MOSIE VAN VERTROUE IN GOD

Ps 125:1-2
Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.

Vertrou jy die Here? Vertrou jy óp die Here? Is jy bereid om te aanvaar dat God in beheer is? Glo jy dat God kan, en sal doen wat Hy belowe het in jou lewe? Kan jy onomwonde 'n mosie van vertroue in God stel? … 'n mosie van vertroue, of 'n mosie van wantroue? Wat beteken dit? 'n Mosie van vertroue beteken ek vertrou totaal op die persoon se integriteit, en op sy vermoë, ek vertrou in sy leierskap. Dus, ek is bereid om agter hierdie persoon aan te stap. 'n Mosie van wantroue beteken dat jy glad nie meer in hierdie persoon glo nie, nie meer dink hierdie persoon kan sy woord gestand doen nie, en dan die ergste, jy bejeën hierdie persoon met agterdog. As hierdie persoon iets sê, trek jy 'n wenkbrou op. So 'n persoon het al net té veel teleurgestel, té veel nie sy woord gehou nie. Hy is nie navolgenswaardig nie. Ek het die afgelope paar dae myself gaan ondersoek, en gevra: "Stel ek onomwonde 'n mosie van vertroue in God?" Ek het ongelukkig nie in my eie oë by die regte antwoord uitgekom nie.

Spr 3:5-6
Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.

As ek dit waaragtig sou regkry, en volkome glo dat dit waar is, en dat die Bybel die regte voorskrif gee, sou ek kon sê dat ek 'n mosie van vertroue in God stel. Volkome. Maar … ek sukkel, ek maak só baie op my eie insigte staat. Ek maak só baie planne op my eie. Ek wil altyd 'n plan B opstel vir ingeval God nie na wense presteer nie. Ek dink ek stel Hom nogal teleur.

Om 'n mosie van wantroue in iemand te stel, beteken dat jy dink dat daar iemand anders is wat die werk beter kan doen. En daardie iemand, is dikwels ekself.

Jes 2:22
Moenie op mense staatmaak nie: hulle blaas so maklik die laaste asem uit. Hulle is min werd.

Is dit nie só waar nie? Watter mens wat reeds afgesterf het kan my en jou lewe verbeter of bystaan, of iets vir ons doen? Niemand nie, of hoe? Maar God, wat was en wat is en wat kom, wat gister, vandag en more dieselfde is, Hy kan! Wat is dan fout met my? Hy wat 'n onfeilbare rekord het, wat geen mens skade sal aandoen nie, wat miljoene mense aanraak en omstandighede bonatuurlik verander, Hy is mos waardig om vertrou te word.

Wie is Hy, wat maak Hom so besonders?

Jes 40:18, 22-26
Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld kan julle Hom gelykstel?
God het sy troon bokant die hemelkoepel, die aardbewoners is vir Hom soos sprinkane. Hy span die hemel oop soos 'n tentdoek, oop soos 'n tent vir die mense om onder te woon.
Hy maak die vername mense tot niks, die heersers van die wêreld asof hulle nie bestaan nie.
Skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars het hulle wortelgeskiet, of Hy blaas sy asem oor hulle, en hulle verdor, die stormwind vat hulle weg soos stoppels.
Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige.
Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie.

As ek DIT glo, móét ek mos aanvaar dat Hy groter is as enige mens, dat Hy almagtig is, en dan wéét ek mos dat dit die moeite werd is om Hom te vertrou. Volkome! Hoekom doen ek dit dan nie? Hoekom luister ek eerder na mense? En na myself? Hoekom maak ek dan op my eie insigte staat?

1) Miskien omdat ek selfsugtig is, en nét wil hê dat dinge moet gebeur soos ék wil. Miskien is dit omdat ek net vir myself leef.
2) Dalk is dit ongeduld. Here, hier is die probleem .. en hier is sommer die oplossing, doen dit asb. NOU! Dit lyk my ek het verleer om te wag.
3) Miskien is dit omdat ek te min terugkyk, en my geheue so sleg is. Jy sien, die Here het my nog nooit, nooit, ooit teleurgestel nie. Hy het nog elke enkele belofte nagekom, maar altyd op 'n beter tyd as wat ek wou hê. Maar dit lyk my my geheue is swak. Ek hoef net terug te kyk en te onthou, en ek sal onomwonde 'n mosie van vertroue in God kan stel.
4) Miskien is dit juis omdat ek te ver in die toekoms wil inkyk, en eerder vir (en in) môre wil leef, as vir vandag. Gister is verby. More gaan dalk nooit eers gebeur nie. Ek het net vandag. "Yesterday is history. Tomorrow is a mystery. Today is a blessing".
5) Miskien vertrou ek nie op die Here nie, omdat ek die toekoms benader met die gedagte dat ék weet hoe dit moet lyk. As ek volkome op die Here vertrou, is daar 'n ruimte vir 'n interessante, opwindende, aangename pad, vol verrassings … dalk miljoen keer beter as wat ek dink. Ek beperk as't ware die Here tot my menslike denkpatrone.

Waarvoor kan ek die Here vertrou?
1) Jes 41:9 "Ek het jou uitverkies, Ek het jou nie verwerp nie". Wow, wat 'n wonderlike, volledige, allesomvattende stelling. Ek sal nooit ooit verlore gaan nie. Hy sal my nie verwerp nie.
2) Jes 41:10 "Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God". Jitte, is bekommernis enigsins die moeite werd? Help dit? Los dit probleme op? Nee! Hoe dan? Die Here sê: "Ek is by jou. Ek is JOU God" - Hy is God vir jou, asof jy die enigste mens op aarde is.
3) Jes 41:17 "Die hulpeloses en armes soek water, maar daar is nie; hulle versmag van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle gebede verhoor, Ek die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie". Hoor jy wat sê Hy? Selfs daar waar daar nie water is nie, sal Hy voorsien. Hy verhoor gebede juis daar waar dit nie sin maak nie. Dis vertroue, om die Here se beloftes te aanvaar, al sien ek nie die water nie. As die water daar is, het ek nie veel vertroue nodig nie.
4) Jes 41:11 "Almal wat teen jou te kere gaan, sal teleurgesteld staan en die aftog blaas. Jou teëparty sal soos niks word, hulle sal omkom". Sjoe, met God saam met my, wie kan teen my wees?

Wat het ek méér nodig? Op wie sal ek vertrou? Wie is daar om op te vertrou?

Ek, Willem Botha, stel vandag 'n mosie van vertroue in God in! Dit is vandag my besluit. Ek gaan daaraan vashou, en jy?

 

Duplisering en verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur (Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za)