| 
  2 
			Tim 3 : 14 - 17 14 Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy 
			vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was 15 en jy ken van 
			kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot 
			verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif 
			is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te 
			onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte 
			lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, 
			volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
 Die Woord van God - die wonderlikste boek wat ek en 
			jy in ons lewens kan hê. Hierdie boek, die Bybel, is weliswaar die 
			mees merkwaardige dokument wat vandag bestaan. Alles in die Bybel, 
			is die Woord van God. As ons wil weet wat die Here vir ons wil sê, 
			hoef ons net die Bybel te lees. Ons het niks meer nodig nie, geen 
			spesiale openbaring (of uitlegte) nie, ons hoef dit net te lees. In die Bybel lees ons die Woord van God. Openbarings, 
			die Here se bevele, reëls, wette, Sy leringe, alles wat die Here vir 
			ons wil sê. Ek en jy is inderdaad bevoorreg om 'n dokument te hê 
			wat so volledig is, dat ons niks daaraan hoef te verander nie. Die 
			Bybel is vandag nog net so geldig soos duisende jare gelede. Maar eers 'n bietjie geskiedenis. Waar kom hierdie 
			Boek vandaan? As kind het ek dikwels gedink dat dit maar net 'n paar 
			mense was wat hierdie dinge opgeteken het, 'n paar honderd jaar 
			terug. Dit bestaan uit 66 boeke, geskryf deur ongeveer 40 skrywers 
			oor 'n periode van ongeveer 1600 jaar. Geskryf in Grieks, Hebreeus 
			en Aramees. Die oorsprong van die Bybel kom uit Asië, Europa en 
			Noord-Afrika. Die Bybel is op 'n wonderlike manier saamgestel. Dit 
			bestaan uit briewe, geskiedkundige inskrywings, biografie, etiese 
			reëls, ja, selfs al die verduidelikings wat ons nodig het rondom die 
			wetenskap. AL die inskrywings is heeltemal waar en korrek en kon nog 
			nooit deur enigiemand weerlê word nie. Benewens die Bybel self is daar nog die apokriewe 
			boeke (buite-Bybelse geskrifte), wat ook oor die Here praat. Die 
			Bybel is in sy huidige vorm saamgestel op 'n sinodesitting, ongeveer 
			397 na Christus. Daar was toe besluit wat tot die Nuwe Testament 
			hoort en wat nie. Die eerste Latynse Bybel wat gedruk is, was in 
			1456 - die sogenaamde Vulgata. Nou ja, dit is 'n mondvol inligting, maar wat 
			daarvan? Hierdie Bybel het geen waarde as ons dit nie lees nie. Vele 
			mense, ek ken persoonlik een, het tot bekering gekom deur net die 
			Bybel te lees. Die hooftema van die Bybel is natuurlik om vir ons 
			die weg tot saligheid aan te dui. Ps 119 : 105 U woord is die lamp wat my die weg 
			wys, die lig op my pad. Tussen die ongeveer 5000 profesieë, is die 
			belangrikste die heenwysing na Jesus se koms en reddingswerk. Ek en 
			jy kan te midde van alles in die Bybel, presies weet hoe om die 
			ewige lewe te beërwe. Hierdie boek vertel jou van gesin sake, 
			huwelike, besigheid - man, die beste handboek van die lewe denkbaar, 
			maar die sentrale boodskap wys na Jesus se koms en die ewige lewe. Lees jy die Bybel? Weet jy wat gaan gebeur as jy die 
			Bybel intens begin bestudeer? 1 Kor. 2 : 14 sê: "Die mens wat nie 
			die Gees het nie, vir hom is hierdie dinge onsin". Iemand het gesê: Vlak genoeg vir 'n kind om in te 
			swem, maar so diep dat teoloë nie die bodem kan kry nie. Ons het nou maar geskraap aan die oppervlak as ons 
			oor die Bybel praat. Ons kon nog besin oor hoe om die Bybel te lees, 
			die eindtyd, ag, seker vir weke besig bly. Maar die vraag bly, lees ons die Bybel? Aanvaar ons 
			dit as die Woord van God? Verander ons? Ek los jou met Jos. 1 : 8.
			"Hierdie wetboek moet die rigsnoer wees vir 
			alles wat jy sê. Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer 
			wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy 
			sal voorspoedig wees".
 |