Joh
8 : 1 - 11 ...maar Jesus het na die
Olyfberg toe gegaan. 2 Die volgende môre vroeg was Hy weer in die
tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en
hulle geleer. 3 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe 'n
vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die
kring mense staan. 4 Hulle het vir Hom gesê: Meneer, hierdie vrou is
op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. 5 Moses het ons
in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u? 6
Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry
waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger
op die grond geskrywe. 7 Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy
regop gekom en vir hulle gesê: Laat die een van julle wat 'n skoon
gewete het, eerste 'n klip op haar gooi. 8 Daarna het Hy weer gebuk
en op die grond geskrywe. 9 Toe hulle hoor wat Hy sê, het hulle een
vir een begin wegloop, die familiehoofde eerste. Jesus is alleen
agtergelaat saam met die vrou daar in die middel van die kring mense.
10 Toe het Hy regop gekom en vir haar gevra: Mevrou, waar is hulle?
Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie? 11 Niemand
nie, Here, sê sy. Toe sê Jesus: Ek doen dit ook nie. Gaan maar en
moet van nou af nie meer sonde doen nie.
Wat het Jesus in die sand geskryf? Niemand sal regtig
kan sê nie, want die Bybel sê nie. Hierdie insident is ook nie in
enige van die ander drie evangelies opgeskryf nie. Hierdie gedeelte
bevat 'n ongelooflike klomp gedagtes wat vandag vir jou en my van
toepassing is. Die grootste ding wat ek egter raaksien, is dat dit
vir die skrifgeleerdes en Fariseërs nie gegaan het om die
voltrekking van die vonnis nie. Dan kon hulle mos net eenvoudig die
vrou gaan doodgooi het met klippe. Hulle het definitief nie Jesus se
toestemming nodig gehad nie. Nee, hulle wou vir Jesus in 'n hoek
dryf, en kyk hoe Hy Hom self daar gaan uitkry. Jy sien, dis mos wat
met ons ook gebeur, dag vir dag. Jy sê jy staan vir 'n saak, tot jy
in 'n hoek gedryf word. Maar Jesus was eintlik in 'n dilemma, want
daar was nie 'n manier dat Hy teen die wet van Moses kon gaan nie,
want dis wat die Fariseërs wou hê. Dan kon hulle Hom aankla. Onthou
net, hierdie insident is voor Sy kruisiging, en die volheid van dit
wat Hy kom doen het was nog nie bekend nie. Maar hulle kom probeer
Hom op 'n baie sensitiewe saak toets. Toe gaan sak Hy op Sy hurke en
begin skryf in die sand. Wat het Hy geskryf?
Daar is seker 'n klomp dinge wat Jesus kon skryf. Kom
ons bespiegel daaroor. Hy kon skryf: "Jy is 100% skuldig en verdien
die dood". Dit sou in alle opsigte korrek gewees het, want Jesus het
nie teen die wet, of die reëls van die regering van die dag gegaan
nie. Sy was skuldig, want sy het haarself nie probeer verdedig nie.
Dit sou die Fariseërs waarskynlik heeltemal tevrede stel en hulle
sou haar stenig. Dit sou vir Jesus natuurlik ook uit hierdie dilemma
gehaal het, want dan het Hy nie nodig gehad om enigiets te verdedig
nie. Sjoe, as ek nou vandag hierdie gedeelte sou lees, en Jesus hét
dit gesê, sou ek nou in vrees en bewing geleef het.
Kom ons sê Hy het geskryf: "Wie is julle om te
praat?" Wat dan? Wel, in essensie is dit wat toe wel gebeur het. Dan
sou hulle ook net omgedraai het en weggeloop het. Die punt is net,
dit sou daarop neerkom dat ons net kan doen wat ons wil. As ek in
die water spring, gaan jy agterna spring. Jesus wou 'n baie sterker
boodskap as dit oorbring. Die Fariseërs het nie gehoor dat Jesus
agterna vir haar beveel het om nie weer te sondig nie. Wat Jesus vir
hulle probeer sê het was, sonde is tussen haar en Hom, en het niks
met hulle te doen nie. Want die sonde en die daad is eintlik van
mekaar geskei. Die daad kon gestraf word - met steniging - maar die
sonde is vergewe. Net so word ons ook vir dade gestraf, maar die
sonde word vergewe.
