JESUS KOM WEER!


Ons praat gereeld hier oor bekering, en ek dink ons as Christene kan nooit sê dat ons nie geweet het nie hoe die weg na Saligheid lyk nie. Elkeen van ons weet dat ons 'n keuse het, ons bepaal self ons eindbestemming. 'n Eindbestemming met, of sonder Jesus!

Maar, dis so half asof ons net aan hierdie een scenario aandag gee. Word gered, sterf (hoe ook al - ouderdom, ongeluk, siekte) en is dan in die hemel. Die probleem is, dis asof ons konstant vir onsself sê dat ons maar bietjie kan uitstel met ons keuse, en selfs die kans vat om te sê dat ons redding op no 99 geldig is.

Matt 20 : 1 - 16 " Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. 2 Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3 Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4 en hy sê vir hulle: "Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal." 5 Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6 Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: "Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?" 7 Hulle antwoord hom: "Omdat niemand ons gehuur het nie." "Gaan werk julle ook in my wingerd," sê hy toe vir hulle. 8 Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: "Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes." 9 Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10 Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11 Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12 en sê: "Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son." 13 Maar hy antwoord een van hulle: "Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14 Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15 Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?" 16 So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste."

En dis natuurlik waar! Maar daar is ook nog 'n scenario.

Goed, ons kom tot redding, op no 99 en alles is wel. Maar, hoe gereeld dink ons aan die wederkoms van Jesus? Is daar in jou hart 'n verwagting dat Jesus regtig, regtig weer op die wolke sal verskyn? Glo jy dat jy eendag net dalk sal opkyk en 'n liggaam sien neerdaal uit die hemel uit? Of is dit dalk so ietsie van 'n geestelike "fairy tale"? Jy sien, al hierdie Bybelse waarhede is geweldig aan aanvalle onderwerp in die tye waarin ons vandag leef. Selfs deur mense wat hulleself teoloë noem, en ander laat struikel met hulle mensgemaakte leerstellings. Ek wil eintlik sê "Halleluja", want hierdie mense bewys die Bybel absoluut waar. In die laaste dae sal daar vals profete kom en die mense leer net wat hulle wil hoor! Maar nou ja, ek kies om vir Jesus te glo. Hy wat nog nooit ooit verkeerd bewys kon word nie! Op geen enkele gebied nie! En Hy kom met hierdie volgende belofte: EK KOM WEER!

Openbaring 22 : 6 - 21 " Toe sê die engel vir my: Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur. 7 Jesus sê toe: Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem. 8 Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid. 9 Pas op, moenie! sê hy toe vir my. Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God! 10 Verder sê hy vir my: Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. 11 Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly. 12 Jesus sê toe weer: Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13 Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 14 Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. 15 Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen. 16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester. 17 Die Gees en die bruid sê: Kom! En elkeen wat dit hoor, moet sê: Kom! En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! 18 Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; 19 en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is. 20 Hy wat dit alles getuig, sê: Ja, Ek kom gou! Amen! Kom, Here Jesus! 21 Die genade van die Here Jesus sal by almal wees."

Die vraag is of ons dit glo, en in 'n verwagting lewe van Jesus se wederkoms. Jy sien, vir baie mense is die gedagte hieraan skrikwekkend! Want dan kom God regverdig oordeel. En ons sit dikwels en somme maak om te bepaal of hierdie vir ons 'n goeie of slegte oefening sal wees. Satan help natuurlik kwistig met hierdie twyfel en vrees. Hy herinner jou konstant dat jy nog nie reg is nie, en eintlik maar kan opgee. Hy kla aan, herinner, krap ou koeie uit die sloot, en oortuig ons van 'n verlore saak. Maar, ou sekelstert ken nie die Bybel nie!

Rom 8 : 1
"Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!"

Punt. Daarom, as ons gered is, kan ons met verwagting en sonder vrees uitsien na Jesus se wederkoms!

Openb 22 : 12 "Kyk, Ek kom gou!! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het"

Jitte, is dit iets om voor bang te wees vir kinders van die Here? NEE! Maar boeta, as ons saak nie reg is nie, is dit groot moeilikheid.

Is daar dalk iemand naby aan jou wat nog nie sy/haar hart vir die Here gegee het nie? Wil jy so iemand agter laat? Is ons nie dalk so bietjie geestelik selfsugtig nie?

Nee, die wederkoms van Christus moet vir elkeen van ons iets groots en wonderlik wees! Vraag is, glo ons dit? In die Ou Testament is honderde profesieë van Jesus. Almal het waar gekom. Maar, daar is baie baie profesieë wat praat van Jesus se wederkoms! Sal dit dan 'n leuen wees? Nee.

Wat sal gebeur as Jesus nie weer kom nie?

· Hy sal as 'n leuenaar voorgehou word.
· Die wêreld sal net verder en verder agteruitgaan a.g.v. global warming, misdaad, ens.
· Die vals profete sal floreer.
· Al ons geestelike pogings sou verniet wees.
· Ons sou 'n diep teleurstelling beleef in Jesus van Nasaret. Ons sou Hom trouens dan ook so noem, i.p.v. Jesus die Christus, die Verlosser.
· Satan sal seëvier en die bose sal oorwin.
· Al ons hoop sou vervaag.

Wat gaan gebeur wanneer Hy weer kom?

· Al die trane sal afgevee word.
· Ons gaan in heerlikheid saam met Hom regeer.
· Alles wat sleg is, sal tot niet wees.
· Ons gaan ons hemelse woning bewoon.
· Ons gaan saam met die engele lofprys.
· Ons sal verlos wees van alle vorme van kwaad, van misdaad, armoede, sondes, pyn, hartseer. Alles wat sleg is.
· Ons gaan volmaakte wesens wees in ons verheerlikte liggame.
· Ons gaan vir God sien.
· Ons gaan vir ewig en ewig en ewig saam met God leef in die hoogste hemele. En heeldag sing!
· Ons sal nooit weer deur Satan versoek word en verpes word nie!!
· WOW, totale oorwinning en oorwinnaars.

Kyk netnou bietjie op in die lug, en begin om 'n verwagting te kry dat Jesus weer sal kom. Wie weet! Dalk vandag? Wees gereed, Hy kom!

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)