ENTROPIE


Ek het in die verlede al gepraat van die begrip: “entropie”. Entropie verwys na die beginsel dat alles sal verval in chaos. Dit sal outomaties gebeur. D.w.s., niks “verval” in orde nie, dit verval altyd van orde na wanorde. Hierdie term kom voor in die wette wat heers in termodinamika, en beskryf die proses wat meebring dat dit wat nou in balans en beheer is, binnekort nie meer so sal wees nie. 

Dit werk so: jy verf vandag jou huis, en more spring Brakkanjan teen die muur en dit lyk weer sleg. Laat val 'n gesorteerde pak kaarte en tel dit op, dan is dit deurmekaar. Sleep die tuinslang en hy sal vashaak en knak. Die verlengtou wat so mooi opgerol was, sal 'n knoop inhê as jy hom probeer afrol. Los 'n  motor lank genoeg in die woestyn, en daar sal uiteindelik niks van hom oor wees nie. Hy sal verval tot sy basiese elemente. Entropie is woes irriterend! 

Dit sal nie net dálk so wees nie, dit sal verseker so wees. Dis hoe dit is. 

Mens kan egter iets daaraan doen; nie om dit te keer nie, maar wel om die effek daarvan teen te werk. Jy kan iets daaraan doen deur energie in te sit.  In die weermag het ons gepraat van “elbow grease”. Die probleem is, as jy nie iets daaraan doen nie, sal jy geleidelik gewoond raak daaraan en daarmee saamleef.  

Dit is ongelukkig so met ons geestelike lewens ook. Ons kan dit “geestelike entropie” noem. As ons nie energie insit om geestelike verval teen te werk nie, sal ons Geestelike lewens ook verval tot niks. Dit sal ook van orde na chaos verval. Outomaties. Met tyd maak mens meer en meer verskonings om niks meer op Geestelike vlak te doen nie, jy wil nie meer kerk toe gaan nie, nie die Woord lees nie en selfs naderhand nie meer bid nie. Jy verskil ook sommer gerieflikheidshalwe met alles en almal. Om dit om te draai is egter nie maklik nie, dit kos werk. 

Openb 2 :1-7
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.   
 

Slaan hierdie deel nie die spyker op die kop nie?  “Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het...”. Ek persoonlik, ken dit baie goed. Soms raak ons so slim, dat ons die basiese al vergeet het. Naderhand is die basiese nie meer goed genoeg nie. Entropie is 'n aaklige ding wat ons wegtrek van die goeie af na die slegte toe.  

Weet jy presies wat in jou bankrekening aangaan? Of gaan daar by jou ook nog debietorders af wat al die afgelope twintig jaar afgaan? Vir dinge wat jy nie eers meer weet waarvoor jy die bydrae maak nie. Intussen kos die bankkoste jou al meer as die R10 wat afgetrek word. Ek glo baie mense laat toe dat baie fasette in hulle lewens so verval, en dan raak mens dit maar net gewoond. En boeta, kom ons praat nie oor my hangkas nie! 

Weggooi, is 'n wonderlike vermoë wat sommige mense het. Ek is gelukkig iemand wat maklik weggooi. As ek 'n ding vir lank nie gebruik het nie, gooi ek hom sommer weg. Dit werk entropie baie goed teë. Ons moet egter in ons Geestelike lewens ook soms deur 'n skoonmaak proses gaan, en voorraad opneem van wat ons doen en glo. Dit vra energie, maar dit verrig wondere.

Hierdie entropie-ding werk op nog ander vlakke ook. Bekommer jy jou dalk al laaaankal oor 'n ding, wat laaankal nie meer 'n probleem is nie? Jy bekommer jouself sommer net omdat jy so gewoond is daaraan en doen nie moeite om te kyk of hierdie saak nog enige kommer werd is nie.

Om entropie teen te werk is ook om bietjie daardie lewens-sleepwaentjie wat jy so agter jou aansleep, reg te pak en uit te sorteer. Introspeksie laat ons weer vars en nuut na 'n ding kyk. Daardie sleepwa is egter nie net vol slegte goed nie. Soms ontdek ons weer 'n paar kosbare dinge wat ons weer kan vertroetel en koester, omdat dit lekker en kosbaar is. Weereens, dit vra werk en spiere.

Geestelike entropie is 'n lelike ding.

Openb 2:4 “Maar Ek het dit teen julle, julle het My nie meer lief soos in die begin nie...”. Hierdie gedeelte in Openbaring begin egter met: “Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding”. Dit klink so bietjie teenstrydig, of hoe? Jy sien, ons kan deur al die “motions” gaan, al die “regte” dinge doen en alles kan so goed lyk, maar ons kan ons diepgewortelde liefde vir die Here verloor. Ons hou vergaderings, doen uitreike en alles lyk so reg, maar: is ek nog so lief vir die Here soos in die verlede? Ek ken my antwoord, maar dis ongelukkig nie 'n mooi antwoord nie. 

As jy elke week self jou hond bad, of jou motor met jou eie hande was, bly jy lief vir daardie hond of motor want dit hou die bande sterk. Daar kan nie 'n verhouding wees tussen my en my vrou of my en my kinders, as ons nie dikwels met mekaar besig is nie. Net so kan daar nie 'n verhouding met die Here wees as ons nie gereeld met Hom besig is nie. Entropie sal verseker sy tol eis. Dit kos tyd en energie om die verhouding lewend te hou. 

As jy elke dag net dinge in jou kas inprop, sal hy propvol wees, maar jy sal niks kry waarna jy soek nie. Die kas sal nooit netjieser en netjieser word nie, net meer en meer verval in chaos. 

Kom ons doen bietjie voorraad opname. Hoe lank terug het jy vir die Here gesê jy is lief vir Hom? Het jy dit al ooit gesê? 

Kom ek vra jou iets: glo jy nog “reg”? Glo jy dat die Bybel waar is? Glo jy die inhoud soos wat dit daar staan, of het daar ook al 'n dosis entropie ingetree? Ons geloof word so maklik gekontamineer, want ons raak maklik van so paar grondbeginsels ontslae, want dit pas nie by ons lewensstyl nie en maak ons ongemaklik. En hoe meer ons ander se menings hoor, hoe verder kan dit ons wegtrek van die Woord af. Omdat baie mense sê dat iets reg en aanvaarbaar is, maak dit nie noodwendig die waarheid nie. Die massas versus die Woord.  Dit word dan so maklik om te torring aan dele van die Bybel, want dis outyds om sus en so te glo en die riglyne van die Bybel is nie meer die absolute waarheid nie. 

Maar, die Here verander nie. Hy mag miskien verskillend met verskillende mense werk, maar hy is en bly God. Weet jy hoe maklik is dit om jou geloof te verloor? Jy verwaarloos net so bietjie jou Geestelike lewe, so maklik soos dit. En luister so bietjie na 'n paar skewe opinies en siedaar! 

Goddank, dit kan omdraai.

Openb 2:5b “Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het...” 

... met dié belofte:

Openb 2:7
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)