MENS, WAAR IS JY?


Mens, waar is jy? Waar kruip jy weg? Hoekom kruip jy weg?

Gen 3:6-13, 23-24
Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.
Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin.
Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: "Waar is jy?"
En die mens antwoord: "Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip."
Die Here God vra toe: "Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?"
Die mens het geantwoord: "Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet."
Toe vra die Here God vir die vrou: "Wat het jy nou gedoen?" en sy sê: "Die slang het my mislei, en ek het geëet."

Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is.
Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Ons lees hier van die sondeval. God skep vir die mens 'n oase om in te woon. Die beste van die beste woonplek denkbaar. Hy gee vir die mens alles wat hy nodig het in oorvloed. Al wat Hy vra, is gehoorsaamheid. Maar die mens is swak. Hy en sy vrou sondig en word uit die paradys uitgedryf. Die mens gee die beste van die beste op om kortstondig sy sondetjie te geniet. Hy verloor alles, in ruil vir 'n sondige genieting.

Klink dit nie bekend nie? Toe hy sonde doen, toe kruip hy weg vir God … kan jy glo? Hy probeer vir God wegkruip! Net so doen ons vandag: ons maak droog, sit geweldig baie op die spel, en dan kruip ons weg. En dan, in die stilte van die aandwind, kom 'n stem "Mens, waar is jy?"

Kyk wat gebeur hier: God gee 'n opdrag, wat tot die mens se eie voordeel is, maar die mens kies die teendeel. God straf die mens, maar Hy maak hom nie dood nie. God se genade was reeds daar vir die mens. Ten spyte van die mens se verkeerde keuse, soek God die mens op met "waar is jy?", Hy red die regverdiges in die groot vloed, later sluit Hy 'n verbond met Abraham, en dan stuur Hy Sy Seun vir finale versoening.

Mens, waar is jy? Woorde wat vandag steeds van krag is. God soek na die mens om hom te red uit sy sondige bestaan. Hoekom? Omdat dit tot die mens se eie voordeel is, en omdat God liefde is, 'n genadige God.

Adam en Eva verloor hulle "mansion". Dawid sondig en verloor nog meer:

2 Sam 11:2-4
Eendag het hy na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan rondstap. Van die dak af het hy 'n vrou sien bad. Sy was 'n baie mooi vrou.
Dawid het oor haar laat navraag doen, en iemand het gesê: "Dit is Batseba dogter van Eliam, die vrou van Urija die Hetiet."
Dawid het toe amptenare gestuur en haar laat haal. Dit was nadat sy haar reinigingsbad geneem het na haar maandstonde. Sy het na hom toe gekom, en hy het by haar geslaap. Daarna is sy terug huis toe

Dawid pleeg owerspel, en dan begin 'n verwoestende kringloop. Die vrou word swanger. Dawid probeer dit toesmeer deur Batseba se man na die voorste linies te stuur sodat hy daar kan sterf. TOE begin Dawid se verliese oor sy sonde:

2 Sam 12:7-14
"Jy is die man!" sê Natan toe vir Dawid. "So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm.
Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee.
Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so 'n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.
"Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.
"So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot,
want jy het 'n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen."
Toe sê Dawid vir Natan: "Ek het gesondig teen die Here." En Natan sê vir hom: "Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.
Maar omdat jy deur hierdie daad die vyande van die Here aanleiding gegee het om Hom te laster, sal hierdie selfde kind wat vir jou gebore is, sterwe."

En toe sterf die kind. Só baie verloor vir een onbesonne daad. Bietjie plesier, baie verlies.

Hoekom sukkel ons armsalige mensdom dan só verskriklik? Hoeveel moet ons nog verloor voordat ons gaan besef dat God die beste vir ons in gedagte het? Dit is omdat God só lief is vir ons, dat Hy so ernstig oor sonde is. Kan jy sien dat die Here ons teen onsself wil beskerm wanneer Hy gehoorsaamheid vra? Die Here is duidelik in die Bybel dat ons nie met sonde moet speel nie.

In Genesis word Adam en Eva uitgevang, dan probeer hulle die verantwoordelikheid vermy deur die slang die skuld te gee, Klink dit nie bekend nie? Het jy ook al gehoor mense sê: "die duiwel het my verlei" , of die duiwel het my sus of so laat doen? Nee jong, die nie die duiwel se skuld nie - dis sommer ons self wat die verkeerder keuse maak.

Mens, waar is jy? God die Vader is soekend na Sy kinders, Hy wil hulle teen hulleself beskerm. Hy is nie 'n kwaai God wat met die sweep wag om te straf nie. Nee, Hy is 'n liefdevolle God wat met oop arms wag vir my en jou om terug te kom in Sy arms in.

Ps 51:1-7
Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid, na aanleiding daarvan
dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba.
Wees my genadig, o God in u troue liefde, wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid!
Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!
Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.
Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.
Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.

Ps 51:18-21
'n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; 'n brandoffer wil U nie hê nie.
Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.
Laat Sion u liefde en u goedheid ondervind: herbou tog die mure van Jerusalem.
Dan sal die offers wat voorgeskryf is, weer vir U aanneemlik wees: offerdiere wat heeltemal verbrand word. Dan sal hulle weer bulle op u altare offer.

God soek verootmoediging. Wanneer Hy vra: "Mens, waar is jy?", is dit nie met veroordeling en haat nie. Nee, as Hy dit vra is dit om die verlore skaap te gaan soek. Dis wanneer Hy die 99 ander skape los om die een wat weggedwaal het te gaan opspoor. Dit is soos die pa van die verlore seun wat dag vir dag in die pad afkyk en wag … Jy sien, ten spyte van hoeveel God sonde haat, laat Hy steeds die keuse vir jou en my om terug te draai. "Mens, waar is jy?", is 'n liefdevolle soek na sy kinders se aangesig.

Die Here se beloftes vir vergifnis kom van die oudste tye af:

Jes 1:18-20
Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.
As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet,
maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gesê het.

God vra: "Mens, waar is jy?", want Hy wil Hom in liefde oor ons ontferm. Hy wil nie hê dat ons nog meer moet verloor nie, daarom roep Hy in die aandwind - Hy wil ons naby Hom hê.

Onthou die volgende:
1) Dit maak nie saak wat ons aangevang het nie, dis nie te laat vir vergifnis nie.
2) Dit maak nie saak waarin, of hoe diep ons geval het nie, God sál vergewe.
3) Géén probleem is te groot om met die Here uit te klaar nie - Hy het die oplossing vir alles.
4) Geen saak is vir God 'n verrassing nie - Hy het alles al gesien, Hy weet alles.
5) Die Here is nie liewer vir die "goeie" mense nie. Hy haat sonde, maar Hy haat nie die sondaar nie.
6) Dit is nooit te laat vir terugdraai nie.
7) God hou geen sonde of enige iets uit jou verlede teen jou nie.
8) God kan ons gebruik, ten spyte van wie of wat ons is. Iemand met 'n slegte verlede, is iemand met 'n goeie getuienis.
9) Wanneer ons vir Jesus vergifnis vra, en ons sonde neerlê by die kruis, is dit afgehandel – dan is ons wit soos wol.
10) As ons tot bekering gekom het, en vir Jesus as Saligmaker aanneem, veg ons nie meer alleen die stryd nie.

God, die Vader, vra: "Mens, waar is jy?" Jesus sê: "Mens, volg my" … een ry spore. Veilig in Jesus se arms.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)