IS U DIE EEN WAT ONS MOET VERWAG?


Die koms van die Messias is oor en oor aangekondig deur die profete. Die volk was in afwagting, en het uitgesien na Sy koms. En toe kom Hy! Maar die mense het Hom nie aanvaar en in Hom geglo nie, al het hulle Hom gesien, en al het hulle Sy wonderwerke gesien. Toe sterf Hy en staan op uit die dood - hiervan is daar letterlik honderde getuienisse. Hy maak weer 'n belofte: Hy sal weer terugkom. En nou glo mense dit al weer nie! Sjoe, hoe kan ons so dom en kortsigtig wees? Glo ons regtig dat Hy weer gaan kom? Hoekom leef ons dan so naarstigtelik vir die hier en nou? Hoekom maak ons so ywerig dinge bymekaar wat net hier gaan bly?

Die vraag is: wie verwag ons?

Matt 11:2-15
Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het, en het toe deur sy volgelinge 'n boodskap aan Hom gestuur om te vra:
"Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?"
Jesus antwoord hulle: "Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien:
Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig.
En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie."
Toe hulle weggaan, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: "Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?
Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat deftig aantrek, kry 'n mens in koninklike paleise.
Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet.
Dit is hy van wie daar geskrywe staan: 'Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.'
"Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy.
Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself 'n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.
Al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer,
en as julle dit wil aanvaar: Johannes is die Elia wat sou kom.
Wie ore het, moet luister.

'n Klassieke gedeelte in die Bybel waar een van Jesus se "king-pins" vra: "Maar is U werklik dié een? … of moet ons iemand anders verwag?" Johannes die doper, die een wat vir Jesus gedoop het, dis hy wat so twyfel. Hoekom? Dit is dan hy wat die pad vir Jesus moes gereed maak? Ek dink dit is miskien omdat hy iets of iemand anders verwag het. Miskien is dit ook hoekom die wêreld vandag dieselfde vraag vra… baie mense bly soekend, en dan is hulle bereid om te gryp na vreemde godsdienste, vreemde teorieë. Hulle gaan soek na vrede op verskillende plekke, maar nie in die Bybel nie. Mense probeer driftig om God uit die prentjie uit te haal - groot, slim wetenskaplikes en deesdae ongelukkig selfs ook hooggeplaaste teoloë. Hulle soek na God, maar kry Hom nie, want hulle soek verkeerd, en op die verkeerde plekke. "Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander verwag?". Slim manne soos Richard Dawkins, Charles Darwin, Steven Weinberg, Steven Hawkings probeer om God wetenskaplik weg te redeneer - hulle doen navorsing op die hoogste vlak, solank hulle net van God ontslae kan raak. Hulle soek na sin in die lewe, soek na oplossings, vreugde, vrede. Hulle probeer om die honger in hulle hart met IETS te stil.

"Is U die Een"?, vra Johannes, en Jesus antwoord hom op 'n baie interessante manier. Hy sê: "Gaan sê vir Johannes wat julle hoor en sien". Blindes kan sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek. Net so wil die Here seker vandag uitroep: "Mens, kan jy nie sien nie? Kyk om jou, sien My wonderwerke raak". Wetenskaplikes, kom julle nie agter dat daar 'n Skepper agter julle wetenskap sit nie? Teoloë, sien julle nie hoe mense voor julle oë verander nie? Ateïste, julle kry nêrens anders sin in die lewe nie? Daar is geen ander antwoord nie. Hoe lank wil jy nog soek? Skeptici, spreek mense se persoonlike getuienis dan glad nie tot julle nie? Christene, het julle dan geen geduld om te wag vir die wederkoms van Jesus nie? Jy lees dan in die Bybel hoeveel jare die Here se volk moes wag, kan jy dan nie verstaan dat God se tyd nie jou tyd is nie? Wil jy weet hoekom jy moet wag?

2 Pet 3:3-9
Veral moet julle weet dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die spot dryf en wie se lewe net deur hulle eie begeertes beheers word. Hulle sal spot
en sê: "En wat het nou geword van die belofte van sy wederkoms? Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af."
Hiermee vergeet hulle moedswillig dat daar lank gelede 'n hemel en 'n aarde was wat deur die woord van God uit water en deur water ontstaan het.
En dit is ook deur water dat die wêreld van daardie tyd oorstroom is en vergaan het.
Maar die hemel en die aarde van vandag is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die woord van God, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.
Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

"Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander verwag?" Ek dink daar is 'n paar tipes mense wat hierdie vraag vra t.o.v. Jesus se wederkoms:
1) Dié wat glad nie glo nie, die ateïste.
2) Dié vir wie dit nie saak maak nie, die agnostici.
3) Dié wat moedeloos gewag is, soos die gelykenis van die tien meisies, vyf met olie en vyf sonder olie.
4) Mense wat hulleself Christene noem, maar roekeloos geword het? Waarmee is JY besig terwyl jy wag?
5) Dié wat verstaan dat Jesus weer kom, dié wat die tekens raaksien, die profesieë glo, wat leef in afwagting vir die Nuwe Jerusalem. Dit is hulle wat die tekens van die tye raaksien: natuur veranderings, vals profete … Dit is hulle wat verstaan dat God wil hê dat almal hulle moet bekeer. Dis is hulle wat met hulle familie en vriende gaan praat oor Jesus. Hulle probeer om die oes so groot as moontlik te kry. Hulle is die mense wat glo soos in Heb 11:1 "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie."  Wat maak hierdie groep mense anders? Wat weet hulle dan wat sommige van die wetenskaplikes en teoloë nie weet nie? Hoekom glo hulle sonder om te sien? Die antwoord is eenvoudig: God is Gees, en as ons die Heilige Gees in ons het, kan ons sien, hoor, voel, ervaar. Dis mense wat die Gees van God het, wat die wederkoms van Jesus sien aankom. Die Heilige Gees stel eenvoudige mense, sonder geleerdheid is staat om te kan verstaan, om te kan glo.

"Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?" Wat sê JY, my vriend? Is jy bereid om te wag vir die regte en die enigste een? Of soek jy 'n ander?
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)