EK KEN IEMAND


Het jy ook ‘n paar “contacts”? Hulle sê mos, dis nie wie jy is nie, dis wie jy ken! Dalk het jy ook in die ou dae gesê: “Gee my jou verkeerskaartjie, ek ken iemand wat dit kan squash”. Dalk het jy ook al gesê: “Ek sal vir jou ‘n goeie woordjie doen by sus en so”. Verder klink dit mos ook baie belangrik om te kan sê die en daai is my verlangse familie, of ‘n vriend  van ‘n vriend. In die weermag het ek ‘n ou ontmoet (toevallig ook ‘n Botha) en ons kom toe agter dat my suster se eks-man se ma is sy ouma se niggie! Sjoe, amper familie! 

Joh 8:12-20
Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee."   Die Fariseërs sê toe vir Hom: "Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie."  Daarop sê Jesus vir hulle: "Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.  In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het."  Toe vra hulle vir Hom: "En waar is die vader van jou?" Jesus het geantwoord: "Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het." Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat sy tyd nog nie gekom het nie.
 

“Julle ken My nie en ook nie My Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het” 

Inderdaad, as jy ‘n persoon se pa ook nog ken, is daar sommer ekstra gesag by. Daar is waarde daarin om iemand te ken, veral as jy op voornaam-termes is met die persoon.... “to know people in high places”, jy weet? Ek is seker jy ken ook ‘n paar ouens wat invloed het. Ja-nee ons kan maar lekker spog as ons so terloops noem dat iemand belangrik vir jou iets gesê het by een of ander uitgesoekte byeenkoms. 

Maar, om Jesus te ken oortref alles:

1)     Jy ken Iemand wat alles wat is, was en wat kom geskep het. Elke ding, elke mens, elke stukkie materie het Hy geskep. Omdat die mens se totale denke en verwysingsraamwerk gekoppel is aan wat jy kan sien, of ervaar,  of voel, of van weet, moet Hy groter wees as dit! Die Skepper is altyd groter as die skepsel. As jy Hom ken, dan weet jy dat niks vir Hom onmoontlik is nie, daar is niks wat Hom oortref nie, niks wat Hom kan onderkry nie! Spog gerus daarmee dat jy HOM ken.

2)     Jy ken Iemand wat twee keer brood vermeerder het. Vyf brode en twee vissies gee toe 5000 mans kos, dit sluit nie eens die vroue en kinders in nie. Dit wat Hy toe kon doen, kan Hy vandag ook nog doen. Net so kan Hy jou brode vermeerder. Is jy bekommerd oor goeters? oor geld miskien? oor die kos op die tafel? Jy hoef nie, jy ken mos Iemand wat ‘n plan kan maak. Dalk kan jy daarvan getuig dat Hy dit al in jou lewe gedoen het. Ek kan definitief daarvan getuig. Hy het al menigmaal dinge gedoen wat my verstom laat staan het. Miskien het jou somme ook al telkemale nie op papier geklop nie, maar jy het dit gemaak! Spog gerus daarmee dat jy HOM ken.

3)     Jy ken Iemand wat op water kan loop. Hy is so magtig dat Hy by tye Sy eie natuurwette kan ophef. So kom Hy aangestap op die water en nooi sommer vir Petrus om dit ook te doen. Hy kry dit sowaar reg! Jy kan ook spreekwoordelik op die water loop, weet jy? Oorwinning oor goed, oor omstandighede, om beter te doen as die gewone, om nie toe te laat dat die harde golwe van die lewe jou onderkry nie. Hy wil hê jy moet ook waterloop, in oorwinning. Oorwinning oor sonde, oor omstandighede, oor goed wat jou afrem. Spog gerus daarmee dat jy HOM ken.

4)     Jy ken Iemand wat mense wonderbaarlik kan genees. Blindes kon sien, kreupeles kon loop, dowes kon hoor – hulle is almal genees deur hierdie Persoon wat jy ken. Een en dieselfde Een, Jesus Christus. Net so kan Hy jou ook genees – Hy is tot alles in staat. Hy kon selfs Sy vriend, Lasarus, uit die dood opwek, en ‘n klein dogtertjie weer lewend maak. Hy kan regtig alles doen. Lewensveranderend as jy Hom ken! Spog gerus daarmee dat jy HOM ken.

5)  Ek ken Iemand en jy ken Iemand wat bo elke mens op aarde uittroon, wie se grootheid geen einde ken nie, wat deur niemand oorwin kan word nie, wat nie uitgewis kan word deur die grootste militêre offensief nie. Nie die hele wêreld se weermagte, met die beste toerusting kan iets aan Hom doen nie! En tog gaan Hy en Hy was sy dissipels se voete. Hy gee soveel om dat Hy die werk van ‘n slaaf aanpak en voete was. Hierdie Een wie jy ken, dien jou ook. Jy ken Iemand wat die enigste ander mag in hierdie wêreld (die Satan) verslaan het. En daarom hoef jy nie meer voor die duiwel te buig nie. Jy hoef nie eers van hierdie kalant te praat nie. Jy hoef hom nie te bestraf nie, of hom te vervloek nie. Want jy ken Iemand wat groter is as hy.

6)  Nou ja, die heel beste is dat jy dié Iemand ken wat dag en nag voor die Vader staan en die doodspyle vir jou afweer. Gratis, free en verniet. Hy ken jou, en jy ken Hom. Die beste vriendskap denkbaar, die beste Persoon in hierdie heelal om te ken – op voornaam-terme: Jesus Christus. 

Die geskeurde voorhangsel maak dat ons nou vrye toegang tot Hom het. Spog maar gerus met Hom!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)