het, spog jy daarmee. Jy wys dit vir almal,
vertel vir almal daarvan. So spog die Here met jou. Hy wys jou vir die
wêreld en vertel met liefde van al jou goeie kwaliteite. Dink jy Hy
vertel van jou swakhede? Nee, natuurlik nie. Want deur Sy oë is jy 'n
volmaakte wese, want Jesus se bloed was jou silwerskoon.
5) As mens 'n groot bate het, probeer jy om die waarde daarvan te laat
toeneem. So, is die Here elke oomblik besig met jou, om jou beter en beter
te maak. Mens noem dit geestelike groei. Soms moet Hy bietjie snoei, en
ja, dit kan selfs seer wees, maar dit laat jou waarde toeneem. Die beste
manier wat jou baas byvoorbeeld in jou kan investeer is om jou beter toe
te rus; hy stuur jou op kursusse, gee jou meer blootstelling, ens. So
stuur die Here ons ook konstant op "kursusse", sodat ons meer en meer werd
kan raak vir Hom, tot voordeel van Sy Koninkryk. Soms is dit nie lekker
kursusse nie, dis moeilik en die eksamens is moeilik, maar dis alles tot
voordeel van Sy bate-register.
6) As mens 'n goeie bate het, HOU jy dit. Jy raak nie sommer daarvan
ontslae nie. So raak die Here nooit van jou ontslae nie. Nee, soos met 'n
goeie motor, word jy gepolitoer en blink gepoets. Hy sê: "Ek sal jou
nooit verlaat nie". Weet een ding: Die Here sal jou nooit, maar nooit
vir 'n ander verruil nie.
Nou ja, miskien glo jy nou nog nie
dat jy God se grootste bate is nie. Dan moet Hy dit maar self vir jou
vertel:
Sef 3:17
Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde
oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.
So sê die Here, Here vir JOU
vandag. En daarom kan jy dit glo. As jy dit glo, dink dan aan die
volgende:
1) Besef dat jy vir Hom baie, baie
belangrik is. Weet dat Hy geen skinderstories oor jou sal duld nie. Dis
mos wat die duiwel probeer doen: hy gaan skinder oor jou swakhede en
foute.
2) Weet dat God geen mens bo jou voortrek nie, of liewer het as wat Hy jou
het nie.
3) Jý is Sy bate, nie dit wat jy het nie. Hy besit die res in elk geval,
en leen dit net vir jou, soos jou huis, kar, geld, ens.
4) As jy Sy grootste bate is, is elke ding wat in jou lewe gebeur binne Sy
beheer.
5) Jy kan maar gerus werk aan jou selfbeeld - jy is 'n Koningskind, 'n
prins, 'n erfgenaam, jy deel in Sy skatte. Jy is spesiaal.
6) As jy Sy grootste bate is, stort Hy al Sy liefde op jou uit - alles!
Geniet jou status. Laat Hom toe om
jou te vorm, laat Hom toe om jou waarde te laat vermeerder. Wees trots op
jou eienaar. Hy "laaik" jou!
|