INTEGRITEIT

Job 2:3
Die Here vra toe vir Satan: "En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie; hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer."

Wat 'n getuigskrif. Nogal reguit van God af. Sjoe, nogal lekker om te dink dat jou Koning só oor jou voel. Die een ding wat hier uitstaan, is INTEGRITEIT. Job was voorwaar 'n man met integriteit. God sê self dat daar nie nog een soos hy is nie.

Kyk wat is vir God belangrik t.o.v. Job:

· Hy is vroom: d.w.s. sy voete was plat op die aarde, geen eie ek nie, hy was presies wat jy gesien het, niks voordoen nie.
· Hy was opreg: sy ja was sy ja en sy nee was sy nee. Hy kon ten volle vertrou word. Geen verskuilde agenda nie.
· Hy dien My: Die Here wil hê ons moet Hom dien in alles wat ons doen. Elke dag, elke oomblik, met ons hele hart, siel en verstand. Hy sê Hy is 'n jaloerse God, Hy wil heel eerste wees in ons lewe.
· Hy vermy die kwaad: Wat hoef mens meer hiervan te sê? Hy doen niks verkeerd nie. Alles is óf reg, óf verkeerd - daar is niks tussen-in nie.

Só was Job. 'n Man met ongelooflike integriteit. Rotsvas, vroom, opreg, dienend. 'n Man na God se hart.

'n Mens met integriteit staan kop en skouers bo ander uit. Jy sien, die Here is baie, baie duidelik oor wat Hy van ons verwag.

Lev 19:9-12, 19, 33-37
9 "Wanneer julle julle lande afoes, moet julle nie die wenakkers afoes nie en ook nie die are wat bly lê, agterna optel nie.
10 Julle moet ook nie die wingerde 'n tweede keer oes of die korrels wat val, optel nie. Laat dit alles bly vir die armes en die vreemdelinge. Ek is die Here julle God.
11 "Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie.
12 Julle mag nie 'n vals eed aflê in my Naam en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here.

19 "Julle moet my voorskrifte gehoorsaam. Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of 'n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie.

33 "Wanneer daar 'n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie.
34 Julle moet hom soos 'n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.
35 "Julle mag nie bedrog pleeg wanneer julle meet of weeg of inhoud bepaal nie.
36 Julle moet 'n betroubare skaal en die regte gewigte en inhoudsmate gebruik. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
37 Gehoorsaam al my voorskrifte en bepalings en leef daarvolgens. Ek is die Here."

Integriteit is om te doen wat reg is. Punt. Geen jakkalsdraaie, geen truuks, geen verneukery nie, kul niemand nie, verdraai nie die waarheid nie.

Kom ons sit vir Job in 'n paar hedendaagse beroepe, en kyk hoe sy integriteit daar sou funksioneer:

1) Job, die groente verkoper: kom ons veronderstel Job werk daar by die skaal waar die groente geweeg word.
Spr 11:1 Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie, net die regte gewigte dra sy goedkeuring weg.
.. geen gepeuter aan die skaal nie; jy kry waarvoor jy betaal.

2) Job, die werktuigkundige: hy vervang al die parte waarvoor hy faktureer, gebruik goeie olie, net oorspronklike onderdele. Hy doen nie meer werk as wat regtig nodig is nie.

3) Job, die eiendomsagent: die een wat probeer om die huis vir die regte prys te verkoop. Beste waarde vir geld. Hy jaag nie 'n uitermatige kommissie nie.

4) Job, die finansiële adviseur: hy kyk ver in die toekoms om seker te maak dat jy goed daaraan toe sal wees op jou oudag, dat jy jou geldjies só belê dat dit nie al hoe minder sal word nie!

5) Job, die prokureur: hy sorg dat waarheid seëvier, en dat die skuldige werklik uitgewys word.

So leef Job dag vir dag sy vroom, opregte lewenswyse. Dit is nie my bedoeling om suspisie te wek teen sekere beroepe nie … daar is natuurlik in alle beroepe eerlike en opregte mense, soos almal by wie ek al motors gekoop het, soos die werktuigkundige wat my onlangs R6000 gespaar het, deur eerlik te wees. En ja, die makelaar wat gesê het dat ek nou genoeg polisse het, en nie nóg een aan my probeer verkoop het nie.

Mense met integriteit het karakter, jy sien hulle op 'n afstand uitstaan. God sê vir Satan dat Hy vir Job onskuldig laat ly het, en steeds was hy 'n man van karakter. Gee ons nie soms vir God die skuld vir ons gebrek aan integriteit nie? Of vir omstandighede nie? Of dinge wat buite ons beheer "verkeerd loop"?

Integriteit is nodig in elke faset van ons lewens:

· In die huwelik, want man en vrou moet mekaar hééltemal kan vertrou, elke oomblik van die dag.
· In ons ouerskap, want die kind moet elke ding kan navolg wat ons doen, en nie net wat ons sê nie.
· In ons saketransaksies. Wat dryf ons? Is dit lekkerder om die geld te bank of is dit lekkerder om die kliënt se behoefte te bevredig?
· In vriendskap. 'n Ware vriend is selfs nader as 'n broer, sê Spreuke. Betroubaar. Sal nie oor jou skinder nie. Hy is altyd daar vir jou.
· Ons verhouding met God. Dis die moeilikste, want Hy sien alles, Hy wéét hoe opreg ons hart is. Voor mense kan ons dalk integriteit aanplak, maar nie voor God nie.
· Ag, en dan is daar nog integriteit op die sportveld, op die pad, daar waar jy inkopies doen, ens. Integriteit tel orals!

Die voordele van integriteit:

· Jy hoef nie 'n goeie geheue te hê nie, want jy hoef niks te onthou nie … jy hoef bv. nie te onthou wat jy laas gelieg het nie, want gister en vandag se stories klop honderd persent.
· Mense sal jou vertrou met groot dinge, want jy dra eers ander se belange op die hart, dan jou eie.
· Jy hoef nooit te "back paddle" nie, want geen geraamte gaan uit jou kas spring nie.
· Al maak jy 'n fout, sal mense verstaan dat jy nie volmaak en sondeloos is nie.
· Mense wil jou opinie hoor, raad by jou kry, jou as mentor gebruik.
· God sal jou vereer, soos vir Job. Die Here sal jou kan gebruik, Hy sal mense na jou toe stuur vir wie jy kan bedien, jy sal Sy verlengstuk wees, Sy hande en voete vir mense.

Hoe meet ons integriteit?

· Daar is net één reg en één verkeerd in elke situasie - 'n reguit lyn. Jou gewete is 'n belangrike en kosbare hulpmiddel om die onderskeid te kan maak.
· Vroom soos Job, is meetbaar. Jy sal nooit wonder as jy 'n vroom mense sien nie.
· Opregtheid kan in elke situasie aan die Bybel getoets word.
· Vermy die kwaad, soos Job. Iemand sonder integriteit is kort-kort in die sop!
· Laastens, leef soos Jesus. Hy is die heel, heel beste voorbeeld van integriteit. Hy het nooit gesondig nie, niemand te na gekom nie. Hy het self gesterf, onskuldig, vir ons wat só sukkel. Glo Hom, Hy is die Koning van integriteit

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)