Geloof
is om te glo in God – dis egter nie ewe maklik vir almal nie. Hoekom
glo party mense nie? Daar is mense wat niks glo nie, in niks glo nie;
hulle het geen behoefte in geloof nie. Redes waaraan ek kan dink:
· Soms vind mense dit moeilik om te glo in iets wat
hulle nie kan sien nie. Soos Thomas. Hy het vir Jesus tydens die
kruisiging gesien, dalk toe Hy begrawe is. En dan sien hy Hom weer
na Sy opstanding. Hy glo egter eers toe hy die merke in Jesus se
hande sien. En sy reaksie? "My Here en my God" – geloof!
· Mense sien nie resultate nie. Glo intensief in iets, dan kom dit
anders uit. Dan voel hulle dat geloof eenvoudig net nie werk nie.
· Niks gebeur as hulle nie glo nie. Dus - "why bother?"
· Mense word verwar deur al die verskillende opsies. Dan kom die
vraag, as sus en so dan so radikaal anders as ek glo, wie is reg? Of
is albei reg?
· Mense word seergemaak deur ander gelowiges. En dan word die hele
kwessie van geloof in die drein afgespoel.
Soms glo ons "verkeerd", of om die verkeerde redes:
· Ons glo om op een of ander manier persoonlik
bevoordeel te word, dus, om iets daaruit te kry. Dan bid ons dat dit
klap, vir iets wat uitdruklik teen God se wil is.
· Soms glo ons om ons sondige, selfsugtige begeertes te bevredig.
· Geloof en die beoefening daarvan, kan selfs 'n status simbool wees.
· Glo soms uit vrees, dat iets verkeerd kan gaan, of aan die
anderkant, dat iets sleg sal gebeur wat ek in elk geval oor myself
bring.
Tydelike geloof: dit sluit baie van bogenoemde in.
Ons glo net solank ons dink dit nodig is. En dan is die geloof maar
weer weg, veral as daar dan 'n goeie uitkoms was. Dikwels gaan
hierdie geloof maar net om onsself. As die goeie gebeur, is die Here
vergete. En as die slegte gebeur, sê ons dat God onbetrokke is, of
Hy word totaal in twyfel getrek.
Waaraan hou jy tans in geloof vas? Kom ons toets ons
motiewe:-
· Is dit net tot ons eie voordeel?
· Is dit dalk tot nadeel van ander?
· Het hierdie saak enige ewigheidswaarde?
Hebr 11 : 1 - 31 en 39 - 40
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om
oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. 2 Dit is immers
vanweë hulle geloof dat daar oor die mense van die ou tyd met soveel
lof getuig is. 3 Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die
woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit
iets wat ons sien nie. 4 Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer
aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God
bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers
aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy
reeds dood. 5 Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy
gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem
het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het
soos God dit wou. 6 As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te
doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat
Hy dié wat Hom soek, beloon. 7 Omdat Noag geglo het, het hy God
eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie
gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te
red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom
erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. 8 Omdat
Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg
te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het
weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9 Omdat hy geglo
het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n
vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob
wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10 want hy het
uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self
die ontwerper en bouer is. 11 Omdat Abraham geglo het, het hy,
hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind
te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. 12 Die
gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon
verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die
hemelruim en so baie soos die sand van die see. 13 Terwyl hulle
steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry
wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor
gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs
vreemdelinge en bywoners is. 14 Mense wat so praat, gee daarmee
duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. 15 As hulle
terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou
hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. 16 Maar
hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom
is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het
vir hulle 'n stad gereed gemaak. 17-18 Omdat Abraham geglo het, het
hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy
wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: Uit Isak sal jou
nageslag gebore word, 19 Hy was daarvan oortuig dat God by magte is
om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so
te stel, terug ontvang het. 20 Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en
Esau geseën met die oog op die toekoms. 21 Omdat Jakob geglo het,
het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God
gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. 22 Omdat Josef geglo
het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die
Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam. 23 Omdat die
ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande
lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was
nie bang vir die bevel van die koning nie. 24 Omdat Moses geglo het,
het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word
van die farao se dogter. 25 Hy het verkies om liewer sleg behandel
te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting
van sonde te hê. 26 Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n
groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die
beloning uitgesien het. 27 Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat
sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard
soos iemand wat die onsienlike God sien. 28 Omdat hy geglo het, het
hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer
sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou
tref nie. 29 Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die
Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink
het toe hulle dit ook probeer doen het. 30 Omdat die Israeliete
geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae
daaromheen getrek het. 31 Omdat Ragab, die prostituut, geglo het,
het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam
met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.
39 - 40 En hoewel daar oor
hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle
nie verkry wat beloof is nie, 40 omdat God vir ons iets beters beoog
het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.
Kan jy sien wat met 'n klomp mense gebeur het omdat
hulle geglo het? Dit lyk my geloof werk.
Wat is ware geloof dan?
Hebr 11 : 1 "Om te glo, is
om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van
die dinge wat ons nie sien nie." Dis ware geloof.
As ek iets kan sien, het ek nie geloof nodig nie. Dan
raak geloof irrelevant.
· Ware geloof in God is om as't ware roekeloos te glo.
· Ware geloof is om waaragtig die Here se wil in 'n saak te soek, en
seker te maak dat ek reg hoor. Om te gaan toets of dit waaraan ek so
krampagtig vashou, wel God se wil is.
· Ware geloof is om myself buite hierdie prentjie te hou, en te
vertrou dat God se wil geskied. Sonder my inmenging.
· Ware geloof is om die antwoord wat God op 'n saak gee, ten volle
en onvoorwaardelik te aanvaar. Dan glo ek mos régtig in God.
· Ware geloof is om God ten volle te vertrou, al is die uitkoms
anders as wat ek gedink het.
· Ware geloof is om God te vertrou dat Hy groot goed deur my kan
doen.
· NB: Ware geloof is om die Woord van God ten volle, in sy
totaliteit te aanvaar, met alles wat daarin is. Met die belangrikste
element, die verlossings boodskap van Jesus. Sy Godheid, Sy lewe -
maagdelike geboorte, sterwe - kruisiging, opstanding, hemelvaart -
alles. En dis net moontlik deur die Heilige Gees.
Kom ons vra Hom om Sy Gees vir ons te gee sodat ons
geloof kan hê.
|