MISSIE STELLING


Elke maatskappy het 'n visie- en missie-stelling. Kort en kragtig beteken dit: waarheen is jy op pad, en hoe gaan jy daar kom? Nou ja, hierdie hele ding gaan uit die aard van die saak oor keuses. Jy maak 'n keuse van waarheen jy op pad is, en kies dan dag vir dag om op daardie pad te bly. Ek wil nie per definisie praat oor saligheid nie, maar eerder oor ons dag tot dag lewe. Natuurlik is my visie die ewige lewe (dit waarheen ek op pad is), en ek moet die pad hemel toe stap. Maar, nou, hier op aarde, is die vraag wat gaan ek doen om goed te eindig? Ek gaan 'n besluit neem, en ek gaan daarby bly.

Ef 4:25 - 5:5
Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.
As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie.
Moenie die duiwel vatkans gee nie.
As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.
Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.
Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie.
Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.
Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.
Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as 'n offergawe gegee het, ja, 'n offer wat vir God aanneemlik was.
Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie.
Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle.
Dít moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of 'n gierigaard is - want gierigheid is afgodery - het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Riglyne vir die nuwe lewe, noem Paulus hierdie gedeelte. Dit is sekerlik 'n skitterende visie - om goed en skoon te lewe. Dan noem hy 'n klomp punte wat ons kan sê sy missie is - hoe om die nuwe lewe te lei. Hy sê jy : 1) moet die waarheid praat 2) moenie sondig as jy kwaad word nie 3) moenie 'n dag kwaad afsluit nie 4) moenie die duiwel 'n vatkans gee nie 5) moenie steel nie 6) moet iets vir die armes oorhou 7) moenie vuil taal gebruik nie 8) moet opbouend praat 9) moenie die Heilige Gees bedroef nie 10) moenie verbitterd, opvlieënd, woedend word nie 11) moenie vloek, skel of iets sleg doen nie 12) moet goedgesind wees 13) moet vergewe 14) moet lief wees vir dié om jou 15) moenie ontugtig, onsedelik wees nie 16) moenie gierig wees nie.

Paulus het hierdie goed mooi beskryf as 'n missie stelling. Ek wil dit bymekaartrek in die volgende woorde as my missie stelling: Ek wil nie opfoeter nie. Ek wil nie my lewe opfoeter nie, en dus ook nie ander mense in my lewe opfoeter nie.

Ek wil nie my huwelik opfoeter nie. Dis maklik om jou huwelik op te foeter. Dit begin as respek vir jou lewensmaat begin kwyn. Wanneer daardie aanvanklike vlammetjie begin blus. Dan tree ge-irriteerdheid in, onttrekking volg, kommunikasie begin verdwyn, en eventueel is intimiteit iets van die verlede. Dan .. kom Poppie by die werk op die toneel, of die frisgeboude Adonis. Eers is dit net praatjies, dan ongesonde geklets of grappies, dan praat jy uit die huis uit, en woep-wap, is julle bagasie op mekaar verlief. Die huwelik is nou amptelik opgefoeter, en ou sekelstert sit lekker en giggel in sy hoekie. Nee, kom ons maak dit reg! Ontdek mekaar opnuut, ontdek weer dit wat julle aanvanklik na mekaar toe aangetrek het. Besluit om dinge sáám te doen, ontdek mekaar se liefdestale - party mense hou van drukkies en aanraking, ander van geskenkies ontvang, ander van onverdeelde aandag, ander van mooi woorde en ander hou daarvan as jy hulle help. Doen vir mekaar wat jy weet vir die ander een belangrik en lekker is. Ontwikkel die beste in jou lewensmaat. Verander JY eerste, dan sal hy/sy ook verander. Ek wil nie my huwelik opfoeter nie, want ek wil nie ongelukkig wees en eendag alleen oud word nie.

Ek wil nie ander verhoudinge opfoeter nie. Ek wil vir my kinders 'n Pa wees - daarom moet drank gou-gou iets van die verlede wees. Drink liewer te min as te veel, of nog beter, drink liewer niks. Niemand het nog ooit iets oorgekom van te min alkohol nie. Die beste Pa wat ek vir my kinders kan wees, is een wat hulle respekteer, en ook hulle Ma respekteer (al is julle geskei). Ek wil nie my kinders se respek verloor deur 'n slegte voorbeeld te stel nie. Nee, maak reg, begin nuut!

Ek wil nie my verhoudinge met my kollegas opfoeter nie. Ek wil dáár wees as my vriend my nodig het. Dis nogal sleg om jou vriend se ondergang te bewerkstellig - dis maklik om dit te doen: lei hom net in die versoeking met "kom maak 'n dop saam met my", of "gaan saam met my na die strip-klub", ens. Jy kan ook sorg dat jy hom weghou van sy gesin af met sport of ander aktiwiteite. Nee, ek wil 'n vriend wees waarop iemand kan staatmaak, veral in moeilike tye. Ek wil nie verhoudinge opfoeter nie.

Ek wil nie myself opfoeter nie. Dis maklik om jouself op te foeter… voorkom dit deur altyd selfrespek te handhaaf. Dis nogal sleg as iemand anders jou afbreek a.g.v. jou lewenstyl of optrede. Selfwaarde is iets wat mens in jouself opbou en ontwikkel. Om te leer om altyd tevrede te wees is een van die belangrikste beleggings wat jy in jouself kan maak. Wees altyd positief en optimisties. Nee, kom ons bou onsself weer van nuuts af op.

Ek wil nie my verhouding met God opfoeter nie. Hoe nader ek aan hom leef, hoe beter word al die res van my missie stellings. Foeter jy ander goed op, dan taan jou verhouding met die Here outomaties. Tyd saam met die Here maak dat ek Sy stem beter kan hoor, dan wéét ek mos wat die regte pad is. Neem Hom as jou Verlosser aan, dan eindig jy in elk geval op die regte plek. Maak Sy kinders seer en die verhouding met Hom is in gedrang. Loop op die breë pad (dis mos die een wat so lekker loop), en jy sien gou-gou dat die nou pad nie eers meer in sig is nie. Stomp jou geestelike lewe af, en ál die ander aspekte van jou lewe kom in die moeilikheid. Nee wat, kom ons maak reg met God. Besef dat Hy God is, ken Sy Seun, Jesus Christus, bid vir die Heilige Gees om jou lewe vol te maak, en dit raak al hoe makliker om nie meer op te foeter nie.

Dis beter om goed te eindig as sleg - logies, of hoe? Wel as dit so is, hoekom maak ons dan so baie droog? As 'n goeie huwelik aangenaam is, hoekom foeter ons dit dan op? As ons lief is vir ons kinders, hoekom is ons voorbeeld so sleg?

Kom ons maak vandag besluite oor ons missie, en implementeer dit vandag, en geniet 'n goeie lewe.

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)