JONA


Jona – ‘n koddige man, en ‘n vreemde boek in die Bybel. Ook ‘n storie wat nogal moeilik is om te glo. Kan jy dit glo – ‘n vis sluk hom in en red sy lewe? Dit was nadat hy op pad Ninevé toe koue voete kry en na Tarsis toe uitwyk. En dan gaan waarsku hy die mense oor God se oordeel, God besluit om die stad te spaar, en Jona vererg hom vir die Here. Dit klink vir my nogal na ‘n sepie! Glo jy dit alles? Wel, ek glo dit verseker! Elke stukkie, ook dié deel oor die vis. Die boek Jona verdien meer as die 30 minute wat ek hier daaraan kan spandeer, want hier is net ongelooflik baie lewenslesse in vasgevang. Dit is ‘n kort boek, gepak met waarhede. Ek glo die boek is waar, maar selfs al sien mens dit net as ‘n gelykenis, is dit nog steeds baie kosbaar. 

Jona 1:1-4, 9-12, 17 & Jona 2:1-10
Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom: "Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is."      

Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy 'n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. Maar die Here het 'n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was 'n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.  

Jona het hulle geantwoord: "Ek is 'n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het." Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: "Wat het jy nou aangevang?" Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel. Toe vra hulle hom: "Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?" Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. Jona het hulle geantwoord: "Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed."  

Toe stuur die Here 'n groot vis om vir Jona in te sluk, en hy was drie dae en nagte in die vis se maag 

Toe bid Jona daar binne-in die vis tot die Here sy God. Jona het gesê: "In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor. Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor. U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. Dié wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon. Terwyl ek 'n loflied sing, wil ek aan U 'n offer bring; wat ek beloof het, sal ek doen. Hulp kom net van die Here af." Toe beveel die Here die vis, en hy het vir Jona op die vasteland uitgespoeg. 

Lewensles 1: Die Here stuur vir Jona Ninevé toe, maar hy wil Tarsis toe. Ons maak ook so. Ons bid vir lank dat die Here vir ons moet deure oopmaak om te bedien, om deur Hom gebruik te word – dan maak Hy die deur oop, en ons soek eintlik ‘n ander deur wat makliker lyk, miskien meer “glamorous”, iets wat minder van my vra, iets wat beter by my pas, ens. Ons sê maklik: “Here, hier is ek, gebruik my” .... maar net nie in my eie familie nie, ook nie by die werk nie, ook nie by die plakkerskamp nie. Die punt is: Die Here wou Ninevé red, nie Tarsis nie. Die Here weet waar Hy ons wil gebruik, ongeag van waar ons graag WIL werk. 

Lewensles 2: Jona se ongehoorsaamheid laat hom en baie saam met hom, in ‘n storm beland. Ons maak ook so. Soms laat die Here ons toe om van Hom af weg te vlug, dan land ons in woeste storms. En soms, Soos Jona, sleep ons ander saam die storms in . Onskuldiges. Jona besef dat hy drooggemaak het, en kies selfmoord, eerder as om terug te draai na God toe. Ons maak ook so, draai eerder ons rug op die lewe, as om terug te kom na God toe. 

Lewensles 3: Die Here laat toe dat hulle vir Jona in die see gooi, en daar sink hy. Hy kies steeds eerder die dood. Onbegryplik! Maar, dan stuur die Here ‘n “submarine” om hom te gaan uithaal. ‘n Vis. Jy sien, maak nie saak hoeveel ons droogmaak nie, en hoeveel ons dit oor onsself bring nie, die Here se liefde hou nie op nie. Hy sal steeds tot die uiterste toe gaan om ons te red. Al gebruik Hy die mees ekstreme maniere denkbaar. Toe sluk die vis vir Jona in! Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel. (Jona 2:6-7) ... en hy bid. Dalk het hy gedink hy is nou op sy  einde. Maar, hy prys die Here. Kan ek en jy dit doen? Prys jy die Here? Prys jy die Here selfs aan gaan dit sleg met jou? 

