DIE MENS


Die mens - wat 'n wonderlike wese. Geskape na die beeld van God. 'n Uitsonderlike wese. Waarskynlik een van sy soort in die heelal. 'n Masjien soos niks anders op aarde nie. Maar, hierdie masjien het 'n begin, en 'n einde - hier op aarde. God het op 'n wonderbaarlike manier die eerste mens geskep uit stof.

Gen 2 : 7 "Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het".

So begin Adam se lewe. (Glo jy dit? Regtig?) Wel, ek doen. My pa was beslis nie 'n aap nie, al gedra ek myself dikwels soos een! En toe besluit God dat die mens 'n maat nodig het.

Gen 2 : 21 - 25 Toe het die Here God 'n diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, 22 en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe. 23 Toe sê die mens: Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy "vrou" genoem word; sy is uit die man geneem. 24 Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. 25 Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

Adam en Eva word uniek geskep! Glo jy die storie van Eva? Klink dit vergesog? Wel, dink net hoe jy tot stand gekom het!! Dit klink nog meer vergesog!! Maar ons glo dit, want ons sien dit. Die mens het dus (ongeag van hoè jy glo, of wat jy glo) 'n ongelooflike ontstaan.

Is jy bly jy leef, of dink jy dis nutteloos?

Die mens se lewe begin as 'n wonderwerk. Maar, die mens kom ook tot sterwe. Eintlik, op sigself, nog 'n gróót wonderwerk. 70, 80 jaar, as niks intussen gebeur nie. Baie goed kan gebeur. Goed waaraan ons onsself blootstel beskadig hierdie liggame van ons, en ons vernietig dit. Mense pleeg selfmoord, 'n vreeslike tragiese en ongelukkige ding wat gebeur. Soms leef ons roekeloos, bv "speed kills". Maar, benewens hierdie goed., het ons min beheer oor ons sterwens proses. Byvoorbeeld, sit gou bietjie stil en laat jou hart ophou klop. Kan jy? Nee!! Hou gou op asemhaal. Nie lank nie, of jou liggaam dwing jou om weer asem te haal. Outomaties. Maar ….. God het besluit, die mens se lewe moet eindig hier op aarde. Interessant, 'n baba moet leer loop, eet, dink. So asof sy hele menswees in wording kom. Stadig maar seker. En dan iewers, begin die sterwens proses. Is dit by geboorte? Of later, so asof ons lewe oor 'n knikkie gaan en ons dan oppad afdraand is. En stadig maar seker begin die sterfproses.

Pred 12 : 1 - 7 Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie. 2 Dit is die tyd wanneer die son donker sal word en ook die daglig, die maan en die sterre, die tyd wanneer dit weer bewolk word ná die reën. 3 Dit is die tyd wanneer die wagters van die huis sal bewe, die sterk manne waggel en die malers ophou maal omdat hulle min geword het, die tyd wanneer dit donker word vir dié wat deur die vensters kyk, 4 wanneer die deure na die straat toe toegemaak word, die geluid van die meul dof word, die tyd wanneer 'n mens opstaan as die voëls begin sing al hoor hy geen lied meer nie. 5 Dit is die tyd wanneer hy bang is vir 'n hoogte en vir alles op die pad skrik, die tyd wanneer die amandelboom in bloei staan, die sprinkaan homself moeisaam voortsleep en die kapperkruid nutteloos word, die tyd wanneer die mens na sy ewige woning gaan en dié wat treur, op die straat rondgaan, 6 die tyd wanneer die silwerdraad afgebreek word en die goue kruik breek, die kruik by die fontein stukkend breek en die wiel by die put stukkend val, 7 die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.

So kom ons tot 'n einde.

Dis die lewensiklus. Ons kry kinders om vir ons plesier te gee in hulle lewe, net om weer tot 'n einde te kom. Die vraag wat oorbly is ……… wat gebeur tussen hierdie A - Z. Alfa en Omega - begin en einde.

Prediker 12 begin met die antwoord wat God wil hê. "Dink aan jou Skepper in jou jong dae." Hoekom moet jy aan Hom dink? Wat van diè wat niè aan Hom dink nie?

Die antwoord is in vers 7. "Die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het."

Met geboorte skep God jou siel, en met jou sterwe gaan dit na een van twee plekke toe. En die Bybel is baie duidelik daaroor!! Of by God in die hemel, of by Satan in die hel!! Klink dit vir jou wreed? Nee, die Bybel vertel vir jou en my presies wat om te doen om reg te kies. Pred 12 begin "Dink aan jou Skepper in jou jong dae." Sjoe, vanaf geboorte hou God 'n klomp keuses vir ons voor.

Hoe jy lewe, in 'n sekere mate hoe jy sterwe. En dan, waar jy jou ewigheid gaan deurbring.

Ons is liggaam, siel en gees. Ons kan die vlees laat oorheers hier op aarde, en al die verkeerde dinge geniet, of ons kan dat die Gees ons lei. Albei opsies het 'n baie, baie, baie lang gevolg. En dis óf hemels, of hel - letterlik!! "Dink aan jou Skepper in jou jong dae."

Nou ja, wat maak ons tussen hierdie twee massiewe momente in ons lewens? Geboorte tot sterwe. Wat maak die lewe die moeite werd?

Geniet die lewe, ten volle. Ek wonder hoekom mense dit so moeilik vind? Ons het net een lewe. Hoe sal ons die gemiddelde mens se lewe beskryf? Dalk iets soos "Opleiding, skool ens, werk, dan nog werk, weer werk, aanhou werk, pensioen - en nog werk, sterf?" Moenie so wees nie. Daar moet lekker goed ook wees.

1. Geniet die lewe. 
2. Voeg waarde toe aan ander se lewens. Jesus se opdrag was duidelik, "sorg ook vir die armes." As wat ons het, dan seëninge is, hoekom weerhou ons dit van ander? Maak dus 'n verskil aan die gemeenskap. 
3. Laat 'n goed opgevoede nageslag agter. Jou kinders, maar ook jou invloed op ander.
4. Die belangrikste. Wees verantwoordelik vir ander mense se langtermyn toekoms in die hemel. Jesus se opdrag. "Gaan maak die mense My dissipels."

En dan op die oudag? Hou op om terug te baklei na vervloë dae. Geniet die rustigheid. Bring dae en dae by Jesus se voete deur. En hou op nutteloos voel! Wat is die kragdadigste ding wat ons kan doen? Bid. Vir alles, almal, die land, ens. Geniet die oudag, totdat die oorgangstyd kom!!! In Jesus se geselskap!

Dink aan die Here, in jou jong dae!
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)