Wat kon Jesus nog skryf? "Moenie bekommerd wees nie,
ek gaan jou nou vergewe". Dit sou vir haar werk, want Hy het haar in
elk geval vergewe. Dit sou egter vergifnis goedkoop gemaak het. Iets
tot die effek van "alles is maar okay". Sonder 'n lewensles, sonder
die ander kant van die saak. Jy sien, Jesus se boodskap in die Bybel
is baie vêr van dit af. "Alles is maar okay". Nee, hierdie gedeelte
eindig met 'n baie belangrike woord. "Gaan maar en moet van nou af
nie meer sonde doen nie". Vergifnis vra 'n skoon lewe.
Dalk kon Jesus skryf: "Niemand kan in elk geval
sondeloos leef nie". Dit sou ook al die partye bevredig het. En dit
sou natuurlik ook heeltemal waar wees. Maar dan was Jesus se
kruisdood later onnodig, want dan het ons nie genade nodig gehad nie.
Want God se genade onderskei Sy kinders van die res. Ja, ons kan nie
sondeloos leef nie, maar net in die oë van die wêreld. Jesus se
kruisdood het juis ons onvolmaaktheid kom vervang met absolute
volmaaktheid in God se oë. Daarom staan daar geskrywe: "Wees julle
volmaak soos julle Hemelse Vader volmaak is". Matt 5 : 48.
Daarom kan ons nie net hande in die lug gooi en sê: "Ek
is maar so gemaak en so laat staan nie". Ja, ons weet nie wat Jesus
geskryf het nie, maar ons kan baie leer uit hierdie gedeelte en ons
kan so bietjie beeldspraak uit hierdie gedeelte haal.
Jesus skryf oor ons oortredinge ook in sand. As dit
op rots uitgekerf word, sal dit altyd daar bly. In sand waai dit
toe, en water was dit weg. Miskien het Jesus haar sonde neergeskryf,
om dit weer te kan wegvee. Want dís vryspraak. Ons is onvolmaak, en
ons maak foute, en Jesus wéét daarvan, van elke enkele oortreding,
maar Hy vee die sand weer gelyk. Die een kwaliteit wat los sand niè
het nie, is om 'n vorm vir ewig te behou. Die wind en water maak dit
weer skoon. En so werk dit met vergifnis. Jesus kom vee dit elke
keer weer skoon. Wat doen die duiwel? Hy kom - soos die Fariseërs -
en hy kom beskuldig ons by Jesus. En wat doen Jesus? Hy maak nie
asof niks gebeur het nie. As dit in die sand geskryf word, vee Hy
dit weer skoon. Die Wet was op kliptafels geskryf, en dis reg so,
want die wet is goed. Dit gee ons riglyne wat nét goed is, maar ons
oortredinge word op sand geskryf, as ons Jesus se vryspraak aanvaar.
En daarom kan ons name verewig word in die boek van die lewe. Ons
saligheid.
Nou bly net een vraag oor. Waarop skryf ek my broer
se oortredinge teen my neer? Op 'n klipplaat uitgegrafeer? Of op
sand, sodat ek dit kan uitvee. 70x7x7x7x7. Hoe moeilik is dit vir
ons om op sand te skryf, terwyl ons wil hê Jesus moet dit doen?
Hierdie gedeelte eindig met "Het nie een van hulle
die oordeel oor jou voltrek nie?" "Niemand nie Here" sê sy. Toe sê
Jesus, "Ek doen dit ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer
sonde doen nie".
As ons terugkyk op ons eie lewenspad, sal ons
skoongevryfde, gladde sand sien. En niks op klip uitgekrap nie. Dis
Jesus se genade.
|