LEWE UIT SPREUKE – 11 Augustus 2010 


Ek lees ‘n boek van Bill Hybels met die titel: “Lewe met Oorgawe: praktiese lewenswysheid uit Spreuke”. Dit is pragtig en prakties. Spreuke en Prediker is inderdaad wonderlike boeke wat geen slimmigheid of kennis verg nie. Dit bevat bykans geen beloftes nie en werk eintlik hoofsaaklik met “bullets”. Alles word puntsgewys gegee: doen dit, moenie dat doen nie, oppas hiervoor, maak sus of maak so. Dit praat oor bykans elke faset van die lewe. Op party dinge lê dit baie sterk klem, bv. eerlikheid, integriteit, wysheid en kennis, harde werk, ens. Dan waarsku die boek aanhoudend teen verkeerde verhoudings, in besonder buite-egtelike verhoudings (iets wat vandag al amper alledaags word, en so amper mode). Spreuke is nie net deur Salomo geskryf nie, dis ‘n bundel van spreuke deur verskillende mense. Sommige van die goed word op só kostelike wyse beskryf. 

Spr 6:24-35
My onderrig sal jou beskerm teen die slegte vrou van 'n ander wat jou met haar gladde tong wil verlei.
Moenie dat haar skoonheid jou begeerte wek nie, moenie dat sy jou vang met haar oë nie.
Jy kan 'n prostituut kry vir 'n stuk brood, maar owerspel kan jou lewe kos.
Kan jy kole vuur in die vou van jou klere inhark sonder dat jou klere aan die brand raak?
Kan jy op brandende kole loop sonder dat jy jou voete verbrand?      
Net so min kan jy by 'n ander man se vrou slaap sonder om gestraf te word, jy sal nie vry kom as jy met haar lol nie.            
'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit.  
Maar 'n man wat owerspel pleeg, moet van sy verstand af wees, iemand wat dit doen, verwoes sy lewe.  
Hy sal slae op die lyf loop en verneder word, sy skande sal nooit uitgewis word nie.       
Die woede van die vrou se man is 'n gloeiende vuur, sy wraak ken nie perke nie; hy laat hom nie afkoop nie, geen betaling is vir hom genoeg nie.

Jy kan ‘n prostituut kry vir ‘n stuk brood. Kan jy kole in jou klere inhark sonder om te brand? Hy sal slae op die lyf loop.... is dit nie só waar nie? Hy praat van owerspel, van ‘n man wat by ‘n ander man se vrou slaap, alles in een sin. Dit lyk my eintlik of hy so ‘n vrou gelykstel aan ‘n prostituut. In vers 24 praat hy van ‘n “slegte vrou van ‘n ander”. Hy praat reguit, op die man af hieroor. In Spreuke 5:15 sê dit “Jy het tog self ‘n vrou, jy het tog self ‘n put met water". Meneer en Mevrou, moenie draaie loop met die Here nie, reg is reg, en verkeerd is verkeerd. Oppas vir die sms’e en e-posse wat jy aanstuur. Oppas vir praatjies met iemand van die teenoorgestelde geslag, moenie onbetaamlike onderwerpe aanraak in gesprekke nie.  

Spr 23:29-25
Wie is dit wat sug en steun, wat rusie maak en kla, onnodig seerkry en bloedbelope oë het?
Dit is dié wat tot laat sit en drink, dié wat aanhou proe aan drank.
Moenie dat die wyn jou verlei as dit so rooi is, so vonkel in die beker, so lekker smaak nie.     
Agterna pik hy soos 'n slang, spoeg hy gif soos 'n kobra.            
Dan sien jy vreemde dinge en praat jy verkeerde dinge; dit voel of jy op die oop see lê, of jy bo-op 'n seilskip se touwerk lê, en jy dink: ek het dan nie seergekry toe hulle my geslaan het nie; ek het nie gevoel toe hulle my aangeval het nie! Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.  
           

