DIE KRUISDOOD EN OPSTANDING


Ons staan voor Paasnaweek. Ek weet nie of jy saamstem nie, maar dis asof daar die afgelope paar jaar 'n oplewing is in die Christelike kerk rondom Paasfees. Die "Kerk" en die "Christene" vier Kersfees met oorgawe, koop geskenke, speel properste kers musiek en ons sien selfs Jesus prentjies orals, ons praat flink van Liewe Jesus, maar stop dit nie maar net daar nie? Vir hoeveel van ons is die kruis en die wreedheid daarvan regtig 'n werklikheid? Nou ja, ek het gewonder hoe bring ons hierdie boodskap hierdie jaar op 'n nuwe en vars manier oor. Maar ek het besef ons moenie kers versierseltjies hieraan sit nie. Hierdie boodskap moet net weer in sy volheid vertel word, totdat almal gehoor en verander het.

Matt 27 : 32 - 44 Toe hulle uitgaan, kry hulle 'n man van Sirene met die naam Simon, en hulle het hom gekommandeer om Jesus se kruis te dra. 33 Hulle kom toe by 'n plek wat Golgota genoem word; dit beteken Kopbeenplek. 34 Daar het hulle Hom 'n mengsel van wyn en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie. 35 Hulle het Hom gekruisig en sy klere verdeel deur te loot. 36 Daarna het hulle gaan sit en by Hom wag gehou. 37 Bokant sy kop het hulle die aanklag teen Hom in skrif aangegee: Dit is Jesus, die koning van die Jode. 38 Saam met Hom het hulle ook twee rowers gekruisig, een regs en die ander een links van Hom. 39 Die mense wat daar verbygeloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud 40 en gesê: Jy wat die tempel afbreek en in drie dae opbou! Red jouself as jy die Seun van God is, en kom van die kruis af! 41 Net so het die priesterhoofde saam met die skrifgeleerdes en die familiehoofde ook gespot en gesê: 42 Ander het hy gered, maar homself kan hy nie red nie. Hy is mos die koning van Israel! Laat hy nou van die kruis afkom en ons sal in hom glo. 43 Hy het op God vertrou; laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het. Hy het immers gesê hy is die Seun van God! 44 Op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

Is die kruis vir jou 'n werklikheid? Iemand vra nou die dag, hoe het die gesprek tussen God en Jesus verloop toe Hy moes aarde toe kom? Dink bietjie hieroor. Dink ook net vir 'n oomblik of jy regtig regtig glo in die verhaal van die kruis. As jy kan, sit vir jou ’n CD met “Houtkruis” op, maak jou oë toe en luister …………

Ek weet nie watter emosies nou deur jou gegaan het nie. Miskien het daar trane uit jou oë geloop oor wat hulle aan ons Koning gedoen het. Miskien staan jy maar net apaties teenoor dit, of dalk glo jy dit net glad nie. Ek weet nie hoe jy hieroor voel nie, ek weet net hoe ek graag wil hê jy hieroor moet voel. As jy dalk die film "The Passion" gesien het, sal jy die ongelooflike wreedheid onthou, hoe hulle Hom uitmekaar uit geslaan het. Dan kan jy dalk vra, hoe kan 'n liefdevolle God dit aan Sy eie Seun doen? Hoe kan God dit doen as Hy Sy Seun lief het? Weet jy wat is die antwoord? Dit is nie omdat Hy nie Sy Seun liefgehad het nie, dit was omdat Hy vir jou so lief het. Daar was nie 'n ander manier nie, 'n volmaakte Lam moes geoffer word. Miskien het God in die hemel gehuil terwyl die soldate vir Jesus uitmekaar geslaan het. Ek glo dat daardie trane gestort sou word vir die mense wat nie hierdie offer aanvaar nie. Die wat kies om verlore te gaan en nie die Hemel sal sien nie.

Die soldate het vir Jesus letterlik verwoes, en toe draai die Vader Sy gesig weg van Jesus af. Sodat Jesus sonde word vir jou en my.

Matt 27 : 46 Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: Eli, Eli, lemá sabagtani? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Luk 23 : 46 Jesus het hard uitgeroep: Vader, in u hande gee Ek my gees oor.

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

Jesus het gesterf vir jou en my. Ons ken die rede hiervoor. Ons ken die woord "Tetelestai", dis is volbring. Ons verstaan die woorde in Hebreeus 10 : 5, "Dit is nie diere-offer en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U my gegee het."

Hoekom? Sodat ek en jy nie meer dier- en graanoffers hoef te bring nie.

Ek wil vir jou vra: Is jy nie moeg gedra aan die swaar van jou lewe nie? Het jy nie lank genoeg self, op jou eie kragte staat gemaak nie? Voel jy nie soms dat jy nie meer kan nie? My vriend, daar is net een antwoord. As jy hierdie hele verhaal glo, hoef jy net "JA" te sê vir Jesus. So eenvoudig soos dit.

Openb. 3 : 20, "Ek staan by die deur en klop, as jy vir my oopmaak, sal Ek inkom, en die feesmaal saam met jou geniet."

Is jy moeg en oorlaai? Bekering bring die ewige lewe. Moenie deur hierdie Paastyd gaan sonder 'n keuse nie.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)