 Eks. 
			20:1-7
Eks. 
			20:1-7
			Toe het God al hierdie gebooie aangekondig: “Ek is die Here jou 
			God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag 
			naas My geen ander gode hê nie. “Jy mag nie vir jou 'n beeld of 
			enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde 
			hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie 
			vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou 
			aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot 
			in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my 
			liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my 
			gebooie gehoorsaam. “Jy mag die Naam van die Here jou God nie 
			misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie 
			ongestraf laat bly nie. 
			Dit is die wet van God, soos wat 
			die Here dit vir Moses gegee het.
			God, die Oppergesag, hoogste gesag, 
			Skepper van alles, die enigste God, ’n God van liefde, ontferming, 
			deernis, sagtheid, ’n vriend, ’n lewende God. Hy is ernstig oor sy 
			skepping, oor sy skepsels. Hy is egter ook ’n jaloerse God wat ons 
			as sy eiendom toeëien. Hy soek jou, Hy soek jou hart, Hy wil jou 
			naby Hom hê en Hy wil alles van jou hê. Hy eis onverdeelde trou.
			Hoekom is Hy jaloers? Hy besit jou 
			mos, of hoe? Of is dit nie waar nie? Ongelukkig is dit per definisie 
			nie waar nie, want jy moet kies of jy aan Hom behoort of nie. In die 
			tien gebooie stip Hy presies uit wat Hy van hierdie verhouding 
			verwag: “Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My”. Hy eis 
			onverdeelde trou, maar Hy dwing dit nie af nie. Onverdeelde trou is 
			soos in ’n huwelik: ek het één vrou en elke enkele element wat met 
			’n vrou te doen het, sal en moet ek op haar uitstort. Nie net 50%, 
			80% of 99% nie, maar 100%. En net so eis die Here my onverdeelde 
			trou. Dit beteken dat ek 100% vír Hom is, of niks. Dis my en jou 
			keuse. As jy vandag wonder wat Hy van jou verwag, dan kan jy weer 
			Eks. 20 lees, want dit is presies net so geldig vandag as ’n paar 
			duisend jaar gelede.
			Het God my en jou onverdeelde trou? 
			Weet jy, ons leef in ’n wêreld waar daar ’n totale roekeloosheid 
			hieroor heers. Dis algemeen, dit raak modern om jou geloof af te 
			sweer. Ek lees die kommentaar van ’n eks-predikant wat spog dat hy 
			twee jaar gelede sy geloof afgesweer het en nou vier hy dié dag. As 
			jy dit lees sal jou hare regop staan. Dan verklaar hy dat hy nie sy 
			geloof verloor het nie, hy het dit afgesweer en weggegooi... baie 
			dapper! Maar, die skrif is aan die muur. Ek is seker jy ken hierdie 
			spreekwoord en dat dit beteken jou doppie is geklink! Alles is verby.
			Dan 5:1-7
			Koning Belsasar het 'n groot ete gegee vir sy duisend 
			hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. Toe hy onder die 
			invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat 
			deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem 
			weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en 
			sy byvrouens daaruit kon drink. Toe is die goue en die silwerbekers 
			gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die 
			koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit 
			gedrink. Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, 
			yster, hout en klip geprys. Meteens verskyn daar toe 'n mensehand 
			wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die 
			kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. Toe het 
			die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy 
			was lam van die skrik. Hy het hard geroep dat die voorspellers, die 
			sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir 
			hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is 
			en dit vir my kan uitlê, sal 'n koninklike kleed aangetrek word en 
			'n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.”
			
			Ons lees dat Daniël ingeroep word 
			om dié onverstaanbare woorde vir die koning uit te lê. Die koning 
			word bang en beangs en het geen idee wat hier gebeur nie. Hoe sou jy 
			opgetree het as jy skielik hierdie hand sien wat begin skryf? Hoekom 
			is hy bang? Want hy is roekeloos met God, hy het saak met die Here 
			en sy heiligheid. Hy het die silwer en goue bekers wat uit die 
			tempel in Jerusalem kom gebruik vir ’n reuse-partytjie wat hy gehou 
			het. Dit was items wat ’n heilige betekenis gehad het en hy gebruik 
			dit om sy eie fees te hou. En dit, lyk dit vir my, moes hy nie 
			gedoen het nie. En daai hand skryf en Belsasar begin beangs en 
			paniekerig raak. 
			Dan 5:22-30
			Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig 
			nie, alhoewel u dit alles weet. U het verwaand opgetree teenoor die 
			Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u 
			en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. 
			U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip 
			geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet 
			nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat 
			oor u lewe beskik nie. Daarom is die hand deur Hom gestuur en is 
			hierdie woorde geskrywe. “Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, 
			getel, geweeg en verdeel.’ En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: 
			God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. 
			‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. ‘Verdeel’: u koninkryk is 
			verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.” Daniël is toe op 
			bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue 
			halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang 
			in die koninkryk. Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs 
			vermoor. 
			Hy het God getart, Hom nie geag en 
			geëer nie; hy het hom nie voor God verootmoedig nie en dan kom 
			hierdie woorde: Getel. Getel. Geweeg en verdeel. Hy is geweeg en te 
			lig gevind. Jy sien, hierdie ding gaan nie oor gewoonweg sonde doen 
			nie. Dit gaan nie oor ’n swakheid van ’n mens wat dinge doen waaroor 
			hy later berou kry nie. Hierdie gaan oor ’n roekelose, Goddelose 
			lewenstyl, ’n lewe waar God weggestoot word, beledig word en getart 
			word. 
			Kom ons sê jy vat my Noritake 
			eetgerei, of ’n goue beker en gooi die hond se kos daarin en roep 
			vir Wagter en Wagter smul uit die beste eetgerei. As jy dit doen, 
			kom die bord niks oor nie, maar jy betoon minagting teenoor my. Weet 
			jy hoe maklik is dit om God te minag? “Daardie nag is koning 
			Belsasar van die Galdeërs vermoor” (vers 30). Hy was roekeloos met 
			God en toe skryf die hand: geweeg en te lig gevind.
			Het die Here op hierdie manier vir 
			Belsasar om die lewe gebring, of was dit maar toevallig dat hy 
			vermoor is? Dit was nie toevallig nie. Die Here het sy lewe geneem 
			omdat hy Hom nie geëer het nie. Waar staan ek en jy? Wat sal die 
			hand teen die muur skryf?
			Ek dink ons moet gereeld 
			introspeksie doen en besin of die Here sentraal staan in ons lewens. 
			God se genade is oneindig groot, maar Sy oordeel is oneindig fel vir 
			dié wat roekeloos met Hom omgaan en Hom uittart. 
			Ek veroordeel nie hierdie 
			eks-leraar van wie ek gepraat het nie, hy veroordeel homself. Die 
			Here is ’n werklikheid en ’n lewende God. Ja, verseker is Hy ’n God 
			van liefde, maar onthou dat Hy ook ’n jaloerse God is.
			
			Ek wil nie ’n hand teen my muur sien skryf nie, maar miskien is ek 
			ook soms roekeloos met Hom. Daar is verskeie manier hoe ons Hom 
			oneer kan aandoen, bv. 
			1.