| 
              
			 'n 
			Baie klein gereedskap stukkie wat die Here vir ons gegee het, maar o 
			tog, 'n giftige klein dingetjie. Iets wat ek en jy so dikwels totaal 
			verkeerd gebruik. Iets wat gemaak is om die Here se Naam groot te 
			maak, om Sy lof te besing, om te getuig, maar daarvan kom daar maar 
			min. 
			Daar is meer as 100 verse in die Bybel oor die tong 
			- meestal negatief. Die meeste van hierdie verse waarsku teen 
			hierdie giftige orgaantjie. 
			Jak. 3 : 1 - 12 My broers, julle moenie almal 
			leermeesters wil wees nie, want julle moet weet dat ons wat 
			leermeesters is, strenger as ander beoordeel sal word. 2 Ons 
			struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy 
			sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te 
			hou. 3 Vir perde sit ons 'n stang in die bek, en dan gehoorsaam 
			hulle ons en het ons hulle hele liggaam onder beheer. 4 Dink ook 
			maar aan skepe: al is hulle baie groot en al is die winde wat hulle 
			aandryf, baie sterk, word hulle tog met 'n baie klein roertjie 
			gestuur net waarheen die stuurman wil. 5 So is die tong ook maar 'n 
			klein liggaamsdeeltjie, en tog het dit groot mag.'n Klein vuurtjie 
			kan 'n groot bos aan die brand steek. 6 Die tong is ook 'n vuur, 'n 
			wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele 
			mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die 
			dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand 
			gesteek. 7 Alles wat loop, vlieg, kruip of swem, elke soort dier 
			word en is al deur die mens getem, 8 maar geen mens kan die tong tem 
			nie. Dit is 'n rustelose kwaad, vol dodelike gif. 9 Met die tong 
			loof ons die Here en Vader, en met die tong vloek ons die mense wat 
			as die beeld van God gemaak is. 10 Uit dieselfde mond kom lof en 
			vloek. My broers, so moet dit nie wees nie. 11 'n Fontein laat tog 
			nie uit dieselfde oog vars en brak water opborrel nie. 12 'n Vyeboom, 
			my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n 
			Brak fontein kan mos nie vars water gee nie! 
			Jakobus waarsku hier teen hierdie tong op 'n baie 
			"kras" manier. Lees vers 6. Dit word uit die hel aan die brand 
			gesteek. Vers 8: Maar geen mens kan die tong tem nie. 
			Ps 52 : 4 Jy wil ander se ondergang bewerk. Met 
			jou vlymskerp tong pleeg jy bedrog. 
			Ps 50 : 19 As jy jou mond oopmaak, praat jy 
			kwaad, jou tong ryg bedrog aanmekaar. 
			Die tong - hierdie liggaamsdeel wat heel waarskynlik 
			meer skade aanrig as al die ander dele van die liggaam saam. Weet 
			jy, dink 'n bietjie saam met my - wat is dit wat spanning en kwaai 
			vriendskap tussen mense bring? Dit is bykans nooit 'n fisiese 
			handeling nie. Dis bitter selde dat dit kom as gevolg van fisiese 
			geweld, 'n geklappery of iets dergeliks. En indien wel, is dit maar 
			ook 'n uitvloeisel van die tong. Hoe werk dit dan? Hoekom is hierdie 
			klein orgaantjie in my en jou mond dan so gevaarlik? 
			Ek dink dis bloot maar omdat hierdie tong my en jou 
			gedagtewêreld uitspreek. Dit lyk my of ons bedrieglike gedagtewêreld 
			maar net 'n plek kry om te ontsnap, en dan is die tong maar te 
			gretig om die boodskap oor te dra. Is dit nie waar dat die tong baie 
			eerder dinge oordra wat seermaak, as dinge wat plesier bring nie? 
			Jy ken mos die spreekwoord "Ek kon my tong afbyt". 
			Ja nee, dis sowaar so dat 'n onbesonne woord verhoudinge vir baie 
			jare kan vertroebel. 
			Wat gaan ek en jy hieraan doen? Lees weer Jak 3 : 9 
			- 12. 
			Kom ons kyk nou vir oulaas na die slegte voor ons 
			besin oor die goeie. 
			Wat praat ons verkeerd? 
			- Leuens. Navorsing wys dat as jy 'n leuen genoeg 
			kere vertel het, glo jy dit self. Wit leuentjies kom so maklik, maar 
			dis die tong wat steeds bedrieg: skinder; kwaadpraat; kwetsende 
			woorde; verkleinering; vloek; ens. Waar stop ons? Dit lyk vir my 
			hierdie dinge kom sommer vanself. Maar dis nou genoeg van die 
			negatiewe. 
			Kom ons kyk na dit waarvoor die tong gemaak is:- 
			- Om die Here se lof te besing en hom te vereer  
			- Om te getuig - kan jy regtig vir die Here getuig sonder jou tong?  
			- Om ander bemoedig - hoe wonderlik voel 'n ander nie as jy mooi 
			dinge sê nie 
			- Om mooi kwaliteite van ander mense besing  
			- Om ander komplimenteer – doen vandag bietjie moeite hiermee 
			- Om te vergewe  
			- Om lofpsalms te sing vir die Here 
			- Om die waarheid praat  
			- Om integriteit te bewys 
			- en nog baie ander dinge …….. 
			In wie se diens gaan ek en jy vandag ons tong stel? 
			In satan se diens? Om te vervloek soos in vers 9? Of dalk in God se 
			diens - alles wat mooi is, alles wat rein is, alles wat opbouend is 
			- dit kan van die tong kom. 
			Kom ek en jy gaan hierdie dag in en gebruik ons tong 
			om vir ander tot seën te wees, en bo alles, om die Here se Naam 
			groot te maak. Weet jy wat gaan gebeur as jy vandag vir iemand sê 
			"ek is lief vir jou met Jesus liefde"? of net "jy lyk mooi vandag" 
			of "jy is 'n kosbare vriend". 
			En dan wil ek laastens vir jou vra: Wil jy nie 
			vandag gaan regmaak daar waar jou tong iewers verbrou het nie? Of 
			wil jy nie gaan vergewe waar iemand anders verbrou het nie? Kom my 
			vriend, ek daag jou uit: gaan kyk wat dit aan jou doen! Gaan maak 
			die verhoudinge met jou tong reg. 
            
             
			   |