KEUSES - 22 April 2009


Vandag is Stemdag. ‘n Geskiedkundige dag, of liewer, nóg ‘n geskiedkundige dag. Hier is ons nou: 15 jaar na die begin van die sogenaamde “demokrasie”. Demokrasie wat beteken dat almal kan help kies. Almal kies, maar die meerderheid wen. Natuurlik sou ons wou hê dat ons elkeen se keuse die wen-keuse moes wees, maar dit werk ongelukkig nie so nie. Dus, wat oorbly is om te kies of ons gaan help kies.  

Keuses, keuses … moeilike ding. Dit maak dat mens ‘n besluit moet neem, en dan met die gevolge moet leef. Onthou jy die referendum, jare gelede? Ek is seker hierdie gedagte maak sekere emosies in jou wakker… by party woede, ander teleurstelling, ander ontnugtering; sommige kan dalk voel dat daar verbreekte beloftes is, terwyl ander kan voel dat die situasie wel sy gang gegaan het soos wat dit bedoel was. Maar, hier is ons nou in 2009, en ons moet leef met die gevolg van die keuse wat toe gemaak is. Nou kan ons wéér kies. Sommige sê: “why bother” en bly weg. Ander het ‘n strategie, bv. “Kom ons sorg vir ‘n sterk opposisie”, en dan is daar báie wat nogal heel opgewonde is oor wat gebeur en om hulle stem uit te bring. 

Hos 8:1-4
Maak alarm! Daar draai 'n roofvoël oor my huis! sê die Here. Israel het my verbond verbreek en hulle teen my wil verset.
Hulle roep na My om hulp: "Ons is aan U toegewy, ons God! Ons is Israel."
Maar Israel het die goeie verwerp, daarom sal die vyand hom agtervolg.
Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. 

Sommige voel dat hierdie teks ons huidige situasie mooi beskryf. Ek voel weer dat hierdie teks waar kan word as ons nie almal help kies nie. Staan ons net terug, dan help ons eintlik dat “konings” aangestel word sonder die Here se goedkeuring. 

Keuses, keuses. Wat sal maak dat môre anders is as gister? Wat se invloed het vandag se keuse op môre? Jy sien, toe jy klein was, kon jy niks kies nie. As baba het ons die nodige instinkte gekry om te oorleef – jy kon suig, sluk, beweeg, asemhaal, ens – sonder keuse! Toe kom die fase waar jy probeer kies, maar jy mag nie. Bv. jy wou op die wasbak klouter, jy wou die potplantgrond uitkrap, jy wou nét sjokolade eet, ens., maar jy mag nie, want Ma se nee was haar nee. Toe kom die volgende fase waar jy kies, en Ma kom tweede; Pa en Ma se gesag word ondermyn, jou keuse kom eerste. As Ma jou nou toelaat om bv soos ‘n “hooligan” ‘n tantrum te gooi in die winkel, om op 120km/h regop op die voorste sitplek van die motor te staan, besef sy nie dat jy nog nie die verantwoordelikhede van jou keuses kan neem nie. Eventueel word jy darem toegelaat om meer en meer keuses te maak, en word jy geleer dat jy verantwoordelikheid moet neem vir jou keuses en die gevolge moet dra in die geval van verkeerde, slegte keuses. 

Spreuke 4:10-20
Luister, my seun, en aanvaar wat ek jou sê; dit sal jou lewensjare baie maak.
Ek sal jou leer wat die pad van die wysheid is en jou die regte koers laat loop.
As jy loop, sal daar niks in jou pad wees nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie.
Hou vas aan wat ek jou leer, moet dit nie laat los nie; bly daarby, want dit is jou lewe.
Moenie agter die goddeloses aanloop nie, vermy die pad van slegte mense.
Los dit, moenie daarop loop nie, draai weg, vermy die slegte mense;
hulle kan nie slaap as hulle nie kwaad gedoen het nie; hulle lê wakker as hulle nie iemand se ondergang bewerk het nie.
Misdaad is hulle kos, geweld hulle drank.
Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is;
die pad van die goddeloses is soos die donker: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie.
My seun, hoor wat ek vir jou sê, luister goed na my woorde! 

Mooi, né? So word ‘n kind geleer om te kies. Doen dit, moenie dat doen nie, moet, moenie …moet, moenie. En dan, hoe ouer ons word, hoe meer gewigtig word die keuses. Die slim mense sê jy neem die twee grootste besluite van jou lewe op ‘n tyd dat jy die minste reg is daarvoor, nl. jou beroep en jou huweliksmaat. Besluite met verreikende gevolge. Dan, soos tyd loop, moet mens meer en meer keuses maak om hierdie aanvanklike keuses in stand te hou. Nou moet jy kies om jou beroep te geniet, jou werk met oorgawe te doen. Jy moet kies om getrou te wees aan jou vrou, om haar lief te hê en te versorg. 

Ons staan elke dag voor keuses, en party daarvan is nogal gewigtige goed. Dit het laaang gevolge. Vêrreikend. Soms gaan dit gepaard met ‘n geween en ‘n gekners van tande. Soos bv. ons keuse oor ons saligheid. Want, net soos met hierdie verkiesingsdag is geen keuse soms ‘n enorme keuse! Kies nie vir die Here nie, dan kies jy outomaties die hel. Kies om nié te stem téén ‘n bepaalde party nie, stem jy tog eintlik vir hulle. Geen keuse is soms ‘n baie slegte keuse.  Dit ontneem jou van deelname, van ‘n opinie, van invloed. Dit los jou presies waar jy is. So is dit met ons saligheid. Om die ewige lewe te mis, hoef jy niks te doen nie, en niks te kies nie.

Ons moet elke dag kies en dan moet ons elke dag besluit of ons die verantwoordelikheid van ons keuses sal vat. Keuses lei ons altyd in ‘n bepaalde rigting. Waar jy vandag woon, kan heel waarskynlik na een enkele keuse in jou verlede terug herlei word. Net so met jou beroepskeuse, jou huidige werk, jou huweliksmaat, jou geestelike status.  Dalk kry jy op hierdie stadium geweldig swaar oor één enkele verkeerde keuse. Dalk verwyt jy jouself oor ‘n dom keuse. Wel, dan moet jy nou maar vandag kies om jouself te vergewe, of om iemand anders te vergewe. 

Kies, kies, kies. Weet jy hoe ongelooflik positief jy jou toekoms kan verander deur vandag ‘n goeie keuse te maak? Dalk gevolge wat tot in die hiernamaals strek – vergewe iemand, kies die Here, kies vrede, kies ‘n beter gesindheid teenoor jou werkgewer, kollega, skoonma, ens. Partykeer kies ons nie, omdat ander mense ook nie kies nie. Partykeer kan ons korporatief ‘n groot invloed uitoefen, hoewel ons dalk kan dink dat ons as individu geen impak kan maak nie. Eendracht maakt macht! – onthou jy nog? Jy sien, die Here werk deur jou en my, as ons net bereid is om deel te wees en deel te neem aan Sy plan en doel. 

Gebrek aan keuse het sekerlik ‘n rol te speel in toekomstige probleme. Gebrek aan keuse kan die werk van die Here in die wiele ry. Ons dink soms ons sal net deelneem aan die wedloop as ons definitief gaan wen of ten minste ‘n goeie toekoms het. Maar … wat van bv. die Comrades – daar is nie 1 wenner en 80000 verloorders nie. Almal wat deelneem wen. Jy moet net klaarmaak. 

Wat gaan jy vandag doen? Deelneem en jou stem uitbring? ‘n Besluit maak? Of kies jy om nie te kies nie? ….. dis jóú keuse!

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)