LEER JOU KINDERS SELFSTANDIGHEID


Ons praat dikwels oor die gesin, huwelik, die vrou, die Pa in die huis, ens. Hierdie stuk is weereens vir die Pa van die huis (of die Ma as daar nie ‘n Pa is nie) en vandag vra ek vir jou: “Pa, as hoof van die huis, is jy besig om jou kind te leer om eendag die hoof van sy huis te kan wees?” 

Spreuke 2:1-11 My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, 2hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. 3Roep insig by, vra na gesonde begrip. 4Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ’n verborge skat. 5Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken. 6Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig. 7Hy laat eerlike mense sukses behaal  en Hy beskerm dié wat onberispelik lewe. 8Hy sien toe dat reg geskied, Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars. 9As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly. 10Die wysheid sal sy plek in jou lewe inneem, kennis sal vir jou iets aangenaams word, 11oordeelkundigheid sal oor jou wag hou en verstandigheid sal jou bewaak. 

Hoor hoe mooi praat Salomo uit sy posisie as pa met sy seun. As jy verder lees in Spreuke sal jy sien dat ‘n klomp hoofstukke begin met “My seun....”. Salomo het sy seuns geleer van God, van wysheid, van insig, van lewenswaarhede. Daar was lering, waarskuwings, bemoedigings en goeie raad. Dit is wat God vir ons as ouers in gedagte het. Ek het anderdag gepraat oor die rol van die pa in die huis: terwyl ma die sagte een is wat altyd wil koester, beskerm en bietjie bederf, is Pa die ongewilde een wat so bietjie harder optree, makliker straf en rigting wys. Hoekom? Want God het die man so gemaak om die gesagsfiguur te wees, om kinders selfstandig en verantwoordelik die lewe en toekoms in te stuur. Dit werk so in die diereryk ook.  

Wat is die beste geskenk wat jy vir jou kind kan gee? Ja, natuurlik om hom van die Here te leer, en Hom as Saligmaker aan te neem. Maar verder om selfstandig en verantwoordelik te wees. 

Gen 2:24  Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. 

Kan jy sien wat God se bedoeling hier is? Die volgende:

  1. Hy sal sy pa en ma verlaat. Kan jy sien dat dit God se bedoeling is dat die kind so verantwoordelik  groot gemaak word dat hy/sy ‘n onafhanklike lewe kan voer? Dit hang van ons as ouers af of ons ons kinders daarvoor voorberei.

  2. Hy sal saam met sy vrou lewe. Hy sal vir sy vrou sorg. Hy moet sy ouerhuis verlaat om sy eie huishouding te vorm en te bou.

  3. Hulle sal een word. Mal 2:15 “En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees wat Hom eer”. Kan jy sien, Ma en Pa, dat dit is wat die Here se bedoeling is? Daar staan in Genesis dat die mens moet vermeerder en die aarde vul. Ons kry nog bietjie baie huise waar dit gaan soos in Dallas se Southfork – almal bly saam. In hierdie gedeeltes lees ek baie duidelik dat die ouers die plig het om hulle kinders te leer om onafhanklik en selfstandig te wees en hulle selfs weldra uit die nes uit help.

'n Kind moet nie met 'n stuk draad aan ons vasgemaak word nie, maar met 'n rek, sodat hy/sy steeds die gebondenheid van die ouerhuis kan ervaar, en kan wegbeweeg sonder om die bande te breek.

Weet jy wat is die ander bonus in hierdie prentjie? As ons ons kinders leer van selfstandigheid, en hulle verlaat iewers die huis, word manlief en vroulief wat agterbly ook weer een en kan werk aan hulle oudag saam!

Spreuke 4:4 My vader het my toe ook geleer en vir my gesê: “Wat ek jou sê, moet jy vashou, my voorskrifte moet jy uitvoer, sodat jy werklik kan lewe 

Kom ons kyk hoe werk dit in die natuur. Wat maak ‘n arend met hulle kleintjies? Pa en Ma versorg daardie kleintjies, hoog teen die kranse in ‘n nes. Hoekom hoog? Omdat die arend, net soos die mens, sy kleintjies teen gevare wil beskerm. Moenie gaan sukkel by ‘n arend se nes nie, jy soek moeilikheid. En as daardie eier uitbroei, dan maak Ma en Pa baie seker dat die kleintjie net die beste versorging kry. Ma gaan spog dadelik by die ander wyfies oor die pragtige vere wat uitkom, maar Pa hou die vlerke dop, want daardie vlerke sal verseker dat die kleintjie eendag sal oorleef. En dan, op ‘n dag, kry die arme kleintjie die skok van sy lewe – hy word uit die nes geskop, en soos hy grond toe tuimel, het hy net een opsie, en dit is om te vlieg! Gelukkig is die ouers daar om onder hom in te kom en hom te vang as iets verkeerd sou loop. En so leer hy vlieg. Hy het nie ‘n keuse nie. Is dit omdat sy ouers wreed is met hom? Nee, natuurlik nie. Gebeur dit eers wanneer hy oud is? Nee, terwyl hy nog jonk is word hy van oorlewing geleer. Los hom te lank in die nes, dan vlieg hy nooit; dan word hy ‘n parasiet. Leer hom betyds en hy sweef soos ‘n arend!

Kom ons kyk na leeu se kind: wanneer die welpies gebore word, sorg die mannetjie dat sy nageslag voortplant. As daar ander mannetjies in die omgewing is, sal hy sy eie kleintjie doodbyt om seker te maak dat dit sy nageslag (en goeie gene)voortplant. Die ma leer die kleintjies van jongs af om te jag. Hoekom? Vir oorlewing. Intussen maak Pa seker dat hy die gebied beheer waar hy koning kraai. Hier kom die interessante ding – die mannetjie sal sy kinders, sodra hulle groot genoeg is, uit die gebied, wat hy beheer, verdryf. Hulle moet weer hulle eie gebied gaan afbaken waar hulle kan voortplant en beheer uitoefen. Alles ter wille van oorlewing. 

So moet ons ook ons kinders as verantwoordelike, selfstandige volwassenes die lewe instuur, sodat hulle nie parasiteer nie. Deur ons oorlewingsdrang op ons kinders oor te dra, bepaal ons ons kinders se toekoms. Het jy al die gehoor van die uitdrukking “you must be cruel to be kind?” Dis die pa se rol, sodat hy kan seker maak dat sy arend vroeg-vroeg sal kan vlieg, of dat sy welpie gou in sy eie gebied kan heers. DIT is wat ‘n pa trots kan maak: as sy kinders selfstandige volwassenes word.
 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)