MET WATTER WAPENRUSTING? - 23 Julie 2008


Met watter wapenrusting gaan jy in die geveg in? Jou wapenrusting berei jou voor, en bepaal jou strategie. Dit gee jou 'n voorsprong, óf 'n nadeel. Dit laat jou offensief of defensief veg. Die wapenrusting moet pas by die gevegsplan, die terrein, die aanslag en die vermoëns waaroor jy beskik.

Ons is in 'n geveg. Ons almal! En … anders as wat jy dalk mag dink, praat ek nie vandag oor die Christen se wapenrusting van Efesiërs 6 nie. Ek praat doodeenvoudig oor die moeilike tye van vandag. Hierdie geveg wat jou in 'n drukgang vasgeknel hou. Die onsekerheid oor jou werk, te min geld (ja, en dit is deesdae omtrent almal se probleem, né?), alles rondom jou wat jou dalk onderkry. Die geveg om oorlewing. Daarom vra ek weer: met watter wapenrusting vat jy hierdie geveg aan? Verskillende mense gebruik verskillende strategieë: sommige onttrek in 'n "bunker" onder die grond - die skote klap om hulle, maar soos 'n volstruis met die kop in die sand, sit hulle en wag dat die geveg oorgaan. Sommige vlug, en hoop die geveg sal agterbly - iets wat selde gebeur. Ander probeer om hulle uit die ding uit te onderhandel. Nóg ander steek die wit vlag op en gee oor. En dan kry jy dié wat bereid is om terug te veg, om moeilike tye en swaarkry tromp-op aan te vat. Hoe lyk jou lewensomstandighede vandag? Is jy op moedverloor se vlakte? Lyk môre stikdonker? En hoe lyk jou wapenrusting …? Jou gevegsmondering?

'n Geveg is net die moeite werd as daar 'n kans is dat jy dit kan wen. Ek gee vandag vir jou net een enkele teks wat jou kan laat wen: "Hou vas aan die geloof, en behou 'n goeie gewete" (1 Tim 1:19) Kragtige woorde - iets waaraan elkeen van ons maar kan vashou in die huidige oorlewingstryd.

Wat jou geveg ook al mag wees, vra jy seker ook vrae soos: "Waar gaan hierdie geveg heen? Het hy 'n einde? Het ek 'n kans om te oorleef? Gaan dit finansieël ooit beter gaan? Sal ek weer werk kry? Gaan ek my huwelik deur hierdie stormwater kry?" Ek glo die antwoord is JA, as jou wapenrusting reg is. Niemand van ons het gevra vir hierdie omstandighede nie, en dalk het jy nie veel daartoe bygedra dat jy hierin beland het nie. Die punt is net, veg sal jy moet veg! Elke dag, elke oomblik, sal jy die storms moet miskyk en 'n stukkie lig sien deurbreek. Al lyk dit hoé donker. Baie hang af van jou gevegsplan .. daarom is die "bunker" nie 'n opsie nie, ook nie die wit vlag nie, ook nie onderhandelings nie. Net vasbyt, hakke inkap, swaard in die hand, geloof in plek, reg vir die stryd. Veg of gaan lê - wat kies jy?

Met watter wapenrusting kan jy veg teen swaar tye? Hier is 'n paar praktiese punte:

1) Merlin Carothers skryf in die boek "Prison to Praise" dat jy die Here moet prys as iets sleg met jou gebeur … want, jy ken nie die uiteinde nie. Dalk sal jy soos miljoene ander kan sê "Die swaarkry was die moeite werd". 'n Moeilike een! Begin vandag om die Here te prys vir jou moeilike situasie, al klink dit onlogies. Prys die Here, en wag geduldig vir die uitkoms.
2) Hou vas aan die geloof (en 'n goeie gewete) Glo, vertrou roekeloos op die Here. Glo en wéét dat die Here enige slegte situasie reg kan draai. Jesus kan enige storm laat bedaar. Onthou jy toe Jesus en die dissipels op 'n skuit in die storm beland het? Hy het geslaap totdat die dissipels Hom paniekerig wakker gemaak het. Eers toé het Hy die storm laat bedaar. Op 'n ander keer het Hy sommer op die water geloop, in die storm. Jy sien, hierdie twee gedeeltes is net vir my die bewys dat Jesus altyd bokant die storm verhewe is. Al is die storm hoé groot, Hy sal nie verswelg word nie, en as Hy in jou bootjie is, sal jy ook nie ondergaan in die storm nie.
3) Behou 'n goeie gewete. 'n Goeie gewete impliseer integriteit. Moet dus nooit jou integriteit prysgee in moeilike tye nie. Wees altyd eerlik, eerbaar en opreg, maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie.
4) Moenie jou selfrespek verloor nie, al is dit ook hoe moeilik om jou ken hoog te hou. As jy selfrespek verloor, breek dit dalk ook jou selfbeeld af.
5) Besef dat die moeilike tye bykans altyd net tydelik van aard is. Dit gaan weer oor! Jy het seker ook gesien op die nuus dat mense gister uit 'n brandende gebou gespring en hulle lewens verloor het. Hulle sou heel waarskynlik oorleef het as hulle net nog 'n bietjie langer kon uithou, en kon wag vir hulp om op te daag, of vir die brand om hom uit te woed. Moeilike tye gaan oor, al kan jy nie bereken hoe dinge gaan uitwerk nie.
6) Kyk terug na vorige "gevegte", en onthou hoe die Here jou gedra het. Kyk terug na Sy "track record" … ook hierdie keer sal Hy jou beslis nie teleurstel nie.
7) Praat positief. Negatiewe woorde bring jou nêrens nie, dit breek net jouself en almal om jou tot in die grond in af. Nogal vreemd dat positiewe mense gewoonlik as oorwinnaars uit die stryd tree. Moenie deelneem aan negatiewe gesprekke nie.
8) Behou jou trots, al is omstandighede sleg. Ruggie reguit, ken omhoog! Moet nooit opgee nie. Behou jou trots, maar oppas dat trots nie jou ondergang beteken nie - moenie te trots wees om hulp te vra nie, moenie te trots wees om jou probleme met iemand te deel nie.
9) Probeer weer iets nuuts aanpak … en weer, en weer. Nie alles sal misluk nie.
10) Doen steeds klein, goedkoop, lekker dingetjies saam met jou geliefdes. Moenie toelaat dat ál jou pret bederf word deur jou probleme nie
11) Moet nooit ophou vertrou en glo nie.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)