Lewensles 4: Die Here gee weer vir Jona sy opdrag: maak klaar en gaan, Ek sal vir jou die boodskap gee. Jona gaan, en hy verkondig die boodskap, hierdie keer soos die Here wil. Ons moet oppas dat ons nie ‘n verdraaide boodskap verkondig nie, of ‘n afgewaterde boodskap, of bylas by die boodskap nie. Dis moeilik om presies te weet wat ons moet verkondig. Partykeer lyk die taak wat die Here ons gee massief, maar Hy vra dat ons net moet verkondig wat Hy sê ons moet. Jona se woorde was eenvoudig: “nog net 40 dae en Ninevé word verwoes”. Een sin. Hy hoef niks verder te verduidelik nie. Jy kan miskien dink dat God sekerlik self die mense kon waarsku, maar Hy wou Jona daarvoor gebruik. 

Lewensles 5: Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie. (Jona 3:10) Die Here kan sy planne verander as Hy wil. Hy is soewerein, Hy kan doen wat Hy wil, Hy is almagtig. Hy kan alles vanself laat gebeur, maar gebruik nogtans soms ‘n kiepie soos Jona, of soos ek en jy. Hy maak soos Hy goed weet, en sal mense red as ek en jy ons werk doen. Gaan vertel net, die Here red. 

Lewensles 6: Hieroor was Jona baie ontevrede en hy het baie kwaad geword. (Jona 4:1) Toe is hy kwaad. Soos ons ook soms as die Here vir mense ‘n kans gee, en ons dink hulle verdien dit nie.  Die Here is lief vir jou, en my, en vir Sodom en Gomorra en vir Ninevé en vir Sunnyside, Mamelodi, Hillbrow, ens. Hy wil sy kinders red, of ons daarvan hou of nie. Verkondig net sy woord – dis al.

Lewensles 7: "Laat ek nou maar sterf, Here, want dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."  Toe vra die Here vir hom: "Het jy rede om kwaad te word?" Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad gaan sit en vir hom 'n skerm gebou. Hy het daaronder in die skaduwee gaan sit om te sien wat in die stad gebeur. Toe laat die Here God 'n komkommerplant opkom, en dit het bo-oor Jona gerank om skaduwee te gee vir sy kop en om hom van sy misnoeë te bevry. Jona was baie bly oor die komkommerplant. Die volgende môre met dagbreek laat God toe 'n wurm kom, en dit het aan die komkommerplant gevreet, sodat dit verdroog het.

Toe die son opkom, het God 'n skroeiende sterk wind uit die ooste laat waai. Die son het vir Jona op sy kop gesteek, en hy het baie swak geword en gewens om maar liewer te sterf. Hy het gesê: "Dit is vir my beter om te sterf as om te lewe."

Toe vra God vir Jona: "Het jy rede om kwaad te word oor die komkommerplant?" en Jona antwoord: "Ek het rede genoeg: ek is besig om te sterf!" Die Here het vir Jona gesê: "Jy is besorg oor die komkommerplant waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie versorg het nie. Dit het oornag opgekom en oornag is dit dood. 

Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot stad Nineve nie, 'n stad waarin daar meer as honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?" (Jona 4:3-11)

In sy misnoeë gaan sit Jona onder sy skerm. God stuur in ‘n oogwink ‘n komkommerplant om hom te bedek. (Kom ons stop geou hier ... net so kan die Here in ‘n oogwink vir ons uitkoms gee, om ons van ons misnoeë te verlos) En toe vat God die komkommerplant weer weg, in ‘n oogwink. En Jona is so kwaad oor die komkommerplant dat hy vergeet dat God ‘n hele stad gered het. Selfsug, eie belang, eie agenda, sien nie God se prentjie nie, worry nie oor siele nie – is dit miskien ek of jy? 

Sewe lesse uit die verhaal oor die koddige ou, Jona. Kom ons pas bietjie daarvan toe in ons lewens vandag.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)