DIE VREEMDE WÊRELD VAN GOD


Ek het onlangs een enkele sin gehoor wat iemand in ’n gesprek genoem het en toe hou dié sinnetjie my gedagtes vir dae lank besig. Die sin was: “Die vreemde wêreld van God”. Na baie dink, het ek besef dat God se wêreld werklik, werklik vreemd is. Dit is bokant my begrip, dis meer as wat ek kan verstaan en hoe meer ek my gedagtes in hierdie woorde laat insak, hoe vreemder word dit vir my.

Die mens is in hierdie ontsaglike heelal, deel van ’n klein planeetjie en sovêr ons weet , blyk dit dat ons paar mensies (so 7 biljoen), heeltemal alleen in die heelal woon. In ’n heelal so onbeskryflik groot, is ons nóú hier.

Die Bybel begin met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep...”. Blykbaar het Hy dit gedoen deur net te praat. Dit is absoluut vreemd! Al wat ons dikwels met ons woorde regkry is om verhoudinge te vertroebel. Adam maak sy oë oop en bevind hom as ’n volwassene in hierdie vreemde wêreld en “sien” hierdie vreemde wese wat Hom geskep het en hy wonder waarskynlik: “wat maak ek hier?” Toe kry hy op die koop toe nog ’n vreemde wese as lewensmaat (ons kan daarmee assosieer, want ons as mans bly maar sukkel om die skoner geslag te verstaan.... of soek ek dalk nou na moeilikheid?). Daar loop toe ook allerhande vreemde diere rond en hulle is anders, want hulle praat nie terug nie; Adam het hierdie vreemde besef dat hy oor die diere heers. Die mens is van die vreemdste skepsels op aarde: by diere vind daar net veranderinge binne spesies plaas, maar die mense het die vermoë om homself voortdurend te “verbeter”, sy kennis neem toe, hy ontwikkel homself en hy ontwikkel allerlei instrumente en masjiene om sy lewe te vergemaklik. Dan het die mens ook nog die vermoë om in ’n verhouding te kom met sy Skepper. As mens mooi daaroor dink, is dit ’n baie, baie vreemde gedagte! Hoe meer sy kennis toeneem van sy wêreld, hoe meer besef die mens dat jy al hoe minder en minder van hierdie vreemde wêreld van God verstaan. Toe die slim mense allerhande somme van die heelal maak, kom hulle agter dat ons net van 4% van die massa van die heelal kan rekenskap gee. 96% is weg en ons soek dit in wat genoem word “dark matter”. Sjoe, dis vreemd, man!

’n Verdere vreemdheid wat die mens besef is dat dit moontlik is om sy verhouding met sy Skepper te vertroebel en dat hy kan kies om weg te breek van God af. Wat nog meer vreemd is, is dat sy Skepper aanhou hunker en verlang na hom en hom wil terugtrek na Hom toe. Op die vreemdste manier begin die Skepper toe om ’n liefdesbrief vir Sy skepsels te skryf. Hy neem 1600 jaar daarmee en praat op ’n vreemde manier met meer as 40 mense om presies dieselfde boodskap neer te skryf. Die boodskap is eenvoudig en kan opgesom word as: “Kom terug na My toe”. Hierdie is voorwaar ’n vreemde Boek. Sommige lees dit en níks gebeur nie; ander lees dit en die vreemdste goed gebeur in hulle harte; hulle verander só dramaties dat jy nie kan glo dit is dieselfde mense nie.

Wat ook nog vreemd is, is dat hoe vêrder die mens van God af wegdryf, hoe meer begin hy self hunker om terug te keer. Hy wíl met sy Skepper versoen, maar die vreemde konsep van sonde (wat vreemd genoeg net by die mens voorkom!) dryf hom net weer vêrder weg. Hoe meer God en die mens sukkel om hande te vat, hoe moeiliker raak dit om vêr genoeg te strek om weer verenig te word. Ek dink God en die mens het besef dat iets vreeslik vreemd moet gebeur om hierdie “handshake” moontlik te maak!

Wat tóé gebeur, kan g’n mens verstaan nie. ’n Baba word uit ’n maagd gebore. En as dit nie vir hierdie bonatuurlike Boek was nie, sou ons nooit geweet het wat dáár gebeur het nie. “Niks is vir God onmoontlik nie”, sê Lukas 1:37. Jy sien, die vreemde ding wat moes gebeur om God se uitgestrekte hand by die mens se uitgestrekte hand te kry, was die geboorte van die mens Jesus, wat self ook God is, wat die Middelaar tussen God en mens geword het. Hoe vreemd dit ook al mag klink, niemand anders op aarde as God se Seun self sou hierdie taak kon doen nie.

 

Nog iets wat vir my soms só vreemd is dat ek vasdraai in my eie gedagtes soos wat ek dit probeer uitredeneer, is wat in Joh. 1:14 en 1:2-3 staan:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.

Glo dit of nie, Hy het ook daardie 96% “dark energy”, wat skoonveld is, geskep.

Vreemd genoeg moes Hy toe gekruisig word sodat ons gered kan word. Hy moes sterf sodat ons kan leef.

Daar gebeur toe nog iets vreemds, waarvan ons in Hand 2:1-4 lees: Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. Skielik was daar 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het. Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het. Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
Die Heilige Gees word uitgestort en tot vandag gebeur hierdie vreemde ding met ons as die Heilige Gees van ons besit neem.

Al hierdie dinge is vêr bokant die begrip van die mens en vervul my net met verwondering. Ek moet vandag erken dat die vreemdheid van al hierdie dinge my soms onbeskryflik dom laat voel en vir my laat voel dat ek eintlik liewers niks van die Here moet probeer vertel nie. Daarom vat ek dit maar met ’n knippie sout as ek mense teëkom wat beweer dat hulle God volkome verstaan, Sy werk verstaan, Sy denke verstaan, Sy planne kan uiteensit, Sy wederkoms in detail kan voorspel en praat asof hulle hierdie vreemde wêreld van God heeltemal onder die knie het. Dit terwyl die slimste mense op aarde nie kan verduidelik waar 96%  van die heelal is nie!

Op 5:1-5
In die regterhand van Hom wat op die troon sit, het ek 'n boekrol gesien wat aan die voor- en aan die agterkant vol geskrywe was en wat met sewe seëls goed verseël was. Toe het ek 'n sterk engel gesien wat met 'n harde stem uitroep: “Wie is waardig om die boek oop te maak deur die seëls daarvan te breek?” Maar niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde was in staat om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. Ek het baie gehuil omdat daar niemand gekry is wat waardig was om die boek oop te maak en daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.”

Ek kan nie eers probeer om dít te verstaan nie; hiervoor het jy nog iets vreemd nodig, iets wat jy nie kan sien of verduidelik nie en dit is geloof.
Heb 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Jy sien, as hierdie vreemde ding, nl. geloof jou eers vat, verander al hierdie vreemde dinge in absolute verwondering.|

Die vreemde wêreld van God skep vir ons ’n lewe van soeke, ontdekking, kennis versamel en wysheid najaag. Hoe meer jy soek, hoe meer ontdek jy! Geniet die vreemde wêreld van God.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)