KYK POSITIEF NA DIE WÊRELD OM ONS


Wat gaan aan met ons ou wêreld? Al wat ons hoor is moord en doodslag, korrupsie, slegte dinge. Dit is eintlik niks nuuts nie. Wat is was reeds voorheen gewees. In Klaagliedere 5 sien ons net so 'n negatiewe deel van die lewe wat duisende jare terug afgespeel het. Ek lees iets wat sterk daarby aansluit.

2 Tim 3 : 1 - 9
1 Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom.
2 Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig;
3 hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;
4 hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God.
5 Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.
6 Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag,
7 vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.
8 Net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het, so verset hierdie mense hulle teen die waarheid, mense wat in die verstand verward is en in die geloof 'n mislukking.
9 Maar hulle sal nie ver kom nie, omdat hulle dwaasheid vir almal duidelik sal wees, net soos dit die geval was met Jannes en Jambres.

Klink bekend, nè? Slegte ou wêreld. Nou ja, hierdie dinge oorheers maar daagliks ons gesprekke en eintlik neem dit maar ons hoop weg, en ons sien nie regtig kans vir die volgende klomp jare wat voorlê nie. Dan hoor ek ook soggens met die inbelprogram dat mense oor die algemeen maar negatief voel oor die wêreld om ons. In 2 Tim 3 lees ons dat ons dit te wagte moet wees in die laaste dae. Die tekens van die tye wat op baie plekke in die Bybel beskryf word. Die vraag is net, wat maak ons met hierdie inligting. As ons dit dan nou reg kan voorspel, dan moet ons maar net terugsit vir die laaste oordeel. Die feit van die saak is egter dat Klaagliedere 5 wys dat dit al lankal so sleg was. Dink maar aan Sodom en Gomorra. Dit lyk vir my ons moet ons hoop op iets anders sit.

Die laaste dae sal sleg wees. Ps 12 : 1 "Help tog, Here, want daar is geen vrome meer nie, daar is geen betroubare mens meer oor nie. Die mense bedrieg mekaar, hulle mislei mekaar met vleitaal."

Inderdaad. Dit klink of die skrywer (Dawid) die afgelope paar weke nuus gekyk het. Nou ja, hoekom ken ons soveel slegte verhale wat om ons gebeur en hoor ons so min van goeie goed wat gebeur? Wat maak dat die wêreld (wie dit ook al mag wees), ons so bombardeer met negatiewe inligting? Wel, ek dink die antwoord is redelik voor die hand liggend. Dis omdat die mens so behep is met negatiewe sensasie. Hoe gereeld sien jy stories met goeie uiteindes op die TV? Wanneer word ons aan die goeie sy van die lewe blootgestel, en hoekom sien ons niks goeds nie? Eenvoudig, sensasie gaan so maklik af, en so lekker, en dit maak so 'n goeie skinderstorie. Gou 'n moedswillige vraag: Het jy al ooit gehuil oor iets baie sleg of negatief wat jy op die nuus gesien het, of oor die radio gehoor het? Nie maklik nie. Ons word so gebombardeer met hierdie dinge, dat ons bitter min besef dat dit ware verhale is, dat mense seerkry, en dit word maar net nog 'n stukkie "useless information". Maar, dit is niks nuut nie.

Die probleem is, goeie nuus haal net eenvoudig nie sommer die voorblad nie. Goeie nuus wek nie sensasie nie en maak selde 'n goeie storie uit. Dit bind nie mense vas voor die TV nie, daar is sekerlik nie plek daarvoor op die TV, of in die koerant nie. 'n Skinderstorie gaan so lekker af.

Habakuk 3 : 17 - 19
17 Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees,
18 nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.
19 Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. 

Hier is 'n beter kant. Die feit dat ons nie goeie nuus sien nie, beteken nie dat dit nie gebeur nie. Daar is soveel positiewe dinge wat gebeur, maar niemand berig daaroor nie. Kom ek vertel vir jou goeie goed. Die naweek het ons mannekamp gehou en 'n klomp manne het dramatiese veranderinge ondergaan en groot besluite geneem. 'n Hele paar gaan ook nie meer hel toe as hulle nou sou sterf nie. 'n Vriend het wonderbaarlik herstel na 'n groot operasie, dis niks anders as 'n wonderwerk nie, selfs die dokters is absoluut verstom. En weet jy, daar is in die afgelope jaar duisende gevalle wêreldwyd van huwelike wat op die rotse was wat wonderbaarlik herstel het. En ja, elke Sondagaand sit daar in die jeugdiens by die kerk ongeveer 2000 kinders (jeug) in die erediens. Daar vind daagliks miljoene eerlike transaksies plaas, mense behandel mekaar so dikwels met respek en doen dinge vir mekaar. Dis ook nie vreemd om te hoor dat mense mekaar in nood bystaan as hulle hulle werk verloor het nie. Weet jy hoeveel Bybelstudiegroepe ontstaan daagliks oor die wêreld? Daar is jaarliks 'n gebedsdag op sportstadions oor die hele wêreld, en mense pak dit vol om te bid vir ons land. En glo dit of nie, maar mense kry daagliks werk wat lank gesukkel het. Hierdie een gaan jy moeilik glo. Daar is selfs taxis wat vir mens kans gee om eerste te ry. Genuine!! Dit het gister met my gebeur. En ja, daar is mense in die gevangenis wat werklik verander en as nuwe mense uitkom. Daar is pragtige jongmense wat hulle weerhou van voorhuwelikse seks en kies teen dwelms. Daar is Anton Ruperts wat so goed was vir so baie mense, en daar is mense wat verstaan hoe dit voel om ander te seën. Sien jy dit raak?

'n Negatiewe lewensuitkyk vermoor jou siel. Dit maak dat ons net reageer op slegte goed, en verblind raak vir goeie nuus. Miskien weet jy dit nie, maar daar is besig om 'n geestelike herlewing uit te breek. Gaan kerk toe, gaan luister wat sê mense wat besig is met sendingwerk. Stel jouself bloot aan positiewe materiaal, en sit soms die nuus af. Probeer onderskeid tref tussen goeie en slegte beriggewing, en vermy gemors in die media. Soos by die nuwe koerantjie wat een keer in die week uitkom, wat so swak is. Regte egte gemors, behoort eintlik op toiletpapier gedruk te word. Maar mense slurp dit op. Ek lees vreeslik graag motiverings boeke, en luister graag na die getuienis van mense.

En laastens, as jy rondom jou kyk, sal jy die Here aan die werk sien. Op meer plekke as wat jy in jou grootste drome kan glo. Kom ons kies waaraan ons onsself blootstel, en leef in hoop. Ek lees die volgende stelling:

"Die Here soek mense wie se harte brand van Sy liefde, om 'n kersie van geloof en hoop in ander se harte aan die brand te steek." Gaan dit dalk jy wees vandag?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)