DIE HUWELIKSONTHAAL – 18 Oktober 2010 


Onthou jy toe jy klein was hoe lekker ‘n troue was? Sjoe, die opgewondenheid en afwagting weke voor die tyd. Eers in die kerk, waar die bruid en bruidegom trou aanmekaar beloof het, en dan... die bruilofsonthaal. Jannie en Sannie met hulle deftige kleertjies. So ‘n kortbroek kerkpakkie met ‘n das vir Jannie, en ‘n smokrokkie vir Sannie. Daar in die saal wag almal dat die bruid en bruidegom moet opdaag, en dit vat heeltemal te lank na ons sin. Ons was teen nou al té lus vir die koeldrank en lekker eetgoed. Ná die ellelange toesprake en heildronke, het die lekkerste aangebreek: rondhardloop op die dansvloer, of al om die stadsaal hardloop en speel saam met die nefies en niggies. Terwyl die orkes speel, het ons ons altyd verkyk aan die ou mense wat wals en kruiwa stoot. Later as jy doodmoeg was het jy sommer daar voor die luidsprekers neergeval en net daar geslaap met die doef-doef in jou ore. Die kar was natuurlik reeds met shoeshine gesmeer en die blikke was vasgemaak aan die bumper. Lekker né? Die volgende oggend drink almal Eno’s in plaas van koffie! 

En so, met ‘n lekker bruilof vergelyk die Here die Koninkryk van die hemel. ‘n Lekker, aangename gebeurtenis. 

‘n Bruilof word lank voor die tyd beplan, en die gaste word met die hand uitgesoek. Net dié wat ‘n kaartjie gekry het, was welkom. Maar die Koninkryk van die hemel werk anders: 

Matt 22:1-14
Jesus het weer in gelykenisse met die mense gepraat. Hy het gesê: “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het.             Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Toe stuur hy weer ander slawe met die opdrag: ‘Sê vir die genooides: Die maaltyd is reg; my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilof toe.’ “Maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie, en die een het na sy stuk grond en 'n ander een na sy werkplek toe gegaan. En party het sy slawe gegryp en mishandel en doodgemaak. Die koning het kwaad geword en sy leër gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek. “Toe sê hy vir sy slawe: ‘Alles staan klaar vir die bruilofsfees, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan nou uit na die straathoeke en nooi soveel mense as wat julle teenkom, na die bruilofsfees toe.’ Toe het daardie slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaargemaak, slegtes sowel as goeies. So het die feessaal vol gaste geword. “Toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar 'n man wat nie bruilofsklere aan het nie, en hy sê vir hom: ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan?’ Maar die man kon niks antwoord nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”

Die Koning stuur sy slawe uit om al die genooides nader te roep. Die kos is gereed, kom, die bruilof moet begin. Maar dan hierdie skok – hulle wil nie kom nie; hulle raak sommer aggressief en maak selfs van die slawe dood.  

So is dit vandag ook: die Here roep en sê: kom, die bruilof moet begin. Maar hulle kom nie. Wie is hierdie mense? Wat is die profiel van ‘n tipiese bruilofsgas? Dit is mense wat reeds in een of ander verhouding met die gasheer en gasvrou staan. Dit is mense wat logies na die troue sál kom. Natuurlik, hulle ken almal in die familie, hulle verwág selfs om genooi te word. Maar dan lees ons hulle wil nie kom nie. Hulle plekke is gedek, geld is gespandeer, maar hulle wil nie kom nie.

Wie is dit waarvan Jesus hier praat? 

Die genooides wou nie kom nie. Hulle het ander prioriteite gehad, Dan sê die koning, los hulle, hulle is dit nie werd nie. Los hulle, iemand anders sal in hierdie feesmaal deel. Dan stuur die koning sy slawe om almal wat hulle in die hande kan kry, na die feesmaal toe te bring. Onthou jy toe Jesus met die tollenaars en prostitute omgegaan het? Die mense was baie kwaad vir Jesus omdat Hy met die sogenaamde “sondaars” besig was.... intussen is hulle self oppad om die bruilof te mis.  

Vers 10: “Toe het die slawe uitgegaan op die strate en almal wat hulle gekry het, bymekaar gemaak, slegtes sowel as goeies”. So het die feesmaal vol gaste geword. Goeies en slegtes ... klink dit dalk vir jou vreemd? Onthou jy die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar? Wie se gebed was vir God aanvaarbaar? Die tollenaar, die slegte een, want hy het berou gehad. Die Fariseër was hoogmoedig, want hy het geglo hy is ‘n genooide. 

So roep die Here vandag en Hy sê: Kom, almal wat hoor, kom. Maar ook vandag, daag die genooides nie op nie. Baie wat al die regte woorde praat.... hulle sê: Here, Here, maar hulle kom nie. Geleerdes, selfs professore en teoloë, daag nie op nie. Hulle monderings het so reg gelyk, maar dit was nooit bruilofsklere nie.  

Jy sien, die Jode was die uitverkore volk – dis hulle wat die genooides was, en wat nie wou kom nie. Hulle het nie die Koning se Seun se status verstaan nie. Hulle kon nie verstaan dat die onthaal gaan begin nie. Dit wat God beplan het vir SY volk, het hulle in Sy gesig teruggegooi. Toe sê Hy: bring dan almal wat WIL. Sien jy dat God se onthaalsaal baie groot is? Met vreeslik baie plek? Onbeperk! Nou nooi Hy almal: sondaars, prostitute, slegte mense, dié wat dit nie verdien nie, en Hy sê: Almal – kom, kom maak die stoele vol, want die bruilof gaan begin. 

In vers 11 lees ons van die persoon wat nie bruilofsklere aangehad het nie, en in die diepste duisternis uitgegooi is. Wie is dit? Dit is die mense wat nie hulle klere gewas het in die bloed van die Lam nie. Dit is die wat so oppervlakkig sê: Here, Here. Dit is dié wie se uitnodigingskaartjie verval het omdat hulle die Koning verloën het. Hulle is geroep, maar nie uitverkies nie. Hoe werk dit dan? As jy geroep word, en jy kom, kan jy gekies word. Maar as jy geroep word, en jy draai weg, het jy self gekies. Dan het jou kaartjie verval. 

Die bruilof gaan begin my vriend. Die tafels is gedek, die Koninkryk van die hemel wil aanbreek, dis tyd om alles te los, en in te gaan. Wat kies jy? Die uitnodigingskaartjie is in jou hand. 

Is jy lus vir ‘n bruilof? Voel jy opgewonde oor die koms van 'n bruilofsmaal? Sien jy uit na die vrolikheid daarvan? Reg vir ‘n ewigdurende partytjie saam met die Koning? Lus vir die brood van die hemel? Lus vir engele-musiek? Dan sê die Koning vandag: Die maaltyd is reg, my beeste en vetgemaakte vee is geslag, en alles is gereed. Kom na die bruilofsmaal toe.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)