Drank – gesondheid-verwoester, huwelik-opbreker, gesin-vernietiger, waardigheid-aantaster. Sien jy hoe pateties word hierdie figuur in Spreuke 23 beskryf? Sjoe, hierdie ou gooi woes sy naam weg. Bloedbelope oë, onvas op sy voete. As ‘n mens wat drank misbruik hierdie deel lees, sien jy jouself in ‘n spieël wat net eenvoudig nie lieg nie. Dit voel of jy op die oop see lê. Wanneer word ek wakker? Ek wil maar weer iets gaan soek om te drink.... Hierdie man of vrou is ‘n “disgrace” vir sy/haar familie, en kinders. Soos ‘n ou wat so dronk was, toe hy omval het hy gelê en slinger! Hoekom praat die Here so ernstig daaroor? Ek dink omdat dit so baie lewens verwoes. ‘n Outjie wat my so nou en dan gehelp het in my besigheid is onlangs dood in ‘n ongeluk. Die ander bestuurder het na drank geruik. ‘n Lewe tot ‘n einde. Dalk net so erg is dit wanneer jou kinders se lewe verwoes word deur jou drankgebruik, al gaan hulle nie dood daarvan nie. Die kinders van ‘n verslaafde se lewens word verwoes, hulle menswaardigheid word afgebreek – en dit is so onnodig. 

Spr 6:6-11
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.
Hy het nie 'n leier nie, nie 'n opsigter of 'n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos 'n rower, daar oorrompel die gebrek jou soos 'n inbreker.


Werk, werk, werk. Gaan kyk na die mier, luiaard. Hy het nie ‘n baas nie, niemand hoef hom te “supervise” nie, of te regeer nie – hy sorg vir sy kosvoorrade. Ek gaan ‘n stelling maak wat baie mense my voor sal kwalik neem: nie almal wat op die straathoek staan en bedel moet gehelp word nie. Party miskien wel, maar nie almal nie. Moenie te skuldig voel as jy nie hierdie bedryf finansier nie. As die Here by geleentheid vir jou sê om te gee, dan gee jy.  

Lees wat 2 Tess 3:6-7 sê oor mense wat leeglê. Vers 10 sê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie” Ek dink die onderskeid lê in die woord “wil”. Party mense hét nie werk nie, maar party WIL nie werk nie. En dan is daar die wat werk toe gaan, en nie werk nie!  Hier is vir jou ‘n moedswillige vraag: het jy al jou produktiwiteit in ‘n persentasie bereken? Party mense wérk nie baie ure nie. As jy nie plant nie, sal jy nie oes nie. Die Bybel sê mos: in die sweet van ons aangesig ...

Spr 14:12 & 16:25
Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.

‘n Mens kan maklik rasionaliseer. Alles wat ons verkeerd leef, kan reggepraat of geregverdig word. Christene verneuk mekaar, openlik, en kom weg daarmee. Het jy al gehoor van iemand wat deur sy vennoot ingeloop is? Waarskynlik al baie. Het jy al ooit die skelm vennoot ontmoet? Iemand wat sê: sjoe, ek het my vennoot kwaai te na gekom? Waarskynlik nie. Ek dink dit is waarna hierdie spreuk  verwys. Dit lyk so reg, maar dis so verkeerd. Ons as Christene het nou maar eenmaal voete van klei. Ons benadeel mekaar en knip nie ‘n oog daaroor nie, want ons lewenswyse lyk vir ons so reg. As jy by daardie punt kom, kan jy dalk nie meer tussen waarheid en leuen onderskei nie. En as geld deel word van hierdie ding, is daar nog groter moeilikheid.  Spreuke 15:16 sê: liewer min hê en die Here dien, as groot rykdom en bekommernis daaroor. 

So handel die hele boek Spreuke oor riglyne vir die lewe. Lees dit en leef dit.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)