DIE MONSTER IN JOU – 20 Junie 2012


Wie is jy? Wie het jou gemaak? Wie het jou gevorm? Wat het jou gevorm? Wat en wie het gemaak dat jy is soos jy is?

Ek wonder so by myself: het elkeen van ons nie dalk so ’n  monstertjie of twee in ons nie? Ek praat nou glad nie van die bose of van demone of sulke lelike goed nie. Ek praat van goeters wat in jou heers, wat dalk moet uit; goed wat jy in jou ronddra, wat jou lewe versuur, dinge waarvan jy sukkel om ontslae van te raak. ’n Monster of twee. Dalk het een in jou binnekant gevorm in jou kinderjare, of dalk in jou huwelik; iets wat so nou en dan sy kop uitsteek en jou lewe versuur. Dalk het jou ouers help bou aan hierdie ding en dalk is hulle heeltemal onbewus daarvan dat hulle dit gedoen het.

Ek deel so ietsie persoonlik: toe ek klein was, het ek nie die fraaiste ou klein oorskulpies gehad nie. Inteendeel! As die wind opgesteek het buite, moes my ma my vinnig onder dak kry, want die wind sou dalk my nek afdraai. En nouja, met jou kort skool-haarkapsel kon mens nou nie eintlik die goed onder die hare wegsteek nie en het Willempie te aardig gelyk. Mense het dikwels iets daaroor te sê gehad en so het ’n slegte selfbeeld-monster in my gevorm. Die punt is, of ander dit sleg bedoel het of nie, dit het ’n impak gehad in my lewe. Ek glo daar is vandag baie mense met ’n swak selfbeeld-monster in hulle.

Gen. 1:16: Toe het God gesê: kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld...  Ons moet daardie slegte selfbeeld vervang met ’n  goeie Godsbeeld, want dít is wat werklik van belang is. Wees egter ook versigtig om nie “selfbeeld” te misbruik as verskoning om nie die beste van die lewe te maak nie. Het jy dalk so ’n monster wat daar binnekant heers en wat gaan jy met hom doen?

Weet jy wat gebeur met ’n lewende wese wat jy net voer en voer? Hy word allemintig groot; jy máák hom groot! Jy ken seker die storie van die ou met die twee veghonde, ’n witte en ’n swarte. Met elke hondegeveg sit hy hierdie twee onder weddenskappe aan mekaar en hy wen altyd, so asof hy voor die tyd weet watter hond gaan wen. Toe iemand hom eendag vra hoe hy dit regkry dat die een van sy keuse wen, was sy antwoord: dis eenvoudig, die een wat die week die meeste kos kry, wen. Voer ons dalk die aaklige monster in ons sóveel dat hy ons lewe oorheers?

Nog ’n monster is die “ek kan nie”-monster. Ek kan nie dit en ek kan nie dat nie. Die woorde wat ek verreweg die meeste van my pa gehoor het, was: kan nie is dood van kruiwa stoot. Ek het dit seker miljoen keer gehoor, totdat ek dit geglo het. Daai monster is wild, hy hou jou weg van duisende dinge af. Die “ek kan nie”-monster maak mense lui en passief. Onthou die woord sê in Fil.4:12-13: Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Jy sien, ons is inderdaad tot niks in staat as ons in eie krag probeer. “Ek kan nie” kry soms ook ’n verdraaiing, nl. “ek kan nie méér  nie”. Sjoe, kyk, as jy in die weermag vir die korporaal gesê het: “ek kan nie meer nie”, was die gort gaar, daarom kón jy maar altyd! Jý kan ook – deur Christus wat jou krag gee.

’n Ander monster is die eie ek. Hy kan verskillende vorms aanneem, soos hoogmoed, trots en meewarigheid; jy dink jy is beter as ander. Dis ’n verskriklike ding daardie, want hy laat jou iets probeer wees wat jy nooit sal wees nie. Hy is die alter ego van minderwaardigheid, wat op sy beurt weer maak dat jy bang is om te wys wie jy regtig is. Spreuke 8:13: Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, 'n verkeerde lewe en slinkse woorde. Lyk my Salomo koppel nou sommer hoogmoed aan slinksheid en ’n verkeerde lewe. Hoogmoed is ’n reuse monster, oppas vir hom.

Nou hier kom vir jou nou nog ’n wilde monster: onvergewensgesindheid. Hy  is ook die bloedbroer van bitterheid. Weet jy wat is erg van hierdie monster? Hy vernietig jou oor ’n ander ou se verkeerde dade. Hierdie monster straf jóú, hy bind jou vas met kettings aan die ander persoon. Hy maak van jou ’n Siamese tweeling met jou vyand. Hy laat jou praat en redeneer met iemand wat jy eintlik eerder  wil vermy en hy laat jou elke redenasie verloor. Dis jammer, want hy laat nie plek vir die vrede van God  wat alle verstand te bowe gaan om in jou te werk nie. Hy maak jou ’n slaaf van die ander persoon. Breek weg van hierdie monster af!

Daar is nog baie ander monsters: geldgierigheid, hoop loosheid, hopeloosheid, haat, ongeloof, sonde, toekoms loosheid, swak selfdissipline, verlede, ens. Die Here kan nie saam met monsters binne-in jou heers nie. Dis óf Hy, óf hulle.

Ps. 139:1-6 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Só het die Here jou gemaak. Soos ’n splinternuwe rekenaar wat nog geen “operating system” of enige programmatuur op het nie. (skuus vir die Engels, maar as ek Afrikaanse rekenaarterme moes gebruik, sou dit só klink: ’n skootblad met Vensters 7 professioneel, gelaai met Mikro-sag 2010 met Woord, Sprei-lakens, Uitkyk en Kragpunt, nie eens te praat van ’n groot stoor nie). Van dag een af word jy geprogrammeer, ongelukkig met dinge wat nie altyd jou eie keuse is nie. Jy moet dus iewers jou anti-virus, die Heilige Gees, toelaat om hierdie ding uit te wys (en uit te wis) en jy moet aksie neem.

2 Kor. 5:17
Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.

Spik-splinternuut! Die Here kan die anti-virus laat loop en al daardie lelike goggas vernietig. Soos wanneer die toilet-spuitgoed (soos op die TV-advertensie) onder die rand van die toilet ingespuit word en daardie monstertjies so gou soos nou padgee.

Ek dink ons moet voortdurend hierdie monsters in ons probeer identifiseer, isoleer en vernietig. Ons het in die weermag geleer dat jy enige vyand kan aanvat as jy sy  strategie ken en weet waar hy is. Miskien moet ons met ’n proses begin om elke dag een van hierdie aaklige monsters te soek en dan met sy gal te werk.

Vervulling met die Heilige Gees maak dat daar nie plek oorbly vir hierdie monsters nie. Laat die Here toe om elke hoekie van jou wese te beset en jy sal ’n nuwe mens wees. Maar hou maar dop, jy sal die deur moet toehou, want die monsters sál weer wil terugkruip.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)