HOEKOM EK GLO


1 Kor 1:18-25
Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.”  Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin,maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense.    

Jy het al gehoor hoe die man op straat sê ons Christene glo sommer ‘n klomp nonsens. Jy het ook gehoor hoe hoogs geleerde wetenskaplikes, en selfs teoloë dink ons is bietjie koekoes. Ek wil vandag sê hoekom ek glo, en wat ek persoonlik glo. 

Hoekom glo ek dat God alles geskep het? Wel, alles is so ongelooflik kompleks, alles is so ingewikkeld, nie net op aarde nie, maar in ons hele heelal, dat daar Iemand moet wees wat groter is as die skepping. Jy sal tog nie glo dat jou horlosie sommer vanself ontstaan het nie, of hoe? Dis te ingewikkeld. Hoe op aarde sal een sel in jou liggaam spontaan, sommer so per ongeluk, kon ontwikkel het? Een sel in jou liggaam is miljoene keer meer kompleks en ingewikkeld as al die tegnologie wat die mens tot nou toe ontwikkel het. Die ongelooflike, volmaakte orde van die skepping wys heen na ‘n Ontwerper wat vir elke enkele ding voorsiening gemaak het. As ‘n stoomtrein nie wiele het nie, omdat die ontwerper die wiele vergeet het, kan die trein nie ry nie. God het niks  vergeet nie. Daar is geen leemtes of tekorte nie. Alles is volmaak, briljant, kompleks en dit wérk. Dis hoekom ek in ‘n Skepper glo. 

Kom ek vertel jou hoekom ek in die Bybel glo as die Woord van God. Die Bybel is geskryf oor ‘n tydperk van 1400 jaar, deur meer as 40 skrywers (die meeste ken mekaar nie), geskryf op drie vastelande; dit is saamgestel in sy huidige vorm in 397 jaar na Christus – 1600 jaar gelede. Geen enkele element in die Bybel kon nog ooit verkeerd bewys word nie. Dis die boek waarvan die meeste kopieë op aarde verkoop is en wat in elke denkbare medium versprei word. In Suid-Afrika verkoop ‘n sogenaamde “goeie verkoper”-boek nie meer as 3000 kopieë nie. ‘n Bekende skrywer sal egter baie duisende boeke verkoop kry, maar van die Bybel is miljoene der miljoene al versprei. Dit is die Boek wat meer mense se lewens dramaties verander het, meer as al die boeke in die wêreld saam. Hoewel die skrywers mekaar nie geken het nie, skryf almal een sentrale boodskap, nl: God is lief vir jou en wil hê jy moet jou bekeer. Elke keer as jy ‘n teks lees, praat hy anders met jou, so asof dit nog nooit gelees is nie. Dis omdat die Woord van God lewend en kragtig is. As jy die Bybel lees praat die Here met ‘n byna hoorbare stem, so asof Hy langs jou staan. Ek glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is.  

Kom ek vertel jou hoekom ek in  Jesus glo. Omdat geskiedenis en hede wys dat Hy presies is wie die Bybel sê Hy is. 

Joh 1:1-4
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.     

Hierdie Persoon – Jesus Christus, is die Persoon wie meer mense ooit van geweet het as enige iemand anders in die geskiedenis. Hy het meer mense aangeraak as enige ander entiteit ooit op aarde. Hy het 2000 jaar gelede geleef, en so ‘n impak op mense gemaak dat dit vandag, 2000 jaar later, mense by die dag meer aanraak. Wie is Hy? Waar kom Hy vandaan? As Hy nooit bestaan het nie, hoekom sou soveel mense so agter Hom aankom? Hoe lank sou so ‘n leuen water hou? Hoekom sou soveel mense so ‘n dooie versinsel  van iemand aanbid? Ek glo voorts dat Hy uit die dood opgestaan het, anders sou mense se geloof in Hom ook gesterf het. Ek glo dit ook omdat Sy dissipels vir hulle geloof in Hom gesterf het.  Ons weet Petrus is onderstebo gekruisig, Paulus is telkens bykans doodgeslaan, Stefanus is gestenig en vandag sal baie wedergebore Christene bereid wees om te sterf vir hulle geloof.  

Ek glo in die Heilige Gees – as Persoon in die Drie-eenheid. Paulus sê in 1 Kor 2:14 – “Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees nie” Aanvaar jy dit? Wel geluk, dan HET jy die Gees van God. El glo in die Heilige Gees omdat Hy al só baie dinge aan ons geopenbaar het. Dis net die Gees wat mens energie en krag kan gee om Geestelike berge te versit. Jy het sekerlik al daardie onbeskryflike gevoel gekry as dit voel of God oor jou spoel. Of as jy iets sommer net skielik verstaan wat nooit vir jou sin gemaak het. Hand 1:8 Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.... 

Ek glo in die ewige lewe want God belowe dit. Omdat ek alles anders in die Bybel glo, is hierdie een nogal maklik om te glo. Jesus het belowe dat Hy vir ons gaan plek maak by die Vader, en daarop is my geloof gebaseer. Ons hoop is nie net op hier en nou gevestig nie, want die Heilige Gees bring daardie onwrikbare geloof en wete. 

Ja, ek kan onomwonde sê: EK GLO!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)