GESKEP NA DIE BEELD VAN GOD


Ps 139 : 1 - 6
1 Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
2 Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
3 Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
4 Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Ps 139 : 13 - 14
13 U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.
14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering.

Gen 1 : 26 - 27
26 Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.
27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

En so het die Here ons geskep. Uniek, elkeen na die beeld van God. Baie spesiaal, met 'n spesiale doel. Almal lyk dieselfde, maar tog is ons anders. Want dis wat die Here bedoel het. Vanoggend wil ek ons as mens vergelyk met 'n rekenaar. Een groot stuk masjinerie wat baie baie indrukwekkend is.

Nou, wanneer 'n rekenaar gemaak word en uit die fabriek kom, kan hy absoluut niks doen nie. Ons kan eintlik sê hy het nie sy skeppingsdoel ontdek nie, en kan niks doen nie. Iemand moet goed op hom sit. Net so word ons gebore en jou hele wese is leeg en wag om geprogrammeer te word. Kom ons sê 'n mens word gebore in 'n klein kamertjie en leef vir 20 jaar sonder enige ander mense, smake, klanke, visie, invloede, dan sal ons op 20 jarige ouderdom wees soos 'n rekenaar wat nog nooit geprogrammeer is nie. Nou die eerste ding wat op 'n rekenaar moet kom, is sy operateur stelsel. Iemand moet kies wat dit gaan wees. Daar is verskillendes. So is die mens se waardestelsel sy "operating system". Dit is wat ons as ouers in ons kinders inbou met wat hulle by ons sien, ervaar en leer. Hierdie operateur stelsel bepaal hoe al die res van die programme gaan funksioneer. En dit is wat ons uniek maak.

As ons 'n rekenaar aanskakel, wys hy vir ons op die monitor wat hy is, wat is in hom ingebou, en wat sien hy van sy binnegoed. En almal is nie dieselfde nie. Soos ons. Ons het sekere talente en gawes in ons ingebou, wat God besluit het om in jou te sit, tot Sy eer, vir Koninkrykswerk. Die binnegoed van 'n rekenaar is daar vir die gebruiker, nie vir homself nie. Net so is ons daar (en geskep) vir ons Skepper. Die rekenaar doen wat in hom ingebou is, niks meer en niks minder nie. As hy nie 'n netwerkkaart in het nie, kan hy nie netwerk nie. So doen ons wat God in ons ingebou het. Jou geslag, jou vermoëns, ens. alles tot Sy eer. 'n Rekenaar het 'n hardeskyf, oftewel geheue, om alles te stoor wat op hom gedoen word. Die inligting kom van die operateur af. Net so word tonne inligting op ons hardeskywe gestoor. Die vraag is net, waaraan stel ons onsself bloot, wat dan op die hardeskyf gaan vassit? Waarna kyk ons, waaroor praat ons, wat doen ons? Sit gemors op jou rekenaar se hardeskyf, en dit neem die plek van goeie goed.

Die Here soek 'n hardeskyf in my en jou sonder virusse. Ons besluit wat ons stoor. Stiltetyd, Bybel lees, geestelike gesprekke, is kennis wat op die hardeskyf gestoor word. Kom ons hou dit skoon.

'n Rekenaar kan 'n netwerkkaart in hê. Die doel daarvan is om met nog 'n rekenaar te kommunikeer. Net so het ons die vermoë om data uit te ruil, want God het bedoel dat ons in mekaar se hardeskywe kan inkom. Getuig, geestelike gesprekke, eredienste, maak die oordrag van inligting moontlik. Dit hang net af waaraan ons konnekteer. En dit is sigbaar deur ons monitor. 'n Rekenaar wys jou wat hy dink en doen deur sy monitor. En net so word ons binnegoed en denke weerspieël deur ons optrede. Wat sien mense as hulle na ons monitor kyk?

Gemors op ons hardeskyf wys op ons monitor. Benewens ons netwerk kaarte, het ons ook internet konneksie. Maar ons internetkonneksie met God is nie "dial-up" nie. Ons is soos 'n ADSL konneksie. Altyd gekoppel, altyd op die lug. God is net 'n gebed vêr. Ons hoef nie eers in te bel nie, die Here se modem is altyd aangeskakel en die lugtyd gratis. Ongelukkig kommunikeer ons eerder deur die netwerkkaart, as deur die modem wanneer ons hulp nodig het. Net 'n gebed, en mensig, is die konneksie vinnig! Blitsig, altyd beskikbaar. Hoekom gebruik ons dit nie?

Ons is baie, baie uniek aanmekaar gesit. Presies soos ons Skepper ons wou gehad het, om te doen wat Hy wil met ons. Dit hang af wat gaan in. Voor op die rekenaar is so 'n knoppie, wat 'n laaitjie oopmaak, dis nie vir jou koffiekoppie nie. Dis om programme te laai. Wat is op my en jou hardeskyf gelaai? Die belangrikste is ons Woordverwerker - met 'n hoofletter. As ons die Woord van God (die Bybel) op ons rekenaar laai, kan ons ongelooflik baie vermag. Dit moet die hoofprogram wees. En dan het ons 'n antivirus nodig om die Satan uit te hou, want hy wil al die inligting op jou hardeskyf vernietig. En Jesus Christus is jou antivirus. "Wees volmaak soos wat God volmaak is." Dan moet die nuutste van antivirus programme gelaai wees, met 'n goeie "fire-wall". Jy sien, Satan probeer elke dag 'n nuwe truuk, en ons moet sterk wees om dit te vermy.

So is ons soos rekenaars. Met een verskil, ons kan kies, en redeneer, opinies vorm, keuses uitoefen, want ons het intelligensie wat die Here in ons gesit het. Daarom is ons tot meer in staat as wat ons dink. Wat gebeur as iemand van kleins af verkeerd geprogrammeer is? Geen probleem nie, die Here kan 'n nuwe "operating system" installeer, en die hardeskyf formateer. Al die gemors verwyder, al die virusse. Hy sê: "Ek verwyder jou sondes so vêr soos die ooste van die weste, en was jou witter as wol." Sodat Hy jou nuut kan laai en gebruik. Dan lyk ons anders, en dink ons anders. Nuttig en goed.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)