Hierdie drie
bostaande dinge ding het iets in gemeen – eensaamheid, alleenheid, net “me
and myself”, die hel van afsondering. Dit moet erg wees, ek ken dit nie.
Dalk iets soos die dag toe Jesus alleen aan die kruis gehang het, toe
selfs Sy Vader hom verlaat het. Stoksiel alleen.
Ek dink dis nogal
erg. Soms raas dit vreeslik in my huis, daar is altyd musiek aan die gang,
gewoonlik deur die kinders gemaak. Dogter speel gereeld op die klavier,
seun op sy kitaar, soms oefen die orkes en andersins blęr 'n radio. Ek en
vroulief kla nooit daaroor nie, want daar is LEWE in die huis. Want hier
is nog asems in die huis, iets wat baie mense nie ken nie. As ek wakker
word is vroulief langs my en ek kry gewoonlik koffie in die bed. In ons
huis is daar stemme, klanke, gesprekke en argumente (aangenames), raad
vra, raad gee, menings uitruil, 'n totale interaktiewe lewe. Lekker!!!
Maar... dis nie
vir almal nie. Daar is mense vir wie die lewe hel is, wie se eie menings
die enigstes is wat hulle hoor. Vir wie huis toe gaan dieselfde is as om
in die Donker gat in die Kasteel gegooi te word. Eensame aanhouding is
seker een van die slegste vorme van straf wat daar is, net jy en die vier
mure. Ek glo eensaamheid gaan dikwels gepaard met depressie. Die mens het
nou maar eenmaal die mens nodig, ons is so geskape.
Pred 4:9-12 Twee
vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die
ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op
te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een
wat alleen is, warm word? Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan
weerstand bied. 'n Driedubbele tou breek nie maklik nie.
Twee vaar beter
as een. Twee slaap warmer as een, 'n driedubbele tou breek nie maklik nie.
Mens kan nie met jouself lepel le nie. Dis nie baie slim om heeldag met
jouself te praat nie, mense sal dink jy is koekoes. Jy kan nie met jouself
argumenteer nie, 'n een-man vergadering het altyd 'n kworum, jy kan nie
eers veto-reg uitoefen nie.
Dink bietjie
aan die woord “eensaam”, klink eintlik snaaks. EEN SAAM. Een saam met wie?
Een wat saam is, saam wie? Saam verwys immers na meervoud, of hoe? Selfs
net die woord “eensaam” is eintlik belaglik. Ek gun niemand eensaamheid
nie.
Eensaamheid is
dikwels 'n teelaarde vir verkeerde besluite. Ek het al gesien hoe mense
weens eensaamheid so desperaat raak vir geselskap, dat hulle in die
vrotste huwelike denkbaar beland, alles net ter wille van geselskap.
Miskien is dit sleg om alleen te wees, maar dit kan BAIE slegter wees om
met die verkeerde persoon jou eensaamheid te verbreek. Nog 'n probleem met
eensaamheid is dat mense so teruggetrek raak in hulleself, dat hulle net
nie meer in ander se geselskap wil wees nie. Dan gaan mens EERS in 'n
“downward spiral”. Voorts voel baie enkellopendes dat hulle nie meer die
vrymoedigheid het om in ander paartjies se geselskap wil kom nie, en dis
heeltemal onnodig.
Nee man, neem
die vrymoedigheid om in ander se geselskap te kom, maak moeite om te meng
met mense wat jou kan oplig en neem deel aan aksies en aktiwiteite wat
weer sin aan die lewe gee. En nee, dis verseker nie opdringerig om met
ander te meng wat nie in dieselfde bootjie is nie.
Dis verkeerd om
te dink dat aksies vir enkellopendes “dating clubs” is. Inteendeel, dis 'n
gemaklike manier om weer opgeneem te word tussen ander mense.
As jy vriende
het wat alleen is, maak tog 'n punt daarvan om moeite te doen om uit te
reik na hulle. In Prediker gee die Here hoeka vir ons 'n opdrag as Hy se
twee vaar beter as een. Twee slaap warmer as een, twee kan mekaar ophelp.
By aftree-oorde sien mens nogal hoe mense weer begin LEEF as hulle tussen
ander van dieselfde portuur kom. Daar doen hulle dinge saam, neem deel aan
aktiwiteite en kuier sommer net 'n hond uit 'n bos uit.
Daar kom
sekerlik 'n tyd waar omstandighede mens in 'n alleenlewe indwing, die
vraag is net of jy gaan toelaat dat allenwees in die hel van eensaamheid
ontaard. Hoe langer mens toelaat dat die swart wolk van eensaamheid soos
'n kombers om jou toevou, hoe moeiliker gaan jy weer daar uitkom..
Wel, ons is in
elk geval verseker nie alleen nie.
Joh 14 : 15-20