GESIGVERF


Op ons kampe vir gestremde persone word daar lekker gespeel en pret-dinge gedoen waaraan almal kan deelneem. Een van hierdie aktiwiteite is gesigverf, maar jy verf nie jou eie gesig nie, iemand anders verf jou gesig vir jou, soos wat hy/sy jou wil laat lyk. Die beste van als is, jy weet nie hoe jy lyk nie, want jy kan nie jou eie gesig sonder 'n hulpmiddel sien nie. Jy vertoon dus iets wat iemand anders vir jou aangebring het. Terwyl die persoon besig is om aan jou kunswerk te werk, weet jy nie wat besig is om met jou te gebeur nie. Terwyl ek besig was om iemand anders se gesig te verf, het sy heeltyd gesê ek moet haar net nie mismaak nie. 

Nou ja, elke oggend, reg oor die wêreld, in badkamers, slaapkamers en selfs kombuise gebeur 'n soortgelyke ding. Hoofsaaklik op die snelweg, teen enigiets tussen 20 km/h en 120 km/h in 'n klein spieëltjie, is mense besig om hulle eie prentjies in te kleur. Sommer so terwyl 'n bordjie pap ge-eet word en op die foontjie gepraat word. Multi-tasking noem hulle dit. 

Die verskil is, die dame kleur haar eie prentjie in soos wat sy dit wil hê en skep dus iets waarvan sy self hou. Die plooitjies word sorgvuldig toegeverf en die mooiste “features” word noukeurig uitgelig. Sommige voel die verfies is nie nodig nie omdat hulle reeds met die nodige bloesende wangetjies en al gebore is. 

Nou vra ek vir jou, wie besluit hoe jy “lyk” in hierdie lewe? En vir wie laat jy toe om jou te verander in iets of iemand wie jy nie is nie? Nog meer, word jy verander in iemand anders as wat die Here jou bedoel het om te wees? 

In hierdie lewe is ons gedurig besig om deur ander mense getransformeer te word, teen ons sin. Ons karakters word verander deurdat ons toelaat dat ander mense ons gesigte verf. 

Spr 18 : 1-8
Die selfsugtige mens lewe net vir homself, hy verwerp alle oorlegpleging. Die dwaas stel nie belang in insig nie, hy wil net sy eie opinie bekend maak. Waar daar goddeloosheid kom, kom daar krenkende optrede, en saam met die belediging kom die skande. Die woorde van 'n mens kan diep waters wees, 'n bruisende stroom, 'n bron van wysheid. Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige en om die onskuldige sy reg te ontsê nie. 'n Dwaas praat hom in 'n rusie in, hy soek slae met wat hy sê. 'n Dwaas se mond is sy ondergang, sy eie woorde is 'n dodelike strik. Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik.
 

Krenkende optrede en beledigings skep mense se karakters . Dis soos gesigverf. Stadig maar seker plak ons laag op laag verf op, totdat die persoon lyk soos ons hulle wil hê, en dis baie selde 'n mooi gesig wat vorm. Mense se innerlike en uiterlike word mismaak deur ons woorde en optrede. Selfs om iemand minagtend aan te kyk, hulle te ignoreer of misken af te praat na ander of neer te sien op hulle is deel van hierdie aksie. 

Die grootste slagveld is binne die huwelik en in huishoudings. Woorde kan net so erg wees as om jou hand teen iemand te lig. Lees die stukkie met die titel: “Spieëltjie spieëltjie aan die wand” vir meer hiervan. Die gedagte hier is dat die man soos 'n spieël is waarin die vrou haarself sien. Hy reflekteer iets wat sy sien as sy na hom kyk, en hoe meer hy haar met negatiwiteit en afbrekende woorde bombardeer, hoe meer word haar gesig geverf om al die mooi toe te kry. Dus, vroulief word eventueel dit wat Meneer op haar laat neerreën. En ja, natuurlik gebeur dit net soveel na die ander kant toe. Wat sê die Bybel nou weer oor 'n vrou wat kyf? Iets soos water wat drup uit 'n dak....

Hoe mooier die woorde, hoe meer blom sy, hom leliker die woorde, hoe meer verlep sy. 

Mense se woorde plak soos gesigverf aan ander vas. Veral die dolksteke verander 'n karakter onherstelbaar.

Spr 18 : 21 “Die tong het mag oor lewe en dood...”

Mooi woorde is soos grimering wat deur 'n kenner aangewend word op 'n rolprentstel, waar die beste uit die persoon gehaal word. 

Wanneer laas het manlief of vroulief gehoor hulle lyk wonderlik? Sê dit, dan lyk sy sommer baie mooier en gelukkiger. 

Wil jy graag sien wat die Here van jou dink? Luister na die volgende tekse:

Sef 3 : 17  “Die Here jou God is by jou, Hy die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in Sy liefde, Hy jubel en juig oor jou”.

Hand 17:28b “...ons stam ook van Hom af”.

Ps 139:17 “Hoe wonderlik is U gedagtes vir my, o God”.

1 Joh 3:1 “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het. Hy noem ons kinders van God en ons is dit ook”.

Hierdie is die Here se gesigverf vir jou en my. Dis hoe Hy ons sien en dis wie en wat ons is. Ongeag van wat ander mense wil opplak op ons. Daarom moet ons nie bekommerd wees oor hoe ander mense ons sien, of graag wil sien nie; moenie toelaat dat ander jou karakter negatief verf nie. Mense doen dit juis om hulle eie swakhede en ontoereikendheid te verbloem. Hulle voel soms self lelik en onbemind, en probeer dan om ander ook so te laat lyk. 'n Slegte selfbeeld maak dat mense ander wil mismaak. Natuurlik dra die duiwel kwistig by tot hierdie praktyk en is self 'n uithaler skilder van drogbeelde. 

Maar die Here sien jou nie so nie en Hy wil nie hê dat ons daardie lelike gesigverf moet glo nie. Die Here sien dit in elk geval nie raak nie, want Hy sien deur dit alles. 

Wat, en wie glo jy? Kan jy voor die spieël staan en sê: sjoe, maar ek lyk goed? Jy mag maar!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)